‘God het alles laat uitwerk soos dit moes’

Caylum Willemse (Foto: Facebook)

Caylum Willemse (Foto: Facebook)

Die Willemse-gesin, wat verlede jaar dikwels in die nuus was oor klein Caylum se seldsame geboortedefek en sy herstelpad ná weldoeners R7 miljoen ingesamel het, sê die nuwe jaar hou baie hoop in dat hulle vir die eerste keer soos ‘ʼn normale gesin’ kan leef.

Die gesin het net voor Kersfees na Suid-Afrika teruggekeer, ná ʼn suksesvolle lewensnoodsaaklike operasie wat in Boston op Caylum uitgevoer is toe hy elf maande oud was.

Met die nuwe jaar is daar ʼn ‘belofte in die gesin se hart’: 2017 is ʼn jaar van gesondheid en voorspoed en die seer van die verlede word agtergelaat.

Samantha, Caylum se ma, het Woensdag aan Maroela Media vertel die gesin is op die herstelpad en dat dit vir die eerste keer in klein Caylum se lewe werklik goed gaan met hom.

Caylum  is gebore met seldsame trageoesofageale fistel (TOF) en esofageale atresie, ʼn toestand wat verband hou met die slukderm, wat nie voor geboorte behoorlik met die maag geheg het nie. Die liggaam probeer dan as’t ware die fout regstel deur ander verbindings te maak. In Caylum se geval het die lugpyp met die slukderm sowel as die maag geheg.

Sy lugpyp het ook heeltyd platgeval en die verbindings wat die lugpyp gemaak het, het veroorsaak dat vloeistof wat hy inkry, soos melk, op sy longe gaan lê.

Dr. Russel Jennings, wat die operasie op Caylum uitgevoer het, het tydens dié operasie vroeër verlede jaar opgemerk hy ly ook aan die sogenaamde “Laryngeal cleft”-defek, ʼn toestand wat verband hou met ʼn gaatjie in die klep van die lugpyp. Dit veroorsaak dat hy aspireer en longontsteking kry, en was ook die rede dat hy konstant verstik en ophou asemhaal het.

Hy is vir tyd en wyl op ʼn verdikte vloeibare dieet en vlieg oor ses weke saam met sy ouers terug Boston toe om die defek tydens ʼn klein operasie reg te stel. Die gesin het afslag gekry vir die operasie en het genoeg fondse om daarvoor te betaal.

Caylum en sy ma, Samantha (Foto: Facebook)

Caylum en sy ma, Samantha (Foto: Facebook)

Samantha sê hy gebruik sedert die nuwe jaar vir die eerste keer ook nie meer die spesiale asmapompie nie. “Voorheen was hy elke vier ure op die asemhalingsmasjien, maar nou is hy al twee dae sonder ʼn asmapompie. Ons kan mense nie genoeg bedank vir hul wonderlike ondersteuning nie,” het sy gesê.

Die gesin is ook deur nog ʼn tragedie getref toe Samantha se ma, Cathy, in November verlede jaar oorlede is nadat sy tydens ʼn huisroof op Sundra in Mpumalanga geskiet is. Sy het dae later aan haar beserings beswyk in die hospitaal.

“Mense vra my hoe ek in die Here bly glo nadat ons my ma verloor het én my seuntjie ook talle kere by die dood omgedraai het. Maar Hy het haar lank genoeg gespaar sodat ek kon groet. En Hy het mense se harte aangeraak sodat my seuntjie ʼn tweede kans op lewe kon kry.

“My ma is te vroeg oorlede en daaroor sal ons altyd stukkend wees. Maar sy is veilig en ek is dankbaar dat my seuntjie saam met my kan wees. Ek sien God se hand in alles: die dag wat ons gevlieg het, die manier waarop dinge gebeur en hoe die legkaart eindelik in mekaar pas. Hierdie jaar is ons jaar – sonder hospitale en medisyne en al daai dinge. Ek glo dit vas vir ons.”

As jy op hoogte wil bly oor Caylum se herstelpad, besoek die Caylum Willemse Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nicolene Schultz ·

Ons Dien Voorwaar ‘n Wonderlike Groot God van Wonders!! AMEN

E.K. ·

Wonderlike nuus en dankie aan die ma wat terugvoering gee en almal op hoogte hou en ook hul blydskap en dankbaarheid deel met die wat hul gehelp het!

SNEL ·

Wat n wonderlike berig, wat n getuienis en gee ons ander ook weer moed. Pragtige ou seuntjie, so bly dit gaan so goed met hom.

Maureen ·

AMEN. En danki vi n mamma wat so positief is. Ons dien n Groot God en Hy sal waarlik voorsien. Dankie aan ons Koning Jesus vir dit wat ons alreeds sien en obs glo hy gaan volkome gesond word.

Marisa ·

So wonderlik om God se ‘legkaartstukke’ te kan sien en hoe wonderbaarlik hulle in mekaar inpas. Dit maak die lewe opwindend. So dankbaar vir hierdie gesin se geloof. My innige simpatie met die grootmoeder se tragiese dood. Alles van die beste vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.