Gloria-myn: Nuwe span reddingswerkers ingespan

Gloria-myn (Foto: ANA)

ʼn Nuwe span reddingswerkers het Maandagmiddag by die Koornfontein Gloria-steenkoolmyn naby Middelburg in Mpumalanga aangemeld om die reddingspoging voort te sit om vasgekeerdes uit die myn te red en liggame na die oppervlak te bring.

Volgens Mike Elliot, die sakereddingsverteenwoordiger van die myn, probeer die span reddingswerkers steeds om die ondergrondse gebied te bereik waar vermeende onwettige myners  die afgelope twee weke vasgekeer is.

Die nuwe span reddingswerkers het Maandag oorgeneem nadat dié span voor hulle sedert verlede Sondag aan diens was. “Ons het gisteraand ʼn paar uitdagings gehad, maar alles is nou uitgesorteer,” het Elliot gesê.

Sowat 20 mense is ondergronds in die myn vasgekeer nadat ʼn ontploffing plaasgevind het toe hulle glo koperkabels wou steel. Die liggame van vyf mans is aanvanklik uit die skag gebring. ʼn Sesde man is daarna lewend na die oppervlak gebring en na ʼn hospitaal geneem is waarna hy later ontslaan is.

Die liggame van nog sewe mans is Donderdag ondergronds gevind. Die liggame kon egter nie na die oppervlak gebring word nie aangesien dit nie veilig was om dit te doen nie. “Die reddingswerkers het omgedraai en een liggaam gesien. Hulle het opgegaan en daar nog liggame gesien. Die gasvlakke het begin styg en dit was toe nie vir hulle veilig om die liggame na die oppervlak te bring nie,” het Elliot verlede week verduidelik.

“Die reddingsoperasie gaan goed. Ons is besig om ventilasieskagte te bou sodat ons genoeg suurstof het om by die liggame uit te kom,” het Elliot gister gesê.

Die situasie was gistermiddag ongewoon stil buite die steenkoolmyn met geen teken van die vasgekeerdes se familielede nie.

Ontevrede Gloria-steenkoolmynwerkers, wat die afgelope twee weke by die myn pleit om hul agterstallige salarisse te betaal, was ook nie teenwoordig nie.

Nooddiensvoertuie en bakkies met verskillende soorte toerusting en masjiene daarop gelaai, het Maandag na en van die myn se perseel beweeg. ʼn Aantal polisiebeamptes was ook by die ingang van die myn sigbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wickus de Bruin ·

Ja mnr Elliot, jy het beloftes gemaak om die huidige reddingswerkers te vergoed en toe jy hulle nie betaal nie, belowe jy seker ook die nuwe span vergoeding? Verduidelik die uitdagings vir die media en so sal almal die waarheid uitvind. Sies man.

Andre ·

Gooi toe die skag man.
Wat is al die gemors van lewens, tyd en geld om die betreders se lyke uit te haal ?

Reneo ·

My hart gaan uit na die werkers van die Gloria myn. Hul laaste salaris betaling was einde Oktober 2018. Nou het hierdie onwettige “myners” nog verder kom verniel. Hoe moet ‘n gemeenskap weer opstaan en hoop om hul werk te “hervat” as daar soveel skade aangerig is. Mens kan maar net bid en vertrou die Heer stuur ‘n koper wat die leiding sal kan neem om al die negatiewe personeel weer te motiveer sodat hul weer die uitstaande myn kan word waarvoor hul nog altyd bekend was. ns my eie mense word hierdeur geraak. om te sien hoe die kommer plooie verdiep en hoe hul gryser en ouer geraak het sedert Nov is hartverskeurend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.