Gloria-myn: Nog 7 liggame ondergronds gevind

Gloria-myn (Foto: ANA)

Reddingswerkers by die Koornfontein Gloria-steenkoolmyn naby Middelburg in Mpumalanga het Donderdag die liggame van nog sewe mans ondergronds gevind.

Mike Elliot, die sakereddingsverteenwoordiger vir die myn, sê die liggame kon egter nie na die oppervlak gebring word nie aangesien dit nie veilig was om dit te doen nie. “Die reddingswerkers het omgedraai en een liggaam gesien. Hulle het opgegaan en daar nog liggame gesien. Die gasvlakke het begin styg en dit was toe nie vir hulle veilig om die liggame na die oppervlak te bring nie,” het Elliot gesê.

Hy het bygevoeg die liggame is gevind toe die reddingsoperasie weens veiligheidsredes gestaak is, maar die reddingswerkers nog ondergronds was.

Hierdie jongste ontdekking bring die dodetal van vermeende onwettige myners wat gesterf het op 12 te staan. Dié 12 is deel van ʼn groep van meer as 20 mense wat verlede week ondergronds vasgekeer is nadat ʼn ontploffing plaasgevind het terwyl hulle na bewering koperkabels gesteel het.

Elliot het vroeër aan African News Agency gesê ʼn waaier sou geïnstalleer word om vars lug in die skag in te pomp om die skadelike ondergrondse gasse te verdun. Sodra dit veilig was, sal reddingspanne weer ondergronds gaan.

Verlede week is vyf liggame uit die skag gebring. Een man is lewend uit die skag gered en na ʼn hospitaal geneem. Hy is in hegtenis geneem toe hy ontslaan is.

Die Gloria-myn, wat deur die Gupta-familie besit word, is verlede jaar onder sakeredding geplaas en werkers by dié myn het al maande lank nie hul salarisse ontvang nie. Elliot het vroeër gesê daar word probeer om die myn te verkoop sodat daar geld kan wees om die werkers te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

leser ·

Wat soek die mense in die myn? Dit se mos onwettig. kan dit nie verstaan nie – kan dit nie verstaan nie.

willie ·

Dit is moeilik vir my om te verstaan waarom ander se lewens in gevaar gestel word om kriminele se lyke te herwin!

Koos de Meyer. ·

Sluit die mense wat die koper koop toe want dis waar die oorsprong van die diefstal begin. As daar nie ‘n afset vir hulle is nie sal dit moontlik stop.

Hennie ·

Al betaal hulle my, ek kan nie minder omgee vir die onwettige skurke nie. Hulle het gesoek vir moeilikheid en meer gekry as waarvoor hulle gebargain het!

GM ·

Netso Willie. En dan sal kriminele agterna allerhande eise ook instel.

SjN ·

Laat die Guptas hul myn kom afseel, los hul net daar, klaar begrawe.

oordeel nie ·

ja,hul is onwettig daar,maar ek kan nie myself kry om hul te oordeel hieroor nie.
as jy hierdie berigte kan lees beteken dit dat jy bevoreg is om internet te he en heel waarskynlik vanoggend ontbyt gehad het.As my pa werkloos was en nie KON werk kry in hierdie deurmekaar land nie,maar enigeiets sou doen om vanaand vir my n bord kos op die tafel te sit,sou ek hom nie oordeel nie.Ek weet wat reg en verkeerd is,maar besef dat hierdie absoluut desperate mense moes wees.mag die Here sy genade wys oor hierdie land en maak dat my kinders teminste nie hierdie swaarkry en malhuis in die land moet beleef nie.

Gys ·

Ek is nie bevoorreg nie. My ouers het my met die nodige dissipline opgevoed. Ek is geleer om hard te werk, nie te staak en alles te beskadig nie. Maar as ander mense n gedissiplineerde, hardwerkende individu as bevoorreg wil beskou, dan is dit tot daarnatoe.

Waarheid1 ·

Stem saam Gys .Ek stem saam. Ons was ook minderbevoorreg maar het respek betoon vir n ander se goed.Maak nie saak wat dit was nie.Ons het ook respek aan ander.mense betoon.Het hard gewerk was rugraat geleer en saam met dit het integriteit en goeie moraliteit ingeval.Ons was dus bevoorreg maar net sonder geld
Vandag het ons kinders deur hard te werk en te volhard met bogenoemde n sukses behaal.Ek prys my ouers en die Here.Baie dankie.

HPV ·

Die land is letterlik leeg geplunder deur alerhande onwettige bedrywighede. Nee ek is nie tranerig nie. Hiermee teken ek, as belastingbetaler, beswaar aan vir kostes wat ons moet aangaan deur sulke bedrywighede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.