G’n borgtog vir soldate wat glo voertuie smokkel

Die verdagtes in die hof. (Foto: NVG)

Sewe weermaglede wat glo met sindikate gekonkel het om gesteelde motors in ruil vir geld oor die landsgrens te smokkel, se aansoek om borgtog is Donderdag geweier.

Rapula Reuben Maidi (49), Edward Lepokola (48), Bulelani Danti (29), Ludwe Gwedashe, Thembani Mjelo (31), Marks Funeka (49) en Peter Thato Namane (51) het in die Musina-landdroshof in Limpopo verskyn.

Maroela Media het vroeër berig dié weermaglede was tussen 2017 en 2019 by die Beitbrug-grenspos ontplooi om die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe te beskerm. Hulle het glo in dié tyd omkoopgeld van sindikate geëis om ander pad te kyk wanneer voertuie oor die grens na Zimbabwe gesmokkel word. Daar is glo R15 000 per voertuig geëis.

Die verdagtes is op 21 en 22 Junie in hegtenis geneem tydens ’n gesamentlik operasie deur die misdaadintelligensie-eenheid, die nasionale ingrypingseenheid (NIU) en die weermag.

Volgens Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, het die hof aangedui dat die verdagtes geen uitsonderlike omstandighede in hul aansoeke om borgtog kon verskaf nie. Dit blyk nou boonop dat die beskuldigdes beplan het om te ontsnap en lede van die ondersoekspan wou leed aandoen.

Tydens die borgtogverrigtinge het die verdagtes nie getuig nie en slegs beëdigde verklarings ter ondersteuning van hul borgtogaansoeke ingedien.

“Polisiebeamptes het getuig hulle het inligting ontvang wat daarop dui dat die beskuldigdes beplan het om uit aanhouding te ontsnap. Hulle het glo ook gereël om ’n sangoma te huur om die ondersoekspan en die aanklaer ‘uit te haal’,” sê Malabi-Dzhangi.

Die hofsaak is tot 1 September uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

En dit is lede van die Weermag wat veronderstel was om ons land te help beskerm! Genade ek is so dankbaar ek is uit die Weermag want dit is en bly ‘n klap in elke Weermaglid se gesig.

Tiptol ·

Net die korrup vrye weermaglede. Ek dink daar is nie baie van hulle nie.

Kokerboom ·

Spieëlbeeld van verval van eens gerespekteerde weermag. Dis vir die mense net ‘n “job” met sulke voordele. Hul was ongelukkig om gevang te word…heelwaarskynlik gierige jaloesie van ander partye!

Hasie ·

En dit is slegs by EEN grenspos….wat van die ander grensposte in Suid Afrika…daar gebeur net soveel korupsie en kriminele aktiwiteite plaas …

Harley Davidson ·

Die is n druppel in die emmer ek verstaan die soldate of terroriste vra R 200.00 vir ‘n onwettige om oor die grens te kom en dit is sowat 2km van die beitbrug grenspos af.

Peach ·

Jasper, neem aan as wets gehoorsame burger het jy daai inligting met die verantwoordelike owerhede gedeel anders, is jy net so skuldig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.