‘Gʼn emosie’ toe Werner in beskuldigdebank staan

Werner de Jager Maandag in die Amanzimtoti-landdroshof. Hy staan tereg vir die moord op sy vrou, Liezel. (Foto: Action Society)

Werner de Jager het “geen emosie” getoon toe hy Maandag vlugtig in die Amanzimtoti-landdroshof verskyn het nie, het ʼn bron na aan die ondersoek aan Maroela Media gesê.

De Jager (45) word van die moord op sy vrou, ds. Liezel de Jager, aangekla.

Volgens die bron was hy net ʼn paar minute in die beskuldigdebank voordat hy weer na die aanhoudingsel geneem is. De Jager het ʼn kortbroek, ʼn rooi T-hemp en ʼn baadjie aangehad. Die saak is tot 7 Desember uitgestel omdat De Jager se regspan nie Maandag se hofverrigting kon bywoon nie.

“Die landdros het hom net so een of twee vrae gevra. Hy het oor sy medisyne gekla en gesê hy het nie die regte medikasie nie. Die landdros het gesê indien hy die naam van die medikasie wat hy benodig kan verskaf, kan reëlings getref word om dit vir hom te kry.

“Hy het geen berou getoon of enige emosie gewys nie. Dit was eintlik baie hartseer om te sien. Hy het ʼn dooie uitdrukking op sy gesig gehad.”

Maroela Media het vroeër berig dat De Jager Donderdag in Bloemfontein in hegtenis geneem is, net meer as twee jaar ná die moord op Liezel op 13 Oktober 2021. Sy is destyds met wurgmerke aan haar nek dood by die pastorie van die NG Kerk Suidkus op Amanzimtoti aangetref kort nadat sy van ʼn drafsessie saam met ʼn groep mense teruggekeer het.

Die ondersoek het lank gesloer, maar ʼn deurbraak is gemaak nadat die nasionale eenheid vir onopgeloste sake die dossier op 6 November vanjaar oorgeneem het.

Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, het die moordklag teen De Jager verwelkom. Dié drukgroep monitor die saak nadat Liezel se ouers Action Society vroeër gevra het om betrokke te raak.

Die drukgroep het verlede maand ʼn aansoek namens Liezel se ouers, die Van Zyls, by die Gautengse hooggeregshof ingedien om die polisie te dwing om Liezel se moord behoorlik te ondersoek.

Ds. Liezel de Jager is in Oktober 2021 vermoor. (Foto: Facebook)

“Dit het 775 dae geneem om Werner de Jager in boeie te sien,” het Cameron Maandag gesê.

“Ons hoop dat vandag die enigste vertraging in die hofproses sal wees en dat geregtigheid binnekort sal geskied.”

Cameron sê die dag was egter “bittersoet”.

“Bitter, want hierdie saak kon baie gouer opgelos gewees het as die oorspronklike ondersoekspan sy werk behoorlik gedoen het. Liezel se ouers en haar twee dogters sou afsluiting gehad het en verdere trauma gespaar gewees het weens al die onbeantwoorde vrae, vermoedens en bespiegelings oor Werner se [beweerde] aandeel in Liezel se dood.

“Bitter, want as hy destyds in hegtenis geneem was, sou twee vroue wat in April vanjaar in ʼn motorongeluk gesterf het, dalk vandag nog gelewe het. Werner het die ongeluk na bewering veroorsaak en staan ​​tereg op aanklag van strafbare manslag.”

Cameron sê De Jager was uit die staanspoor ʼn persoon van belang in Liezel se moord, maar dat die ondersoekspan op Amanzimtoti versuim het om behoorlik ondersoek in te stel.

Haar geliefdes is nietemin dankbaar dat ʼn deurbraak gemaak is.

Werner de Jager Maandag in die Amanzimtoti-landdroshof. Hy staan tereg vir die moord op sy vrou, Liezel. (Foto: Action Society)

“Liezel se familie is verlig dat haar saak uiteindelik vorder en baie dankbaar vir die span wat uiteindelik die proses van geregtigheid aan die rol gesit het.

“Hulle is natuurlik ook oorval met hartseer aangesien hulle vir altyd ʼn dogter, ma en suster verloor het en die tragiese gebeure nou moet herleef.”

Cameron sê meer besonderhede oor die saak sal na verwagting in die volgende paar weke bekend gemaak word.

“Ons sal voortgaan om die saak te monitor. Geen vertragings sal meer geduld word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Koen ·

Kom ons kyk hoeveel dink dat 7 jaar tronkstraf ook hier genoeg gaan wees

Karoo ·

Uitendelik…. eers sy vrou en toe ander 2 dames wat in die ongeluk gesterf het. Mag daar geregtigheid geskiet.

Johann ·

So dis waar ons regs en vervolgings stelsel is. Jy moet ‘n hof kry om die polisie te dwing om hulle werk te doen? ANC LEGACY.

Korrelkop ·

Daarsy, het reg van die begin af gesê dis haar man, maar nee, toe oordeel ek mos!

piet ·

@Koen – Jy verwar parool met die algehele straf wat toegeken is. 15 jaar is die minimum straf vir moord (die “laagste” graad). So as hy die minimum van 15 jaar kry vir moord, kan hy in aanmerking kom vir parool na 7 en ‘n half jaar maar dit beteken nie sy straf is verby nie, hy word net losgelaat uit die tronk op parool met voorwaardes wat sy beweging inperk. As hy lewenslank kry moet hy ten minste 25 jaar in die tronk sit voor hy in aanmerking kom vir parool.

Martie Smartie ·

Ian Cameron aanvaar sommer die man is skuldig. Kan mnr Cameron nie maar dat die reg sy verloop neem nie? En waarom moet iemand berou toon nog voordat hy skuldig bevind is deur die hof?

Danie ·

Ek is nie n profeet nie en ook nie n speurder nie maar het van dag een gese hierdie ou is skuldig.

Annelize ·

Het dit van dan 1 af gese, maar toe word ek mos onder die klippe gesteek deur die “die oordeel kom ons nie toe” vereniging. Daar is ‘n verskil tussen oordeel, en gesonde verstand.

OU SAAR ·

Dis skokkend hoe ń mens jou simtyds kan misgis met mense. Die Werner wat ons leer ken het was saggeaard, sweet altyd vriendelik en hulpvaardig. Hulle het as gesin omtrent elke Sondag verby ons huis gestap op Kanoneiland, dan het ons lekker by die draad gestaan en gesels terwyl die dogtertjies rondom hul ouers in die pad speel. Ons harte is steeds stukkend vir die dierbaarste predikant en vriendin wat ons verloor het.
Geen borgtog vir Werner. Hy is duidelik onstabiel en sal die eerste kans wat hy gaan kry verdwyn of sy lewe probeer neem. Hy moet swaar gestraf word vir wat hy gedoen het. Nie net aan die pragtige Liesel nie maar ook aan die twee ander dames wat hul lewens verloor het as gevolg van hom.
Sluit hom toe en gooi die sleutel in die see.

bolletjie blom ·

Martie Smartie ek sou sê Ian Cameron weet waarvan hy praat. Die eggenoot is van die begin af skuldig.

Niklaas ·

Waarom het dit nou so lank geneem voor sy arrestasie ? Soveel mense het van die eerste dag vermoed dat hy die skuldige mag wees.

Jillian ·

Waar is diegene nou wat so kwaad vir ons geword het toe ons sê hy is skuldig? Ek skaam my vir julle dat julle julle so blindstaar teen die waarheid. Daai arme kindertjies wat nou sonder ‘n mamma moet grootword agv van pappa se dade. Sterkte aan die familie. Mag julle die antwoorde kry wat julle verdien x

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.