Glynnis Breytenbach vrygespreek

Glynnis Breytenbach en haar voormalige prokureur, Gerhard Wagenaar buite die hof ná die uitspraak. Foto: ANA.

Glynnis Breytenbach, voormalige staatsaanklaer en huidige DA-LP, is Woensdag vrygespreek op alle aanklagte teen haar, waaronder dié van dwarsboming van die gereg.

Breytenbach en haar voormalige prokureur, Gerhard Wagenaar, het tereggestaan op aanklagte van oortreding van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag nadat hulle daarvan beskuldig is dat hulle werksverwante dokumente versnipper en private dokumente van Breytenbach se werkrekenaar afgevee het.

Landdros Brian Nemavhidi het Woensdag gesê die staat kon nie daarin slaag om te bewys dat Breytenbach met opset onwettig opgetree het toe sy die dokumente afgevee het nie.

“Toegang tot die skootrekenaar was steeds gemagtig, die hof kon nie sonder enige redelike twyfel bewys dat haar magtiging teruggetrek is nie,” het hy gesê.

Nemavhidi het gesê Breytenbach het die inligting ook op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se bediener gestoor wat beteken dat sy nooit bedoel het die inligting moenie weer opgespoor kan word nie.

Hy het bygevoeg die afvee van die dokumente is met die wete van die NVG-beamptes gedoen.

Staatsaanklaer Raymond Mathenjwa het onverwags ook die meineed en bedrogklagte teen Breytenbach laat vaar.

In haar getuienis in die getuiebank het Breytenbach beklemtoon dat sy geen kriteria gebruik het toe sy die dokumente afgevee het nie. Sy het net afgevee wat sy gedink het haar privaatheid sou skend.

Mathenjwa het Breytenbach se getuienis aangeval en gesê dit was onmoontlik vir haar om die dokumente af te vee sonder om dit na te gaan.

Hy het verder aangevoer dat die bewyse wat vroeër aan die hof voorgehou is dit duidelik stel dat daar meer as 41 dokumentlêers op die skootrekenaar was en dat sy ʼn kundige aangestel het om permanent 13 ander dokumentlêers af te vee.

Nemavhidi het gesê geen bewyse is voorgehou dat Breytenbach geweet het wat in die lêers was nie. “Die beskuldigde kan nie gestraf word vir nalatigheid nie. Nalatigheid beteken nie daar was direkte opset nie.”

Volgens hom strook Breytenbach se optrede nie met iemand wat ʼn oortreding wil pleeg nie. Breytenbach het vroeër gesê sy het dokumente op haar skootrekenaar uitgewis om haar privaatheid te beskerm.

“Sy het ʼn oproep gemaak om te vra vir die administrasiewagwoord, ongelukkig was die oproep onsuksesvol. Hoekom sou sy ooggetuies nooi tydens die pleeg van ʼn misdaad?”

Breytenbach het gesê sy was versigtig vir die NVG ingeval hulle moontlik aan haar skootrekenaar sou peuter of die inhoud van die rekenaar manipuleer nadat sy dit oorhandig het.

Die dokumente hou verband met ʼn saak oor mynregte waarby Imperial Crown Trading (ICT) en Kumba Iron Ore-filiaal, Sishen Iron Ore, betrokke is.

Breytenbach is in 2012 uit die NVG geskors. Sy is onskuldig bevind op verskeie dissiplinêre aanklagte teen haar, maar het in 2014 uit die NVG bedank. Sy glo haar skorsing in April 2012 was ʼn poging om haar te verhoed om lt.genl. Richard Mdluli, voormalige hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, te midde van politieke inmenging te vervolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jerry ·

You cant keep a good man and lady down! Dit is mos nou hoe geregtigheid moet seevier teen anargiste se vals aantygings.

FANTASTIES ·

Ek het not nooit ‘n mooier glimlag as Glynnis se glimlag gesien na hierdie oorwinning nie. Dis mense soos sy wat maak dat ons nog nie heeltemal moed verloor het nie. Ek is so so trots op jou Glynnis.

Stormrider ·

Wat gaan aan met die NVG?
Hulle dwarsboom almal wat teen leiers se agendas opstaan?
Sy is ‘n sterk aanklaer – kan sy nie saam met Gerrie werk nie?

Eish ·

Dit moet deesdae n uiters stesvolle ervaring wees om vir die staat te werk as jy wit is en elke aksie as rassisme gebrandmerk kan word. Ek dink mens is heeltemal uit jou diepte.

marous ·

Hoop hulle dagvaar die blou rook uit die NVG en die SAP…

kas ·

Ek is 37 jaar lank ‘n staatsamptenaar en wag om hierdie jaar met pension af te tree.Dit is voorwaar nie meer ‘n grap nie en ook nie meer lekker nie.Welgedaan Glynnis,ek glo dit was ‘n heksejag omdat jy jou werk gedoen het en op iemand se tone getrap het wat dit verdien.

Hannes ·

Stormrider. Sy is n DA parlementslid. Sy staan vir die teenoorgestelde as waarvoor Afri forum/ Solidariteit/ Vryheids front staan.

Cherokee ·

As hier ‘n ‘Like’ knoppie was het jy een like gehad, Hannes.

Koos ·

Is waar Hannes, maar AfriForum staan deesdae ook mense by wat nie eers voorheen lede was nie. Solank dit net in die kollig kom.

You go girl! ·

Adv Glynis jy maak my so trots jy het vir geen oomblik gaan lê nie! Jy is my heldin!
Well done girl jyt n paar mense op hul neuse laat kyk! Jy moet nou by Sean Abrams oorneem en die NVG weer in ere herstel!
Geluk met jou oorwinning?

Cherokee ·

Dit is groot nuus – kan selfs dien as nuus van die dag. Net een stukkie kritiek, Maroela. Dokumente of lêers afgevee vanaf ‘n rekenaar klink regtig nie lekker nie. Uitgewis (soos wel êrens gebruik) of verwyder sou meer van pas en mooier Afrikaans wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.