Gʼn entstof vir werkers by kleuterskole, dagmoeders

Daar is nog geen aanduiding dat onderwysers of werkers by sentrums vir vroeë kinderontwikkeling vir Covid-19-entstof geprioritiseer gaan word nie. (Foto: Maroela Media)

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, skitter klaarblyklik weer eens in haar afwesigheid terwyl sentrums vir vroeë kinderontwikkeling steier om tydens die Covid-19-pandemie kop bo water te hou.

Die departement van basiese onderwys het Woensdag begin met sy massa-inentingsprogram om onderwysers teen Covid-19 te laat inent, maar daar was tot dusver geen aanduiding van die departement van maatskaplike ontwikkeling dat werkers by sentrums vir vroeë kinderontwikkeling enigsins entstofprioriteit gaan geniet nie.

Jennifer McQuillian, medestigter van die organisasie Help SA ECD’s, sê terwyl Angie Motshekga as minister voortreflik vir die onderwysberoep in die bresse tree, is Zulu skoonveld en tjoepstil.

“Die bedryf stort ineen. Ons is absoluut desperaat,” sê McQuillan.

Sy sê nadat die onderwysdepartement Saterdag aangekondig het dat hy met die massa-inentingsprogram begin, het hulle teen Sondag vasgestel dat geen soortgelyke plan vir vroeë kinderontwikkelingsentrums bestaan nie.

Dié sentrums sluit alles van dagsorgsentrums tot kleuterskole in.

Verbaas oor die uitsluiting was hulle egter nié, sê McQuillan.

Die organisasie het ʼn brief aan die departement, die presidensie en die onderwysdepartement gestuur waarin hy pleit dat werkers by dié sentrums ook geprioritiseer word. Die presidensie en onderwysdepartement het ontvangs erken, maar van Zulu se departement het hulle nie ʼn woord gehoor nie.

“Waar is ons minister? Wie baklei vir ons sektor?” sê McQuillan.

Sy sê tussen 38 000 en 42 000 onderwysers by sentrums vir vroeër kinderontwikkeling wat aan laerskole verbonde is, kwalifiseer wel vir die program. “Dit is diskriminasie. Dit is onregverdig. Ons het antwoorde nodig en ons wil die keuse hê om oor die ontvang van entstof te besluit.”

Sy sê toe entstof vir mediese werkers geprioritiseer is, was daar nie vrae oor of medici in die private sektor of vir die staat werk nie. “Dit behoort nie af te hang van die departement waaraan jy verbonde is nie. Dit gaan oor die rol wat ons in die samelewing speel.”

McQuillan sê die sentrums sien om na die jongste en weerloosste kinders in die samelewing en dat enige sluiting geweldig ontwrigtend is. “Wat doen jy as jy heeltyds werk en ʼn kind het wat te jonk is om op sy eie gelaat te word?”

In hul brief aan die minister verwys die sektor na homself as #TheForgottenSector.

“Ons word keer op keer geïgnoreer en ons kan dit nie meer duld nie. Ons het ondersteuning nodig en ons verdien beter.”

Die organisasie SA Childcare het ook vandeesweek ʼn brief aan Zulu geskryf waarin hulle vra dat onderwysers en werkers by sentrums by vroeë kinderontwikkeling dieselfde prioriteit as hul kollegas by die onderwysdepartement geniet.

Arno van der Merwe, uitvoerende hoof van SA Childcare, sê die minister het tot dusver glad nie gereageer nie.

Hy sê ʼn onlangse studie onder die organisasie se lede het gewys dat tot 80% van deelnemers die entstof wil ontvang indien dit beskikbaar is. Die departement moet egter leiding neem met die prioritisering van entstof van diegene wat dit wel wil ontvang.

Marisa Engelbrecht, sektorhoof van beroepsgildes by Solidariteit, sê dit is onverantwoordelik om sekere mense tydens die entstofprogram agter te laat.

“Die kern van die probleem is dat die entstof nie by almal uitkom nie. Dit moet almal bereik wat dit nodig het,” sê Engelbrecht.

Sy sê die departement van maatskaplike ontwikkeling se kommunikasie oor kwessies is dikwels gebrekkig en dat die sektor gereeld aan die korste ent trek.

Covid-19 by kleuterskole

Van der Merwe sê die studie, waaraan 835 kleuterskole landwyd tot dusver deelgeneem het, wys dat tot 83% van kleuterskole nog geen personeel gehad het wat positief vir Covid-19 getoets het nie.

Uit die 17% wat wél voorvalle ondervind het, het net enkele onderwysers positief getoets. Amper 90% van diegene wat die virus opgedoen het, het nie hospitaalbehandeling benodig nie.

Van die skole wat deelgeneem het, het 84,5% aangedui dat geen kinders by die skool nog positief getoets het nie. By skole waar kinders wel positief getoets het, het 44% van skole aangedui dat net een kind positief vir die virus getoets het. In 34% van gevalle het twee of drie kinders die virus opgedoen.

  • Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement, het nie op herhaalde navrae gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mariana ·

Hulle behoort beslis ook as prioriteit gesien te word. Hulle is mos ook onderwysers.

Androclus ·

Baie beslis,jammer dat sommige van ons nie verder as hul neuse kan dink nie.

Elisabeth ·

Dis nonsens julle werk elke dag met die publiek en julle moet saam met alle ander so verpleegster, dokters in die tou staan vir die inenting.

Kokerboom ·

Hul sien blykbaar NIE die olifant in kamer! President CR kan u ASB u treurige ministers ‘n slag tot orde roep. Stel u NIE belang wat besig is om in land te gebeur? Hoekom duld ons die idiotiese simnneloosheid?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.