Gloria-myn: Een vas toe hy uit hospitaal kom

Gloria-myn (Foto: ANA)

Een van die mans wat vandeesweek uit die Koornfontein Gloria-steenkoolmyn in Mpumalanga gered is, is nadat hy uit die hospitaal ontslaan is summier in hegtenis geneem.

Hy sal Maandag in die Blinkpan- periodieke hof verskyn op aanklag van betreding.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê aanvanklike berigte dat ʼn sesde slagoffer in die hospitaal gesterf het, is nie waar nie. “Die dodetal van hierdie voorval is steeds vyf. Een persoon wat in die hospitaal opgeneem is, is genoem as die sesde sterfgeval, maar dit is nie waar nie. Hy is inteendeel gister uit die hospitaal ontslaan waarna hy in hegtenis geneem is,” sê Hlathi.

Hy sê die polisie ondersoek tans of die 26-jarige verdagte wettig in die land is.

“Van die vyf oorledenes het vier se naasbestaandes hulle al geïdentifiseer. Drie van hulle is burgers van Lesotho en die vierde is ʼn Suid-Afrikaner. Hulle het almal glo Woensdag in die mynskag ingegaan om die mense te red wat daar vasgekeer is nadat die eerste groep Sondag in die mynskag ingegaan het.”

Maroela Media het vroeër berig 22 mense is Woensdag in die Gloria-myn vasgekeer ná ʼn ontploffing in die mynskag. Daar word beweer die groep het ondergronds gegaan om kabels te steel toe daar ʼn gasontploffing was. ʼn Soek-en-reddingsoperasie is Woensdagaand van stapel gestuur.

Die Gloria-myn is deel van Optimum Coal se bates wat deur die omstrede Gupta-familie besit word. Die Guptas se mynbates is verlede jaar onder sakeredding geplaas. Die myn is sedert September gesluit en honderde mynwerkers het sedertdien nie salarisse ontvang nie.

Intussen het mense wat Vrydag by die myn bymekaargekom het, beweer hulle is werkers van die Gloria-myn wat steeds op hul salarisse wag. Tumelo Pule het aan African News Agency (ANA) gesê hy was ʼn trokdrywer vir die myn, maar kan nou nie eens brood vir sy gesin bekostig nie. “Ek kan nie eens elders ʼn werk kry nie aangesien ek nog hier in diens is,” het Pule gesê.

“Ek kom elke dag hiernatoe in die hoop dat ek betaal sal word. My kinders ly honger.”

Mbali Moloto, nog ʼn vermeende werker van die myn, sê dit was ʼn donker Kersfees in haar huis aangesien daar nie geld was om kos te koop nie. “Ek wil my geld hê, want ek het daarvoor gewerk,” het sy gesê.

Mike Elliot, die sakereddingsverteenwoordiger vir die myn, het Vrydag bevestig die myn is verlede jaar onder sakeredding geplaas en die werkers is met spesiale verlof. Hy het ook erken dat werkers al vier maande lank geen salarisse ontvang nie en sê dit is omdat die myn nie geld het nie.

“Die sakereddingspan werk hard om die myn te verkoop sodat die geld bekom kan word om die werkers te betaal,” het Elliot gesê.

Die reddingspoging is intussen tydelik opgeskort om veiligheidsredes. Elliot het bygevoeg die operasie sal hervat word sodra dit veilig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Roer julle gatte!Hoe moeilik Kan dit wees on n myn te verkoop!Mense ly honger!

Peet Schabort ·

Munisipaliteite doen ook nie volgens die grondwet (wat dit werd is) hulle werk want ‘daar is nie geld nie’. Daar is egter geld vir salarisse.

Stem weer ANC ·

Maar kom stem tyd die 8 ste Mei stem julle maar weer ANC????

Dafer ·

@Stem weer ANC – Die oorgrote meerderheid van die mense wat vir die ANC stem, weet nie eers hoe om te dink nie! As ons hulle, en belangriker nog, hulle kinders, nie opvoed en leer om te dink nie, gaan die kinders se kinders nog steeds vir die ANC stem!
Drie geslagte van nou af, as alles goed gaan! 75 jaar!!!!!!

Trol ·

Op gupta eiendom word hulle aangekla van betreding. Maar as hulle plase betree, is dit reg.

Nugter ·

Al hier blink jafels wat sê hulle bedryf reddingskemas is eintlik net geld suigers. Jy moet onthou, as hy die myn klasr gered het, stop die sakeredder se inkomste uit die myn. So hy neem die langste tyd moontlik. Al hierdie sakereddingskemas is ‘n groot klug. Hulle eet die mense se geld op ‘n wettige manier, baie goed uitgewerk. Neem Sharemax/Frontier as voorbeeld.

Chris Ws ·

Ek se daar moet ‘n lasbrief uitgereik word vir die inhegetenisneming van die Gupta broers.Hulle het hier ‘n groot gemors veroorsaak en moet pa staan daarvoor.Maar die anc regime is net te slap g@t vir so iets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.