Gʼn geld van Vergoedingsfonds jare ná boer sterf

Hennie Oosthuizen en sy vrou, Petra. (Foto: Verskaf)

Die gesin van ʼn boer wat in 2016 ten aanskoue van sy tienjarige seun vermoor is, wag nou nog op die uitbetaling van ʼn eis wat kort ná sy dood by die departement van arbeid se Vergoedingsfonds ingedien is.

Hennie Oosthuizen se weduwee, Petra, sê sy wag al 70 maande op uitbetaling van dié fonds, maar word by elke navraag van bakboord na stuurboord gestuur.

“Ek kan nie my seun in die oë kyk nie,” het Petra gesê.

“Toe sy pa vermoor is, het die lig en lewe uit sy oë verdwyn. Nou moet ek vir my kind, wat werklik skrander is, sê dat die toekoms dalk nie veel beter lyk nie. Die geld wat ons veronderstel is om te ontvang, sal ons in staat stel om hom na ʼn kollege of universiteit te stuur. Ek kan dit egter nie uit my eie sak bekostig nie.”

Die vergoedingskommissaris was veronderstel om destyds ʼn eenmalige bedrag aan Petra uit te betaal, waarna sy dan elke maand pensioen moes ontvang.

Maroela Media het destyds berig dat Oosthuizen op ʼn plaas in die Groblershoop-omgewing in die Noord-Kaap vermoor is. Hy het as plaasbestuurder op dié plaas gewerk. Die verdagte – wat ook op die plaas gewerk het – is steeds op vrye voet nadat hy in 2017 uit aanhouding ontsnap het. Maroela Media het nog nie terugvoer in verband hiermee van die polisie ontvang nie.

Petra se eis by die arbeidsdepartement is kort ná haar man se moord ingedien en goedgekeur, maar sy sê dat sy nog nooit ʼn sent van hulle ontvang het nie.

Sy het die departement al telkemale oor die afgelope paar jaar genader en in die afgelope tyd met minstens 15 werknemers gepraat wat haar nie een kon help nie. Maroela Media het dié kommunikasie onder oë gehad.

In ʼn onlangse boodskap het ʼn beampte by die departement op WhatsApp aan Petra gesê dat sy net “kansie moet gee” en dat hulle Maandag [10 Oktober] heeldag aan haar eis gewerk het.

“Dit is ongelukkig so dat nie een ou by dieselfde kantoor die eis kan finaliseer nie. Die proses is ʼn manier om moontlike bedrog te voorkom,” lui dié boodskap.

Petra is Donderdag weer deur iemand anders by die departement meegedeel om na die arbeidskantoor op Kimberley te gaan om haar eis te registreer.

“Ek is raadop. Ek weet nie meer wat om te doen nie.”

Petra sê die departement het self al aan haar bevestig dat geen dokumente uitstaande is nie.

Verskonings van die departement oor waarom haar eis nie verwerk kan word nie, sluit in dat haar lêer nie opgespoor kan word nie, die stelsel van lyn af is of dat die persoon wat dit hanteer met verlof is.

Petra is egter nie die enigste een wat probleme met die departement se Vergoedingsfonds ervaar nie. Die sukkelende fonds het ʼn lang geskiedenis van ondoeltreffendheid, wanbestuur en swak finansiële bestuur wat verder deur die Covid-19-pandemie vererger is.

Stelselprobleme en moeilike prosesse

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die fonds het al in 2019 na ʼn nuwe stelsel genaamd CompEasy oorgeskakel, maar die stelsel is deurlopend wanfunksioneel en ook nie gebruikersvriendelik vir die aanmeld van ongelukke nie.

Dr. Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor arbeid en indiensneming, het in 2020 gesê dat ʼn opname wat in dié jaar gedoen is, aangedui het dat minder as 3% van werkers wat sedert Oktober 2019 eise wou indien, dit suksesvol op die stelsel kon aanmeld. Net 1% van alle eise is verwerk en betaal, in vergelyking met 80% toe die ou stelsel gebruik is.

Adv. Hanlie van Vuuren, deskundige by die vakbond Solidariteit, werk met meer as 1 000 Vergoedingsfonds-sake en -eise.

Sy sê benewens stelselprobleme is daar geweldig baie lede wat oor die Vergoedingsfonds kla – onder meer oor die ingewikkelde proses rakende die verwerking van eise.

“Daar moet aan geweldig baie dokumentasie voldoen word. Baie mense verstaan dit nie, en dan word die dokumente nie korrek voltooi nie of onvolledig ingedien. Ons probeer om dié haakplekke vir ons lede uit te skakel, maar steeds is daar nog probleme met die verwerking van hul eise.”

Talle wat sukkel

Maroela Media het vandeesweek ook van verskeie mense verneem dat hulle sedert April vanjaar geen verhoging ontvang het op die pensioen wat tans deur die Vergoedingsfonds aan hulle betaal word nie, dat betalings agterstallig of uitstaande is, en dat bedrae moontlik verkeerd bereken is.

“Ons wag seker al ses, sewe maande vir agterstallige betalings,” het ʼn weduwee van Gauteng Donderdag gesê. “Dit het ʼn groot uitwerking op ons families. Baie van ons maak staat op hierdie geld.”

Abraham Kella van Upington in die Noord-Kaap sê hy wag al 30 maande op die eenmalige bedrag wat die fonds veronderstel was om uit te betaal nadat hy destyds permanent medies ongeskik verklaar is. Hy het wel maandeliks pensioen ontvang, maar dit is volgens hom vir die laaste keer in Mei vanjaar betaal.

Hy het glo die Openbare Beskermer al om hulp genader en voer aan dat die departement aan hom gesê het om solank aansoek te doen vir Sassa terwyl daar aan sy eis gewerk word.

“Ek en my gesin trek swaar. My polisse het intussen agtergeraak en ons krag word gereeld afgesny.”

Maroela Media het teen Vrydag nog geen terugvoer van die Vergoedingsfonds ontvang nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hasie ·

En die regering wil R50 miljoen vir Kuba skenk ….Al die reggeringsdepartemente stort in duie en die ministers doen niks anders om hulself te verryk, mooi te lyk en dom standpunte te maak nie .

Wondermaarnet ·

Was dit iemand in ‘n township het die ma ‘n huis ontvang en hope geld en hoef sy nie te wag nie.

Dries ·

Absoluut totaal onbevoegde mense. Môre is mos nog n dag. Ek ondervind dit daagliks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.