Glenister verloor in Valke-saak

valkeDie grondwethof het Donderdag die sakeman Hugh Glenister se aansoek om verlof tot appèl teen ʼn hooggeregshof se weiering om bepalings van die gewysigde Polisiewet ongrondwetlik te verklaar, met koste van die hand gewys.

Die Helen Suzman-stigting se aansoek om verlof tot appèl is egter toegestaan. Die appèl teen die hooggeregshof se weiering om sekere gedeeltes ongrondwetlik te verklaar is egter van die hand gewys en ʼn aansienlike deel van die hooggeregshof se bevel is bekragtig.

Die grondwethof het in sy uitspraak gelas dat sekere bepalings van die gewysigde Polisiewet ongeldig verklaar word en geskrap word. Glenister en die Helen Suzman-stigting het gepoog om die gewysigde Polisiewet ongeldig en strydig met die grondwet te verklaar. Die twee partye glo dat die Valke nie voldoende onafhanklik is nie omdat hulle onder die polisie val.

Glenister voer sedert 2008 met die ontbinding van die destydse Skerpioene verskeie hofaksies. Die Skerpioene was ʼn ondersoekeenheid wat onder die nasionale vervolgingsgesag geval het en is deur die Valke vervang. Die Valke resorteer egter onder die Polisiewet. Die gewysigde Polisiewet is opgestel nadat die konstitusionele hof beslis het die wet wat die Valke reguleer, te min onafhanklikheid bied.

Regter Siraj Desai het in Desember gelas dat dele van die wetgewing waaronder die Valke val, strydig met die grondwet is en ook ongeldig is, aangesien dit nie voldoende onafhanklikheid kan verseker nie.

Hy het ook bevind dat aspekte van Glenister se voorlegging op “onbevestigde opinie” gebaseer is. Die konstitusionele hof is versoek om Desai se bevel te bevestig maar Glenister het daarteen geappelleer.

Glenister wou hê die konstitusionele hof moet die bevel dat hy Nathi Mthethwa, voormalige minister van polisie se regskostes moet betaal, ter syde moes stel.

Glenister en die Helen Suzman-stigting het aangevoer dat die hooggeregshof se uitspraak nie voldoende is om die Valke se institusionele en operasionele onafhanklikheid te verseker nie. Die staat het die aansoek om die hooggeregshof se bevel te bevestig, teengestaan. Die staat het ook aansoek gedoen vir verlof om teen die hooggeregshof se bevel te appelleer.

Die staat het aangevoer dat die gewysigde Polisiewet voldoende onafhanklikheid vir die Valke skep en dat die doktrine rakende die skeiding van magte verhoed dat die howe oormatig voorskriftelik mag wees oor wetgewende maatreëls wat deur die staat in plek gestel is om korrupsie te beveg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.