Gʼn beurtkrag nie noodwendig goeie nuus

(Foto: Reint Dykema)

Suid-Afrikaners het die afgelope week geen beurtkrag beleef nie en die opvatting bestaan dat die maatreëls wat die verspreiding van Covid-19 moet verhoed, ook gesorg het vir minder druk op die kragnetwerk.

Kenners voorspel egter dat minder ekonomiese aktiwiteit Eskom meer kwaad as goed sal doen.

Chris Yelland, energie-ontleder en besturende direkteur van EE Business Intelligence (Pty) Ltd, sê ʼn afname in die gebruik van elektrisiteit kán minder beurtkrag voortbring, maar Suid-Afrikaners moet allermins gelukkig wees hieroor.

“Die vraag na elektrisiteit gaan daal weens die afname in ekonomiese aktiwiteit, ʼn teken van ʼn stadig presterende ekonomie. Sou Eskom vanjaar minder elektrisiteit verkoop, gaan hy boonop volgende jaar die prys van elektrisiteit wil opskuif om te vergoed vir die verlore verkope.

“Dit is nie goeie nuus wanneer jy pryse in ʼn swak ekonomie verhoog nie,” meen Yelland.

Op sy beurt meen Ted Blom, senior energie-, mynbou-en-kommoditeitstrateeg, dat daar nie noodwendig ʼn afname in kragverbruik die afgelope paar weke was nie. Hy meen die teendeel kan waar wees.

“Waar een lig voorheen 10 mense in ʼn kantoor sou bedien, moet elkeen nou ʼn lig by die huis gebruik.”

Hy meen as myn- en fabriekwerkers by die huis moet bly, sal daar wel ʼn daadwerklike afname in kragverbruik wees. ʼn Moontlikheid dat fabrieke en myne tot ʼn stilstand kan kom, kan ook nie ontsien word nie.

“As ons dieselfde patroon volg as China, Italië en Korea gaan die fabrieke en mynbou heel waarskynlik tot ʼn stilstand kom,” sê Blom.

“Indien dít gebeur, hou dit nie groot voordeel vir Eskom in nie, aangesien minder krag aangekoop word,” eggo Blom Yelland se stelling.

Volgens Blom is die wesenlike vraag of Eskom die vraag na krag sal kan volhou indien al meer van sy werkers in kwarantyn geplaas word.

“Eskom het ʼn enorme werksmag van sowat 48 000 werknemers. Indien werkers tuis moet bly, ontstaan kommer oor die kwessie of daar genoeg menslike hulpbronne by Eskom is om in die vraag na krag te voorsien.”

Blom verduidelik dat die nasionale kragvoorsiener se bergingsvermoë minimaal is en dat hulle nie weke lange krag kan berg nie.

“As kontrakwerkers by die huis moet bly weens Covid-19 sal agterstallige herstelwerk aan die kragnetwerk ook agterweë bly,” sê Blom. Eskom het vroeër vanjaar aangedui dat agterstallige opknappingswerk aan die stelsel sowat 18 maande gaan duur.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Eskom sal nou enige verskoning uit dink om nie instandhouding by te bring nie en om verhogings te eis. Goeie tyd om van dooie hout ontslae te raak.

Bella ·

Wanneer gaan Eskom besef dat sy besigheid verkope is? As hy nie verkope het nie, dan gaan hy onder. Eskom het nie enige reg op n verhoging in tariewe nie. Ek wil graag elektrisiteit aankoop, maar daar is nie om aan te koop nie. Dit blyk n Eskom probleem te wees, nie n verbruikers probleem nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.