Gʼn loonverhoging vir staatsamptenare – hof

Vakbonde het hul teleurstelling met die uitspraak te kenne gegee. (Argieffoto: pexels)

Staatsdiensamptenare se laaste hoop om die regering te dwing om te hou by ʼn loonooreenkoms wat in 2020 aangegaan is, is Maandagoggend in die Konstitusionele Hof verydel toe die hof beslis het die kollektiewe ooreenkoms tussen die staat en die vakbonde is ongeldig en onregmatig.

Dit kan dus nie afgedwing word nie.

Die land se hoogste hof het die arbeidsappèlhof se beslissing, dat die ooreenkoms onregmatig is, bekragtig.

Die uitspraak is goeie nuus vir die tesourie en die minister van finansies wat net verlede week sy begroting voorgelê het. Indien die staat moes opdok vir die terugwerkende salarisse sou die Konstitusionele Hof in die guns van vakbonde beslis het, sou dit Enoch Godongwana se hele begrotingsappelkar omgekeer het.

Nadat die aanvanklike ooreenkoms aangegaan is, het Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsig beduidend versleg. Desnieteenstaande is die 2018‑’19- en 2019‑’20-loonverhogings in werking gestel. In 2018, in sy mediumtermynbegrotingsrede, het die destydse minister van finansies egter aangekondig die loonooreenkoms oorskry die begroting se basislyn met R30,2 miljard op mediumtermyn.

Die tesourie het geen bykomende geld hiervoor toegewys nie en die nasionale en provinsiale departemente sou dit moes absorbeer. Die departemente sou dus kostes moes besnoei sodat hulle die verhoging kon betaal.

In die eerste twee jaar was dit moontlik, maar in die derde jaar kon dit nie meer gebeur nie.

In die arbeidsappèlhof het die hof bevind die koste van die kollektiewe ooreenkoms kan nie uitsluitlik uit die minister van staatsdiens en administrasie se begroting betaal word nie en die tesourie het geen skriftelike onderneming gegee om bykomende finansiering daarvoor beskikbaar te stel nie.

Die hof het bevind die vakbonde se aansoek is onregmatig, waarna die verskillende vakbonde hulle tot die Konstitusionele Hof gewend het.

In die land se hoogste hof het die departement van staatsdiens en administrasie en die minister van finansies aangevoer staatsinstellings moet binne die raamwerk van die wet werk en dat die kollektiewe ooreenkoms nie voldoen het aan verpligte statutêre bepalings nie.

Die departement kon nie die koste van die loonverhogings dra nie en die tesourie het geen onderneming gegee dat hy dit sou doen nie. Hulle het voorts aangevoer die howe kan nie onregmatige kontrakte bekragtig nie en het gevra dat die aansoek van die hand gewys word.

Die Konstitusionele Hof het in sy guns beslis.

Vakbonde geskok

Die onderwysvakbond Naptosa het sy “skok” met die uitspraak te kenne gegee en sê dit laat die staat as werkgewer toe om weg te stap van ʼn ooreenkoms wat by die staatsdiens se koördinerende bedingingsraad (PSCBS) aangegaan is.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van Naptosa, sê die uitspraak beteken die werkgewer het die hof oortuig dat sy onderhandelaars nie voldoen aan die wettige bepalings vir die derde jaar van die ooreenkoms voor dit onderteken is nie.

“Dit is teenstrydig met onderhandelinge wat in goeder trou gedoen word,” sê Manuel.

“Hoewel die werkgewer die hofsaak gewen het, het hy die vertroue van vakbonde in die PSCBC verloor. In ʼn enkele stap het die werkgewer dit reggekry om die vertrouensverhouding wat oor 20 jaar, sedert die ontstaan van die PSCBC, opgebou is, ongedaan te maak.”

Manuel waarsku ook dat salarisonderhandelinge vir vanjaar binnekort by die bedingingsraad begin. “Die werkgewer kan verseker wees dat die verliese wat staatsamptenare sedert 2020 gely het, sterk in die onderhandelingsproses na vore gaan kom.”

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê die uitspraak word betreur.

“Dit is vir die SAOU ʼn bitter pil om te sluk. Die vraag moet gevra word op welke wyse kan die staat se onderhandelaars aan onderhandelinge deelneem en die minister van staatsdiens en administrasie aan kabinetsvergaderings en openbare gesprekke deelneem in die afwesigheid van ʼn mandaat wat voldoen aan wetlike vereistes,” sê Chris Klopper, hoof van SAOU.

“Volgens die uitspraak was daar nooit voldoen aan die statutêre voorsienings om die loonooreenkoms te sluit nie.”

Klopper sê die uitspraak bemoeilik vanjaar se salarisonderhandelinge – en ook in die toekoms.

“Geen vakbond sal voortaan ʼn multijaar-ooreenkoms wil sluit nie en sal voortaan altyd wantrouig staan teenoor die bona fides van die staat se onderhandelaars.

“Die rede, as hulle een keer toegelaat word om ʼn kollektiewe ooreenkoms te negeer op grond van die beginsel van nie-mandatering, op welke wyse sal hulle weer in die toekoms geglo word?

“Wat eweneens ʼn bitter smaak in die mond laat is die ‘onbekostigbaarheidsargument’ te midde van ongekende korrupsie soos blyk uit die bevindinge van die Zondo-kommissie. Die vraag moet onteenseglik gevra word: Wat is die gevolge nou vir die ongemandateerde minister en amptenary wat die oorsaak van die wanvoorstelling is?”

Die SAOU en Fedusa-vakbonde vergader môre met hul regspanne oor die pad vorentoe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

marius ·

Tot hulle begin staak , breek en brand . Dan kry hulle net wat hulle wil . Howe in die hool beteken soveel soos ‘n duik pak vir ‘n Berber .

SlinkseKoljander ·

Fantasties! Hulle behoort eintlik net die helfde van hulle salarise betaal te word vir die werk wat hulle lewer. Hou op kla en alles verniet te wil he. Werk bietjie vir jou geld soos die 5% belasting betalers wat die land dra.

Hannelie ·

Ek dink nie jy weet waarvan jy praat nie. Die van ons wat wel bereid is om te werk en van die ander kollegas se werk te doen, kla nie. Kry jy elke jaar verhoging? Van ons werk hard genoeg!!

Lizanne ·

Baie onderwysers werk flippen hard en sit van hulle eie geld wat elke jaar basies niks meer word om vir kinders hulle goed te koop.
Moenie almal oordeel vir sekere mense wat nie werk nie.
Jy moet eerder jou mond hou en dalk n maand in klas spandeer en die na-ure spandeer om jou kinders se goed gemerk te kry ten koste van jou eie gesin.
O ja en moenie vergeet van die ure en naweke langs die sportbane sodat jou kindjie daar ook nog sy volle potensiaal bereik.
En dan is daar ook die kinders wat by hul huise geen maniere geleer word nie.
Ons praat weer as jy in dieselfde skoene staan.

Di ·

Moenie almal oor dieselfde kam skeer nie. JA, daar is regtig ‘n klomp onbevoegde, lui mense in die Staat maar ek dink ons almal weet wie hierdie klomp is. Die handtjievol blankes in die staat moet verskeie mense se werk doen omrede van hulle te sleg of onbevoeg is om dit self te doen. Moet ook nie dink dat almal bevordering of meriete kry nie! Dit gaan oor wie jy ken en watter kleur jou vel is. Word ook GEENSINS volgens die werk wat jy verrig het, ge-evalueer nie, TOTALE klugspul! Party verrig al vir jare die Hoof van die afdeling se werk en kry GEEN vergoeding of erkenning daarvoor nie. Dit word as deel van jou werk beskou

Nie Verbaas ·

En die hooggeplaastes? Of stap hulle nog steeds weg met hulle verhogings?

Piet parys ·

Ultimatum vir die staats werker . 10% verhoging maar net vir die 50% wat nog n werk het . Ander maatskappye laat almal heraansoek doen vir die beste gekwalifiseerde persoon as daar is ., vir die beskikbare poste en die res moet gaan .

Hannelie ·

Piet ek stem 100% saam. Want sedert lockdown het baie min gewerk. Die wat gewerk het moes ander se werk ook doen. As dit gebeur het dan sou hul teruggekom het. Hul moes eintlik hul salarisse gestaak het.

Androclus ·

Ander mense se salaris moet gestop word agv die lockdown,vat jou kop reg?

JohanR ·

My gooiste kry hulle nie al genoeg! Nou sal dit seker weer die strate in vaar en vuilegoed dromme ongooi? Bring aan ‘n Magaret Thatcher om van die vuilegoed gemors vakbonde ontslae te raak. Vakbonde saam met die ANC is hoekom die land in soe gemors is.

Hannelie ·

Nee hul kry nie genoeg nie, want jy kry dalk verhoging, maar hul nie

M* ·

Dis nie net vullisverwyderaars wat vir die staat werk nie. Jou kinders se onderwysers werk ook vir die staat.

Mira ·

M* ja hier is regtig suurknolle wat nie weet wie eintlik staatswerkers is nie

Bart-Man ·

Doen wat ons almal doen vir geld. Begin om staats instellings vroeg oop te maak. Nie twee uure lunch te vat nie. Werk soos normale mense tot vyf uur die middag. Maak Saterdag en sondag oop. Daar is 6-8 hokkies maar net 2 met mense in. Waar is die ander mense wat betaal word. En as dit nie genoeg is maak soos duisende van ons en doen ekstras vir geld. Al ooit gedink hoe baie geld die staat sou inkry as hulle net meer doeltreffend en korrek was.

Anel ·

Hoeveel mense het nie hul werk verloor die afgelope 2 jaar nie. Die spul staatsamptenare het elke maand vol salaris gekry en het die heeltyd by die huis gesit. Sekeres weet ek het een week aan een week af gewerk. Onderwysers kan uitgesonder word. Ek glo hulle het onder baie moeilike situasies die kinders aan die leer gehou, nou nie almal nie. Ons kon nie aansoek doen vir ID’s nie, bestuurslisensie hernu nie, of enige ander sertifikate kry wat deur die staatsdiens verskaf word nie. Om nie van die regering te praat nie. EN HULLE DRING AAN OP VERHIGING!!! Waar dink hulle moet die geld vandaan kom? Kry julle prioriteite reg, man!!!

Anoniem ·

Ek ken egter ook ‘n paar staatsamptenare wat al 35+ jaar in die staatsdiens werk wat werklik alles insit om dinge nog aan die gang te hou omrede die res om hulle te treurig is. Ek kry hulle wat werklik hard werk en nou ook daardeur geraak word jammer.

AW ·

My Broer , wat indiens van die SAPS is, was al Gewond in die bo been, was al met Klippe en Bakstene gegooi, moes sien en hulpeloos toekyk hoe sy kolega voor sy oë dood geskiet word, en volgend MM lesers is my Broer Useless !!!

Nou…. wat staan my Broer te doen???

Moet hy nou Bedank !!

PieterJ ·

Ongelukkig gee die baie slegtes die klompie goeies ook n swak naam. Ek vertrou ongelukkig geen polisieman, en leer my kinders om hulle ook nie te vertrou nie.

Anoniem ·

Sê asb baie dankie aan jou Broer, wat soos verskeie ander die uitsondering op die reël is, maar wat nou ook hieronder gaan ly. Dis vir hulle wat ek jammer voel.

Mira ·

Sal ek ook wil weet AW,want nie almal is sleg nie,maar ons onskuldige kinders moet lees wat MM lesers te se het oor staats werkers

Francois ·

Nie alle staatsamptenare het by die huis gesit nie. Die deel van die provinsiale staatsdiens waarvoor ek werk is van dag een van lockdown in 2020 ten volle effektief, het internasionale akkreditasie vir meeste van ons dienste en lewer ‘n gehalte diens wat ekstern geouditeer word. Snaaks genoeg selfs na ons onder Vlak 5 en 4 ten volle op kantoor was, was daar onder Vlak 3 versoek (deur die regering) dat ‘n rotasie ingestel word maar dit het ons nie ten volle implemnteer nie. Van ons administratiewe mense het wel van die huis gewerk maar was toegerus om ten volle effektief te wees, selfs foon oproepe te kan beantwoord en deur sit na die werk. Dat daar wel amptenare van seker departemente was wat by die huis gesit het is wel waar maar om te veralgemeen is nie regverdig teenoor dié wat wel voltyds op hul pos was nie.

PieterJ ·

So nie een van die vakbonde het al van covid gehoor nie? Of hoeveel mense hul werk verloor het terwyl hulle almal vol betaal was toe hul tuis sit nie? En julle het anc mos mooi ondersteun, moenie nou kla nie, stem net weer vir hulle.

Francois ·

Nie almal het by die huis gesit nie. Byvoorbeeld het ek as staatsamptenaar met byna 30 jaar diens nie een dag by die huis gesit sedert “lockdown” in Maart 2020 begin nie. Ek was elke dag by die werk, behalwe die kere wat ek op amptelike verlof was, selfde vir my kollegas en ons dienste het onbelemmered voortgegaan en ons werk het selfs toegeneem. Dat daar wel amptenare was wat by die huis gesit het en niks doen nie en daarvoor betaal was, is wel ‘n feit – selfs in die Wes Kaap en dit terwyl die DA ‘n groot bohaai gemaak het oor ander provinsies se mense wat by die huis sit. Ons administratiewe personeel was met tye by die huis maar toegerus om 100% effektief te wees. Weining van die mense hier het vir die ANC gestem so weet nie wat dit met enige iets te doen het nie. Weens die onbegrote COVID toelaes is begrotings so gesny dat dit al hoe moeiliker word om dienste aan ons kliënte te verskaf wat die meeste van ons taamlik mismoedig maak so om te veralgemeen is onregverdig.

Toy ·

Daar is staatsamptenare soos by gesondheid wat uiters ongeskik is met pasiente en pasiente sleg behandel dit maak nie saak watse ras dit is nie. Dit is hulle wat sal demand, hulle wil net he maar lewer gladnie ‘n kwaliteit diens nie. In my tyd by die staat het jy mense gekry wat kom kyk hoe daar gewerk word, so undercover. Miskien moet hulle dit weer doen.

piper ·

ek hoop al die brandweerwaens is in werkende orde. ons gaan hulle nodig kry. as hulle staak moet die vakbondbase ook nie betaal word nie. stakings sal dan nie lank aanhou nie.

Dirk Mostert ·

Alle skade weens stakings behoort van die vakunies geeis te word.

Ronéll ·

Almal lê op die oomblik net vrot eiers vir staatsamptenare. My man is n SAPD lid, hy het nie die hele covid tyd by huis gesit nie, hy het gewerk, nie net kantoor ure nie, maar 12 ure per dag met slegs 1 rusdag na 7 werksdae. Die stasie waar hy werk is 48 km vanaf ons huis, hy ry met eie vervoer nie staatsvervoer nie. Sy voertuig ry nie op water nie, maar gebruik brandstof soos alle ander voertuie. Sy salaris is die afgelope 3 jaar onveranderd. Hy tree oor 18 maande af, maar weens geen verhoging, krimp sy pensioen bedrag. Hy staak nie, hy toyi toyi nie, hy brand en beskadig nie, maar hy werk sy jis af op sy ouderdom. So miskien moet almal van julle wat jul monde so uitspoel oor al die staatsamptenare minder julle monde uitspoel oor mense wat julle nie ken nie, en diegene, al is dit net n handjievol, die respek gee wat hulle verdien.

M* ·

Hier is nou baie lelike kommentaar gelewer oor staats salarisse. Is almal op Maroelanuus se kinders in privaatskole? Wat gaan word van julle kinders se onderwys wanneer die onderwysers begin groener weivelde soek omdat hulle geen verhogings kry nie? Dink julle die ministers wat wel verhoging kry gaan hulle oor julle kinders bekommer?

Francois ·

Die artikel dui aan: “…die hof beslis het die kollektiewe ooreenkoms tussen die staat en die vakbonde is ongeldig en onregmatig.” Daar word egter geen melding gemaak van wat die gevolge vir die Minister van Staasdiens en Administrasie gaan wees wat wel hierdie sogenaamde ongeldige en onregmatige ooreenkoms onderteken het nie.

Dirk Mostert ·

Niemand is verplig om by die staat te werk nie. Bedank en kyk of julle elders beter kan doen!

Jack ·

” In ʼn enkele stap het die werkgewer dit reggekry om die vertrouensverhouding wat oor 20 jaar, sedert die ontstaan van die PSCBC, opgebou is, ongedaan te maak.”
Cosatu is deel van die regering. Die verhoudings tussen die regering en Cosatu was eintlik soortgelyk aan bloedskande, want die regering is elke jaar afgepers om groot salaris aanpassings te maak. Hulle het nooit besef dat hulle die gans wat die goue eiers lê met hulle eise doodgewurg het nie.
Verder, Die Cosatu vakbonde het nooit ‘n dooie woord oor regeringsvergrype gelug nie. Hulle het almal lekker saam op die soustrein gery. Ek onthou hoe ons in die sestiger jare vir drie jaar geen salaris aanpassings gekry het nie , want die regering wou nie bo sy inkomste lewe nie.
Ek erken dat daar nog mense in die staatsdiens werk wat hulle salarisse verdien maar daar sit geweldig baie kaders in poste wat dit nie doen nie. Regering behoort in vredestyd nooit 30% van staatsinkomste oorskry nie. Die ANC kos ons 70% van staatsinkomste.

Magda ·

Julle doen in elk geval min wat van julle verwag word, so shut up of gaan soek ander werk. Daar is baie mense wat maar te graag vir daai salaris sal wil werk.

christo ·

Dis onregverdig om alle staatsamptenare oor dieselfde kam te skeer. Ek stem saam dat die grootste gedeelte van alle staatsamptenare slapgatte is.
Daar is ook ‘n die anderkant van die saak: Onderwysers is raad-op met die slapgatte wat ons administrasie moet doen. Veral die administrasie van pensioene. Klerke by die hoofkantoor werk nog steeds 50% / 50% wat beteken een week aan en en een week af a.g.v. sosiale afstand. Dis twak, want hulle werk nie.
Ek’s 06:20 by die skool om kinders te skandeer vir Covid-19 en loop dan 16:00 nadat die laaste kinders se taxi’s hulle kom haal het. Verder doen ons terreindiens en vreet verwaande ouers en kinders se strooi op, so ook die dissipline probleme. Verder is daar die ‘ feeding scheme’ wat ook die onderwysers hanteer moet word. Sport ens. So kan ek aangaan.
Die beste sal wees dat Onderwys vakbonde net vir onderwysers se salaris verhogings beding.

Ettienne ·

Vakbonde het geen belange by die ekonomiese welstand van SA nie en het net belang by politieke mag en hul eie sakke. Sou hierdie land wou ekonomies voortuitgaan moet vakbonde se mag ernstig ingekort word. Vakbonde se bestaan behoort selfs opgeskort te word, Daar is ander maniere om arbeidsgrskille te besleg.

Spekkies ·

Miskien moet mens die staatsamptenare in verskille kategorieë indeel en daar volgens bepaal wie geregtig is op verhogings en wie nie. Almal in die staadsdiens verdien nie hierdie vreeslike salarisse nie en ek kan jou waarborg daar is van hulle wat hulle gatte af werk vir dit wat hulle elke maand kry en die voordele wat jare terug bygedra het tot hulle salarispakkette is lankal met die drein af! Volgens my verdien die +- 12000 wat tussen posvlak 13 tot 16 is Nie die R450miljoen wat hulle kry nie!!

barend johannes ·

Onthou net dat almal nie so sleg is nie.Die onderwysers val ook onder die staatsdiens.So ons kry ook nie verhoging nie.Nou wil die geagte DA nog he ons moet die laaste verhoging terug gee.Plaas hulle maak seker dat hul gekose lede in die komitees hul werk doen.Hul sal verseker nie weer my stem kry

Chantel ·

Ek het empatie met die staatsdienswerkers wat tog hulle pligte doen, wat nou moet lei onder die menigte.

quartus ·

Hier is n plan. Ontslaan die 20 000 miljoeners in die staatsdiens en gebruik die geld om aan die ander staatsamptenare n verhoging te gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.