Gʼn rede tot paniek oor ingewandskoors

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die aantal gevalle van ingewandskoors wat die afgelope paar maande in die land aangemeld is, is nie genoeg om as ʼn uitbreking bestempel te word nie, sê gesondheidsowerhede.

Dít nadat klein gelokaliseerde uitbrekings van ingewandskoors, ook bekend as buiktifus, onlangs in distrikte in die Wes-Kaap en Noordwes geïdentifiseer is. Sewe gevalle is ook sedert Desember verlede jaar in Gauteng aangemeld.

Munisipaliteite is ook nie bekommerd dat dié siekte grootskaals sal versprei nie.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het Suid-Afrikaners ook opnuut probeer gerusstel ná gerugte die ronde begin doen het dat tekens van ingewandskoors in munisipaliteite se drinkwater opgemerk is.

“Daar is talle sosialemediaplasings met vals inligting oor ingewandskoors wat wydverspreide paniek saai,” sê Nios.

“Hierdie plasings beweer dat die jongste gevalle van ingewandskoors deur besmette munisipale water veroorsaak is en dat die bakterieë wat ingewandskoors veroorsaak in munisipale waterbronne in die land geïdentifiseer is.

“Hierdie stellings is feitelik verkeerd.”

Nios sê nog geen bewyse is gelewer dat die jongste gevalle van ingewandskoors verbind word met besoedelde munisipale water nie. Bakterieë wat hierdie siekte veroorsaak, is ook nog nie elders in enige munisipale drinkwater opgemerk nie.

Nietemin hou munisipaliteite landwyd enige aanmelding van ingewandskoorsgevalle fyn dop.

Die Tshwane-metroraad het bevestig dat altesaam sewe gevalle in sy gebied kop uitgesteek het, met twee daarvan wat in Desember aangemeld is, vier in Januarie en een in Februarie.

Afgesien van die Wes-Kaap en Noordwes is daar oënskynlik nie ander gevalle in die land bevestig nie.

“ʼn Uitbreking word slegs geklassifiseer as een wanneer die voorkoms van skietgevalle die normale verwagtinge oorskry. Hierdie sporadiese gevalle in Tshwane voldoen dus nie aan die vereistes om as ʼn uitbreking geklassifiseer te word nie,” sê die raad.

“Die Stad werk saam met al sy relevante belangegroepe om die situasie te monitor en vra vir kalmte omdat daar geen rede is om paniekerig te raak nie.”

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het intussen reaksiespanne geaktiveer om die jongste gevalle in die stad te monitor. Dié is ook nie bekommerd dat die siekte veel wyer sal uitkring nie.

“Die jongste ingewandskoorsgevalle kom te midde van ʼn aanmelding van diarreegevalle wat jaarliks in die land voorkom. Nietemin word die gevalle van ingewandskoors steeds deur die departement van gesondheid bestuur.”

Die departement het ook lede van die publiek gerusgestel dat daar geen rede is om oor die jongste gevalle bekommerd te wees nie.

Minder as 40 ingewandskoorsgevalle weens drie verskillende variante (klusters) is sedert Julie 2020 in die Wes-Kaap aangeteken.

Owerhede het wel benadruk dat burgers wat simptome van ingewandskoors toon hul naaste gesondheidsorgfasiliteit moet nader vir ʼn ondersoek, diagnose en behandeling.

  • Die lys van simptome en behandeling van ingewandskoors is hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Duck ·

Gooi bietjie whiskey by die drinkwater om die kieme dood te maak! Werk vir my hier in die Kaap

Corne123 ·

Is dit dieselfde owerhede wat gese het SA is reg vir covid???????

Johann ·

Nee wat. As.die kaders eers só begin walgooi moet jy weet…hiers GROOT fout. Nie n manier wat ek enige “departement” of staats verwante, mislike paliteit glo nie.

Anel ·

Soos die liedjie sê: how the hell can we believe you? “. Niks wat hierdie regering sê kan mens meer gli nie.

Waarnemer ·

Moet asb net nie vir me MM in beheer van die ondersoek plaas nie,sy sal weer al die bottestore en sigarette verbied sodat sy en har seuntjie nog meer uit Suid Afrikaners kan melk met onwettige verkop van alkohol en goedkoop sigarette.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.