Glykabel-val: ‘Lang pad lê nog voor’

Carmen Botha. Foto: Verskaf

Carmen Botha. Foto: Verskaf

Carmen Botha, die tiener van Centurion wat 15 meter ver van ʼn glykabel af geval het, is wakker, haal op haar eie asem en kan reeds met haar ouers kommunikeer.

Gerna, Carmen (13) se ma, het Donderdag aan Maroela Media gesê sy is baie verlig dat haar dogter reeds soveel herstel het. “Ons weet daar lê nog ʼn baie lang pad voor, maar ons is klaar besig om vorentoe te beweeg, treetjie vir treetjie,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Carmen is verlede Donderdag in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas, nadat sy 15 meter ver van ʼn glykabel (foefie slide) geval het. Carmen was ten tyde van die voorval saam met haar klasmaats op ʼn skoolkamp by ʼn avontuursentrum buite Brits in Noordwes.

“Sy is steeds gekoppel aan die masjien wat haar hart en longe se funksies verrig, maar sy is wakker en kan met haar kop wys ja of nee en haar skouers optrek as sy nie iets weet nie. Sy het vroeër vandeesweek vir my die wagwoord vir haar rekenaartablet met haar vingers gewys,” het Gerna gesê. “Sy is dus by haar volle positiewe en weet wat om haar aangaan.”

Volgens Gerna kan Carmen glad nie die ongeluk onthou nie, maar sy onthou wel dat sy by ʼn kamp was. “Ek dink dit is haar brein wat die ervaring net uitblok as ʼn beskermingsmeganisme.” Sy het gesê Carmen is tog baie emosioneel en word daagliks deur ʼn kliniese sielkundige besoek wat haar help om die ervaring te verwerk.

Gerna vertel hulle sê elke dag vir Carmen watter dag dit is en vertel van die alledaagse gebeure buite die hospitaal om te verseker dat sy nie tred met realiteit en “’n stuk van haar lewe” verloor nie.

Intussen ontvang die gesin ondersteuning, boodskappe en gebede vanuit alle oorde. “Toe ek nou die aand tuiskom, was my vrieskas vol kos. Mense het vir ons tydskrifte, boeke en bottels water afgelaai om saam te neem hospitaal toe. Selfs sakkies met R5-munte in vir die verversingsmasjien en parkering. Dit is net ongelooflik, daar is nie woorde nie,” het sy gesê.

“Wanneer ons eendag deur hierdie ding is, dink ek sal ek baie goeie ondersteuning vir mense in soortgelyke situasies kan gee, want ek weet nou hoe moeilik dit is en wat dit vereis om deur so iets te kom.”

Carmen sal na verwagting volgende week ʼn operasie ondergaan om haar gebreekte rugwerwels te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Michelle Roos ·

Ai dis al baie goeie nuus. Ons gebede word beantwoord. Weereens sterkte aan Carmen en haar gesin.

marianne ·

GOD IS GROOT! DANK U HERE DAT U HAAR DRA. ELKE MINUUT VAN ELKE DAG. Ons gebede is by die familie en haar maats.

Theresa B ·

Dis goeie nuus. Baie bly julle is ook positief en ek glo sy sal herstel. Sterkte vir almal.

Della ·

Ek is baie bly dat dit beter gaan. Ek hoop sy word gou gesond. Ek is baie dankbaar dat julle so posetief is, dit maak die hele situasie baie meer hanteerbaar. Daar lê ongelukkig n lang pad na herstel voor maar ons bid en glo dat sy baie vinnig gesond gaan word. Baie sterkte vir haar, haar familie en vriende. Ons dink aan julle en ons bid baie hard vir julle! Alle eer aan ons Hemelse Vader!

Sarel Strydom ·

Carmen-Sterkte mensie jy is opsig self ‘n heldin,en bid dat jy deur God se genade veilig en volkome sal herstel.

Annie ·

Baie sterkte aan die familie en aan Carmen. Die pad voorentoe gaan n moeilike een wees. Skool maats en familie moet maar hare op die tande he, maar Carmen, soos baie mense nou al gedoen het, bid ons vir jou! Dit sal beter word! Ek praat van ondervinding! Sterkte vir julle!

Nico K ·

Dit gaan geen verskil in hierdie geval maak nie, maar ek wonder steeds wat presies gebeur het. Al is dit net om te weet hoe om soortgelyke gevalle in die toekoms te verhoed. Hierdie tipe glykabels is deesdae baie gewild en talle skoolgroepe neem aan sulke aktiwiteite deel.

Tokkie Thompson ·

Sterkte ek het in 1993, 42voet geval van n glykabel. Ek het die water gemis en op die wal van die rivier beland dit het in Winterton KZN gebeur ek het my regte pols vergruis, al my ribbes was gebreek, my bekken op 2 plekke gebreek, my linker en regter heup gebreek, my gesig op 5 plekke gebreek, regte skouer gebreek, my milt en galblaas het gebars en baie in wendige bloeding gehad. Ek was 5 dae bewusteloos en 56 dae in die hospitaal. Dit was n lang pad van herstel. Wees geduldig en glo als sal reg kom. Bid vir jou.

Oom Boer ·

“Geloof en Gebede” word verhoor. Ons wens Carmen alle sterkte en ‘n volkome herstel toe. Aan die gesin ook, bly positief en jul juweeltjie is binnekort weer stralend en gee jul weer al die vreugde wat jul toekom, Sterkte en beste wense.

Meisie ·

Daar is nie n Groter Geneesheer as God nie. Bid en glo al dink haar ouers aan wat om te bid gaan dit na bo want God weet reeds wat gese of gevra word. Amen

Charlene ·

Ek is so bly sy is besig om te herstel, dis so tragies dat so iets met so `n pragtige joung meisie moes gebeur. Maar daar is goeie goed wat hier uitkom, mense wat mekaar glad nie ken nie wat mekaar help, alles is bewyse dat daar nog menslikheid onder ons bestaan.
En die ma wat deur hel gaan maar dan het iemand iets kleins gedoen wat haar weer hoop gee. Carmen jy is in derduisende mense se gebede en ons glo alles sal tot die beste uitwerk vir jou.
Sterke aan die pad voorentoe. Gerna jy is `n ma 1000.

MoBen ·

En ‘n pa wat twee-keer ‘n dag Milpark toe ry om na Carmen toe te gaan . Half vyf opstaan, regmaak en ry en dan vir die grootste gedeelte van die oggend by haar bly. Dan weer na die ergste traffic oor is en hulle saam by Carmen kan wees. Albei ouers is sterk en ondersteun Carmen elke entjie wat hulle moet stap.

Silvia ·

Die Here is so goed! Alle eer kom Hom toe. Sterkte aan julle as ouers en Carmen… Ons Vader pas jou as sy Juweel op. Jy sal vinnig herstel. Sterkte vir die vogende operasie. Dit sal ‘n groot sukses wees en jou herstel ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.