‘Gʼn rede om fase 10-beurtkrag nou al te vrees’

Ter illustrasie (Foto: Andrey Metelev via Unsplash)

Solidariteit sê daar is in dié stadium geen gronde om die instelling van fase 10-beurtkrag te vrees nie, al het die minister van elektrisiteit, dr. Kgosientsho Ramokgopa, vroeër oor die moontlikheid daarvan gewaarsku.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê dat selfs die instelling van fase 8-beurtkrag onwaarskynlik is, behalwe “as iets onvoorsiens gebeur”.

“Die minister van elektrisiteit hou daarvan om te skok en kragdadige stellings te maak. Ons het dit ook gesien met sy dat suggestie korrupsie nie so erg is nie,” het Hermann gesê.

“Solidariteit werk met die werklikheid en vooruitskattings van werklike data.”

Volgens Hermann het Solidariteit lede in bykans alle sleutelposisies in Eskom, wie se terugvoer aan die vakbond is dat ʼn gemiddeld van fase 3- en 4-beurtkrag vir die komende winter verwag kan word.

Hy meen daar kan egter steeds met uitsondering hoër fases van beurtkrag wees. Uitsonderings sal byvoorbeeld wees indien daar vier dae of langer uitsonderlike koue of buitengewone onklaarrakings voorkom.

“Verlede jaar was die hoogste aanvraag 35 000 MW. Dit is moontlik, maar hoogs onwaarskynlik dat dit hierdie winter oortref gaan word. Die laaste keer wat ons ʼn aanvraag van 37 000 MW gesien het, was in 2007. In die winter is steenkoolopwekkers effens meer effektief as in die somer. Soos in die verlede gaan daar ook minder onderhoud in die winter wees,” het Hermann gesê.

“Ongelukkig word beurtkrag vir die hele jaar op ʼn daaglikse basis verwag. Die stelsel is onder groot druk en Eskom is in ʼn toestand as gevolg van gebrekkige regeringsinsig, roekelose bestuur, verlies aan vaardigheid, korrupsie en sabotasie. Daar kan dus altyd iets onvoorsiens gebeur.”

Maroela Media het vroeër vandag berig dat fase 6-beurtkrag Woensdag om 16:00 weens ʼn tekort aan opwekkingskapasiteit ingestel is.

Die DA voorspel dat dít net die oortjies van die seekoei is namate die regering – en in besonder Ramokgopa – sy misplaaste vertroue in die land se onbetroubare steenkoolkragstasies voortsit.

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor energie, sê hernubare energieopwekking in Suid-Afrika sal boonop moeilik posvat “solank as wat die ANC aanhou om in die pad te staan van gemeenskappe wat hulself van Eskom se beurtkraggreep probeer bevry”.

Mileham sê voorts dat Ramokgopa sedert sy aanstelling daarop hamer dat die leeftyd van die land se sukkelende kragstasies verleng moet word terwyl die belastingbetaler die rekening daarvoor moet betaal.

“Wat Ramokgopa en die ANC-regering nie verstaan ​​nie, is dat ongeag hoe hard Eskom sy steenkoolkragstasies bestuur, hulle nooit in staat sal wees om aan Suid-Afrika se huidige vraag na elektrisiteit te voldoen nie.

“Daardie skip het lankal reeds gevaar en solank Ramokgopa en sy ANC-kollegas aanhou om hierdie trom te slaan, sal Suid-Afrika vir jare in donkerte gedompel wees met verwoestende ekonomiese gevolge.”

Die DA benadruk dat Suid-Afrika steeds aan “gedereguleerde, mededingende, betroubare en bekostigbare energievoorsiening” moet werk om beurtkrag te beëindig.

“Verskeie projekte van Onafhanklike Kragprodusente (IPP) is tans in die pyplyn en elke poging moet aangewend word om te verseker dat voldoende ondersteuning aan dié produsente verskaf word.

“Die ANC se hardnekkigheid verhoed doelbewus Suid-Afrika se beste en slimste innoveerders en entrepreneurs om die kragprobleem te takel. Dit is tyd dat die ANC opsystaan en die vernuf van die mense van Suid-Afrika laat floreer.” 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Adri ·

Selfs al praat hulle nie daarvan nie, is dit vir seker op pad. Dit is nie ‘n kwessie van of nie, maar wanneer.

Nie Verbaas ·

Die ANC moes al 20 jaar gelede opsy gestaan het dan kon Suid Afrika nog gered word van ondergang en sou nie n ontwikkelende land gewees het nie.

Lillian ·

Hoe weet jy as die regering se kaders lieg, hul lippe beweeg….. Ek glo nie ‘n dooie woord wat hy sê nie!

Danie ·

Nou wel ons is nou al als gewoond van misdaad in al sy vorms tot geen water en krag.Wat kan nog erger wees.

Chris ·

Ek verstaan dr. Herman nie mooi nie. Miskien is ek maar net dom. Onderhoud in die winter minder as in die somer? Kragstasies funksioneer beter in die winter as in die somer? Fase 4 die hoogste om gedurende die winter te verwag? Bly ons beide in Suid-Afrika?

Manie ·

Mnr Mileham kan gerus vir ons sê hoekom inwoners van Kaapstad wat sonkrag vir eie gebruik wil installeer, gedwing word om slegs uit die City of Cape Town se lys van goedgekeurde toerusting te kies, terwyl dit so vêr my kennis strek nêrens anders in die land so voorgeskryf word nie.

Karel Kobus Kruger ·

Besluit self in hoeverre jy vir jou munisipale regering wil luister. Maak soos hy smaak.

Kokerboom ·

Die nuwe Min van Elektrisiteit is ‘n klug. Hy is slegs ‘n rookskerm om ‘n valse vertroue te skep. Wat het hy sover kwytgeraak wat ons nie reeds lankal weet? Is hy ‘n elektriese kenner? Nee! Hy is ‘n klap in gesig van bestaande energie eksperte.

Marina ·

Hulle sal seker maak dat “iets onvoorsiens” gaan gebeur, glo my

Delilah ·

Die regering het ook onnodige kostes aangegaan om n minister van eskom aan te stel. Ek sien nog geen verbetering van dat hy aangestel is….
al wat hulle kan doen is geld bestee op hemelhoe salarisse

Adri ·

Wat behels fase 10 en fase 12? Hoeveel fases is daar voordat alles uitfaseer?

Amelia ·

Ek dink sal genoeg krag wees as almal die selfde betaal geen pop (poorest of the poor) kraf of in sekere areas amper verniet nie hoeveel van die hop huis betaal nie eers vir krag nie het ook klein sonpaneel op Wat is werklik aan die gang wil hul dalk eskom privaatiseer en miskien aan 1 van die ministers of familie van so iemand Sommige dele het nie eers beurt krag nie en ook geen hosp naby nie want as hul beurt krag het toy toy klomp

Yvonne ·

SA is in elk geval oor die half merk…..so ….beter word… nie maklik nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.