Gʼn sukses vir OB in hoogste hof

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. (Foto: OB/Twitter)

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het die konstitusionele hof se besluit verwelkom om ʼn herroepingsaansoek deur die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, van die hand te wys.

Mkhwebane het ʼn aansoek by die hoogste hof ingedien om ʼn vorige uitspraak te herroep oor die skeiding van magte in die aanstelling van ʼn regter tot die artikel 194- onafhanklike paneel.

Die hof het in sy besluit die aansoek van die hand gewys omdat die hof nie enige foute in die oorspronklike uitspraak kon vind nie en omdat daar geen buitengewone omstandighede bestaan om die besluit te herroep nie, sê Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement. Die hof het ook Mkhwebane se aansoek vir direkte toegang van die hand gewys.

“Die parlement wag nou vir die openbare beskermer se besluit oor hoe sy met haar aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof wil voortgaan wat op 18 en 19 Mei 2022 aangehoor word. Sy wil ʼn interdik teen die speaker en die artikel 194-komitee bekom om hulle te verhoed om voort te gaan met die ondersoek oor haar bevoegdheid om die amp te beklee.”

Die artikel 194-komitee is aangestel kragtens die reëls van die nasionale vergadering, om ondersoek in te stel, en om te bepaal of die klagtes teen die openbare beskermer volhoubaar is. Die komitee sal na verwagting op 11 Mei 2022 vergader.

Maroela Media het vroeër berig pres. Cyril Ramaphosa het Mkhwebane in ʼn brief gevra om redes aan hom te verskaf waarom hy haar nie ingevolge art. 194(3)(a) van die Grondwet moet skors nie. Dit kom nadat die speaker van die parlement in Februarie bevestig het dat die artikel 194-komitee besluit het om voort te gaan met sy oorweging van ʼn mosie om die OB uit haar pos te laat verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jzjz05 ·

Die laat my dink aan Jakop wat alles in die stryd werp om nie vehoor te word nie.Die OB se saak kom nou al n paar jaar aan of is dit maar n deel van die nuwe SA?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.