Glykabel-val: ‘Nog lank nie die einde nie’

Carmen Botha. Foto: Verskaf

Carmen Botha. Foto: Verskaf

Enkele dae nadat Carmen Botha, die tiener van Centurion wat 15 meter ver van ʼn glykabel af geval het, na ʼn rehabilitasiehospitaal oorgeplaas is, is sy weer terug in die waakeenheid van ʼn Johannesburgse privaathospitaal.

Gerna Botha, Carmen se ma, het Woensdag aan Maroela Media gesê Carmen is verlede week, na meer as twee maande in die hospitaal, na die Netcare Rehabilitasiehospitaal in Aucklandpark oorgeplaas vir intensiewe fisio- en arbeidsterapie. Sy was egter slegs twee dae daar voordat sy Vrydag teruggeneem is hospitaal toe weens ʼn obstruksie in haar dunderm.

“Die littekenweefsel wat gevorm het weens vorige chirurgie in haar buik, het ʼn soort obstruksie in die derm gevorm, wat veroorsaak het dat die derminhoud nie dreineer nie. Hulle het aanvanklik probeer om dit met medikasie te behandel, maar moes noodgedwonge Dinsdag opereer om die obstruksie te herstel en die littekenweefsel in die buik weg te sny,” het Gerna verduidelik.

Sy het gesê Carmen is vir eers terug in die waakeenheid totdat die derm weer self funksioneer. Intussen word die vloeistof uit haar maag dreineer met ʼn pyp deur haar neus.

Carmen is in Januarie kritiek beseer toe sy by ʼn skoolkamp van ʼn glykabel (foefie-slide) afgeval het. Haar lewer en milt is geskeur, van haar ribbes is gebreek en het deur haar long gesteek, twee van haar werwels is gebreek, ʼn bloedvat in haar dermkanaal het geskeur en sy het ʼn haarlynfraktuur aan haar skedel opgedoen.

Na ʼn rugoperasie en baie fisioterapie, is Carmen steeds in haar onderlyf verlam, maar volgens Gerna kry dit haar nie onder nie. “Sy het ongelooflik baie deursettingsvermoë en dit is nog lank nie die einde van ons pad nie,” het sy gesê.

“Die neurochirurg wat haar behandel, sê hy kan geen rede sien waarom sy nie sal kan loop nie, dus weet ons baie gaan nog oor die volgende jaar en daarna verander. Die dokters meen ons sal oor twee jaar kan sê, ‘Goed, dit is so goed as wat sy gaan herstel.’ Tot dan kry sy fisioterapie om haar te leer om so onafhanklik as moontlik te wees met haar gestremdheid, totdat sy weer kan loop.”

Gerna het gesê Carmen se 16 weke-program in die rehabilitasiehospitaal is nou met sowat 10 tot 14 dae uitgestel, totdat sy van haar dermoperasie herstel het. Daarna sal sy weer na die rehabilitasiehospitaal oorgeplaas word waar sy nie net terapie sal ontvang nie, maar ook kan begin om van haar agterstallige skoolwerk in te haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Estelle Potgieter ·

Wat ‘n pragtige kind! Kon so verskriklik anders gewees het – bid vir volkome herstel…

Gesiggie ·

Sterkte aan jou Carmen mag jy sommer gou herstel, en hou aan Positief wees.. jy sal weer bo uitkom… God sal jou help.

Elizabeth ·

Baie sterkte, Carmen!! Ons glo dat jy ten volle sal herstel en sal bly moed hou!!

tamboti ·

Glykabels/ foefieslydes is baie gevaarlik. Dit moet verbied word tensy dit as veilig (met nette waar dit oor vaste oppervaktes gaan) geklasifiseer kan word. Ek dink daar is tans geen spesifieke wetgewing maar die eienaars van avontuurparke ens. moet dadelik kyk na die risikos en vergeet van die “vrywarings vorms”!!!

Wat-ek-lees ·

Die hele ou lewe is net so gevaarlik. Beter om met die voet te loop en hoop om nie raak/doodgery te word soos wat onlangs in Vanderbijlpark gebeur het.

Johann ·

Ai Carmen, jammer oor die terugslag. Dit is net tydelik en ek glo jy sal volkome herstel. Bly net vertrou en druk deur soos jy nou doen. Sterkte met jou skoolwerk.

Nico K ·

Ek het tot vandag toe nooit gehoor wat het gebeur nie. Het iets gebreek? Was daar nalatigheid? Is dit bloot ‘n frats ongelukkig? Ek dink nie alle foefieslides in noodwendig gevaarlik nie, maar mens wil graag uit die ongeluk leer en seker maak ander maak hulle sin veilig. Ouers gaan in die toekoms wil weet is die plekke veilig.

Jan S ·

Ek wil ook graag weet wat en waar en hoe. Ek werk in die bedryf, en vat baie jong mense gereeld op abseil ekskursies. As jy reg werk, kan jy nie val nie. So iemand het opgeslip. Hoekom hoor ons nie die naam van die plek waar dit gebeur het en wat daaraan gedoen is sodat dit nie weer gaan gebeur nie? My eie kinders gaan op uitstappies en gereeld in Brits omgewing. Ek wil weet dat die operateur weet wat hy verkeerd gedoen het en dit beter doen. Dit klink of iets weggesteek word…

Marie ·

Hi Carmen, dis nie n pad wat maklik is nie, maar jy kan anderkant uitkom.
By die Here is niks onmoontlik nie. Vasbyt mooie mysiekind. Bid vir jou.

Siestog ·

Sterkte pragkind. Mag jy spoedig volkome herstel en weer by jou skoolmaters aansluit.

Amanda Van Vuuren ·

Ek dink met baie deernis aan hierdie meisiekind, veral as dit kom by die obstruksie en daai pyp deur haar neus.
Was al twee keer daar deur, darem net die eenkeer met die pyp deur my neus, waaroor ek nog opgebring het ook. Dis aaklig verby en pyn v n obstruksie is een ding wat n derm baie baie kwaad maak. Ek dink in totaal aan haar en wens haar n volle herstel toe, die Here is Groot en Almagtig. Natuurlik ook aan haar familie, sekerlik gaan elkeen deur sy of haar eie seer… Baie baie sterkte vir julle almal…

lindie steenkamp ·

Baie sterkte vir die familie. Mag di Here hierdie meisiekind spesiaal aanraak sodat sy volkome genees sal word. Ons dien immers n God van Wonderwerke! En mag die Here julle as familie die krag gee om saam met haar deur hierdie moeilike tyd te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.