Glibberige ryloper verras sanger in kar

Die slang wat vermoedelik drie dae lank in Andries Hendrik Potgieter se motor weggekruip het.

Die slang wat vermoedelik drie dae lank in Andries Hendrik Potgieter se motor weggekruip het.

Die sanger Andries Hendrik Potgieter het moontlik vir tot drie dae sy motor onwetend met ʼn glibberige ryloper gedeel wat vermoedelik ná ʼn musiekfees in Limpopo saam met hom en sy vrou na Pretoria gereis het.

“Ek sê vir jou, ʼn mens lag altyd vir daai Leon Schuster-flieks as die mense so uit ʼn taxi peul as hulle ʼn slang daarin sien, totdat dit met jou gebeur. Dan is dit nie snaaks nie,” het Potgieter Woensdag skertsend aan Maroela Media gesê.

Potgieter het die naweek saam met talle ander bekendes, waaronder Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld en die Campbells by die Druiwefees in Modimolle (Nylstroom) opgetree.

“Ons het Saterdagaand by ʼn lodge in die omgewing oorgeslaap en ek het my motor, ʼn Suzuki Swift, onder ʼn boom parkeer. Dit het die aand baie gereën en ek vermoed hy het uit die boom op die kar geland en vir hom ʼn plekkie binne in die kar gaan soek.”

Potgieter en sy vrou, Sya, het Sondag teruggekeer na Pretoria en die slang het tot Dinsdagaand nie sy verskyning gemaak nie. “Ek en Sya was gisteraand van die gimnasium af op pad huis toe, toe die slang in Dr. Swanepoelweg langs die Kolonnade-winkelsentrum besluit het om te loer wat aangaan.”

Andries Hendrik Potgieter. Foto: Facebook

Andries Hendrik Potgieter. Foto: Facebook

Potgieter het aan die passasierskant gesit, waar die slang sy verskyning gemaak het, en het hom aanvanklik nie raakgesien nie, omdat hy op sy selfoon besig was.

“My vrou sê so in die ry vir my, ‘My ding sit stil. Dit is ʼn slang’. Toe ek opkyk sit hy skaars 45cm van my af op die paneelbord vir my en loer.”

Hy het sy lyf so ver moontlik agtertoe teen die sitplek gedruk en vir sy vrou gesê om stil te hou. Sy het die motor in die middel van die pad tot stilstand gebring waarna albei uitgespring het.

“Ek het toe maar ʼn foto van die slang deur die windskerm geneem aangesien ek dit vir my suster, wat ʼn veldwagter is, wou stuur maar sy het nie betyds die boodskap gesien nie.”

Volgens Potgieter het hy gesien die slang het nie tande nie. Die slang was ook nie aggressief nie en hy het besluit om die slang uit die voertuig te probeer kry omdat hy hom nie wou doodmaak nie.

“Gelukkig was daar ʼn kous en ʼn plastiese hanger in die motor, en ek het daarmee die slang aan sy stert gehak en versigtig uit die motor uit gehelp. Toe die slang die grond raak, het hy dadelik in die bosse naby die Kolonnade ingeseil.”

Potgieter het die foto’s wat hy geneem het op Facebook gedeel en van sy aanhangers het gesê die slang lyk soos ʼn nagadder of ʼn eiervreter.

“So ja, daar is nou ʼn kuiergas uit Limpopo in die bosse langs die Kolonnade, en buiten ʼn groot skrik en ampertjies ʼn nat onderbroek, is ons darem veilig,” het hy geskerts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elizabeth ·

Nagadder: nie baie giftig maar byt seer – gewoonlik nie nodig vir “antidote” maar moet nogtans nie kanse neem nie. Eiervretertrjie: nie giftig!BLY jy het nie summier doodgemaak nie, hulle het hul plek in die natuur as is hul ook hoe grillerig/glibberig!

Takkie Takuuza ·

Vir my lyk dit soos ‘n “Corn-snake”. Gewilde troeteldier onder kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.