Gʼn wurms in Kroonstad se water, sê departement

(Foto: Jimmy Chang/Unsplash)

ʼn Video op sosiale media waarin gesien kan word hoe deurskynende wurmagtige liggaampies in ʼn glas water swem, het die departement van water en sanitasie tot vinnige optrede aangespoor.

Die persoon wat die video maak, sê daarin die water is uit ʼn kraan in die Kroonstad-omgewing getap.

Die departement van water sê nadat hy die beeldmateriaal onder oë gehad het, het hy dadelik ʼn ondersoek in samewerking met die Moqhaka- plaaslike munisipaliteit daarna begin.

Die persoon wat die video gemaak het, is opgespoor en monsters geneem by dieselfde kraan waar die water vroeër getap is. Dit is na ʼn laboratorium vir toetse gestuur. Monsters is ook by verskeie ander huise in die gebied geneem.

Volgens die departement het die toetse bevind dit was ʼn geïsoleerde geval en dat die water in die gebied nié besmet is nie. Laboratoriumwerkers het gesê die Chironomidae-larwe word soms gevind wanneer ʼn kraan ʼn tyd lank nie gebruik word nie.

Die onlangse reën wat tot vogtige toestande gelei het, skep ʼn gunstige omgewing vir vlieë en muskiete wat dan hul eiers in ʼn kraan lê waar dit nat is. Die eiers broei na ʼn paar uur uit en die larwes beland in die water.

Gerhard Janse van Noordwyk, hoof van die departement se drinkwater- en afvalwaterbestuursafdeling in die Vrystaat, het gesê dit gaan bykans onmoontlik wees vir larwes om deur die verspreidingstelsel te gaan.

Die druk en turbulensie waarmee water deur die pype vloei, sal die larwes flenters ruk. Hulle sal ook nie die chloorvlakke oorleef nie, het Van Noordwyk gesê. Die chloor ontsmet boonop die water regdeur die verspreidingsnetwerk.

Die departement het verbruikers aangeraai om ʼn kraan ʼn paar sekondes te laat loop, veral wanneer dit warm en vogtig is in gebiede waar vlieë en muskiete gereeld voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Antjiepat ·

Wat van bejaardes wat dit nie kan bekostig nie en ookn ie om gefilteerde water aan te koop nie? Dit bly ongelukkig ‘n probleem, veral as hierdie bejaardes reeds sieklik en verswak is…

Chantel ·

Kom ons wees bietjie eerlik, geen water is regtig drinkbaar uit ‘n kraan sonder enige filtreering nie. Ons mense op ons drop Kroonstad kan nie die water direk uit die kraan drink nie.

VanAfrika ·

Al ruk die wurmpie in flardes laat my nog steeds gril. Net die idee dat daardie wurpie in die water was sit my klaar af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.