‘God dra familie’ ná tienerseun sterf

Giovanni Hendriks. (Foto: Verskaf)

“Hy het ʼn helder gesiggie gehad wat altyd in ʼn skare uitgestaan het. Die meeste van die tyd met ʼn groot glimlag.”

So sê ʼn hartseer Hendriëtte Botes oor die dood van haar broerskind, Giovanni Hendriks (18). Giovanni is vanoggend in die Kalafong-hospitaal in Pretoria oorlede nadat hy in Maart met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is.

Giovanni se ouers, Giani en Elize, is te emosioneel om nou al die media te woord te staan.

Botes sê die ouerpaar is egter omring deur familie en vriende wat hulle ondersteun in dié moeilike tyd. “Dit is nou die genade van God wat hulle dra. Ons geloof is al waaraan ons kan vashou. Net God kan ʼn mens deur sulke tye dra.”

Giovanni was die afgelope twee weke in ʼn kritieke toestand nadat hy in die hospitaal aan kos verstik en van die kos in sy lugweg en longe beland het. Dit het daartoe gelei dat sy hart gaan staan het. Die tienerseun kon genadiglik bygebring word, maar sy brein het ná die voorval begin swel en hy was sedertdien onder verdowing.

Giovanni Hendriks (Foto: Verskaf)

Botes sê die inhoud van Giovanni se maag het vanoggend in sy keel opgestoot en daar vasgesteek. Medici het probeer om dit uit te suig en sy lugweg oop te kry, maar dit was tevergeefs.

Giovanni het agt jaar gelede wonderbaarlik herstel toe hy vir die eerste keer met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is. Toe hy vanjaar vir ʼn tweede keer weens die sindroom verlam gelaat is, was die kranige sportman vasbeslote om weer net so hard te baklei om te herstel. En hy het aanvanklik merkwaardig herstel voor die onverwagte terugslag.

Botes sê dit is juis ʼn prentjie van Giovanni op die sportveld wat onmiddellik in haar gedagtes opkom wanneer sy aan hom dink. “Hy was ʼn briljante sportman gewees en baie lief vir verskeie sportsoorte. Die hoogtepunt vir hom was sagtebal; dit is waarvoor hy veral ʼn passie gehad het,” sê sy.

“Giovanni was ʼn ekstrovert wat mense om hom aangetrek het. Almal wou altyd met hom vriende wees; hy het net ʼn manier gehad om mense se harte aan te raak. Altyd met die groot glimlag op sy gesig.”

Giovanni Hendriks was ‘n kranige sportman. (Foto: Verskaf)

Sy sê Giovanni en sy 14-jarige broer was baie na aan mekaar. “Soos enige boeties kon hulle ook maar partykeer in mekaar se hare wees, maar hulle was baie geheg aan mekaar. Die een sou altyd vir die ander opstaan,” sê sy.

Reëlings vir Giovanni se gedenkdiens en begrafnis sal eers later die week gefinaliseer word, maar Hendriëtte sê die diens sal oop wees vir almal wat Giovanni geken het of net sy storie gevolg het.

“Ons kan net dankie sê vir die ongelooflike ondersteuning wat ons die afgelope paar maande ontvang het. Ons weet hoe baie mense deur Giovanni se storie geraak is, en elke boodskap en gebed het ons gedra. Ons kan net dankie sê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Veer ·

Ek is self ‘n mamma van ‘n pragtige seun .. Hierdie is hartsverskeurend. Sterkte aan die familie, mag God vir julle vetroosting bring.

Bossie ·

Ai, mens se hart wil breek. Sterkte aan sy ouers, broer, familie en almal wat hom geken het. Koester die herinneringe aan Giovanni en ons bid dat God jul sal sterk maak in hierdie hartseer wat jul nou beleef.

CLARA DE BRUIN ·

HIERMEE WIL EK NET DIE BEDROEFDE OUERS VAN DIE PRAGTIGE JONG SEUN BEMOEDIG HY IS VEILIG BY JESUS SONDER PYN. EK IS VAN UPINGTON EN HET MY 16JARIGE DOGTER WEENS KANKER AAN DIE DOOD AFGESTAAN OP 21 MAART 2019. BAIE STERKTE AAN DIE OUERS EN WEET DAT GOD SAL VIR HULLE TROOS EN SORG.

Robin Wood ·

Ek wil graag help deur te noem dat ek met presies dieselfde siekte Guillain Barre Sindroom gediagnoseer is baie jare gelede al en die siekte al verskeie kere in verskillende grade gehad het en die voorlaaste keer was die spesialiste van mening dat ek sou sterf maar ek het dit oorleef. Met die laaste aanval het ek Professor Bill (d.i. sy van) in Durban gaan spreek en hy het my verseker dat dit nie Guillain Barre Sindroom is nie (al lyk die simptome presies dieselfde) want se hy dat jy kan Guillain Barre Sindroom slegs een maal onder lede he en daarna nooit weer nie! Ek is dus van Mening dat net soos myself ook Giovanni verkeerd gediagnoseer is!!

joanne ·

Baie Sterkte aan die ouers. Dit is baie hartseer om n kind te verloor. Ek weet dis nie die regte tyd nie maar weens die hosp se nalatiging deur te verstik het als erger gemaak. Ek sal hul sue regtig om so met n lewe te speel. En soos n kometaator vroer gese het die seun kon ook verkeerd gediagnoseer gewees het. Net omdat hy die siekte gehad het meen dit nie hy het dit weer gekry. Die hosp doen nie altyd die regte toetse. Ek dink aan die ouers familie en vriende.

Matts ·

Dit is hartverskeurend om ‘n kind aan die dood af te staan. Mens kom net nooit daaroor nie – die seer en verlange bly. Baie sterkte aan sy geliefdes.

Rika ·

So ń pragtige kind sterkte aan die familie mag die liewe Vader vertroosting bring. Dink en bid vir julle ❤

Jaco ·

Ek is ook verlede jaar Maart gediagnoseer met Guillain Barre vir die 2de keer. Ek was op n ventelator vir 3maande. Ek herstel nou nog. Ek het nou weer begin loop maar is nog baie swak. Ek kon ook nog nie terugkeur werk toe nie. Sterkte aan familie in hierdie hartseer tyd.

Elsa ·

My innige simpatie met Giovanni se ouers en familie. Mag julle vertroosting vind in hierdie moeilike tyd in jul lewens.

familie vriendin ·

ek het die nuus ontvang van Giovanni se niggie en my hart het net daar en dan in stukke gebreek. ek as ‘n vriendin van Wannas se niggie sukkel om dit te verwerk agv die rede dat ek als gevolg het van die begin af. my innige mee gevoel vir die familie en vriende

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.