‘God het ʼn plan,’ getuig man ná vrou in fratsongeluk sterf

Die Stapelberg-gesin tydens ‘n vakansie in 2018.

“Die Here vat nie ʼn 38-jarige vrou en ma van vier kinders weg nie – Hy het nog ʼn plan vir haar gehad,” sê Pieter Stapelberg met oortuiging wanneer hy vertel van die fratsongeluk wat verlede Donderdag (13 Augustus) die lewe van sy vrou, Magriet, geëis het.

“Die vyand het haar kom steel; dit was nie deel van God se plan nie.”

Magriet is dood toe sy tussen twee voertuie in hul erf vasgepen is. Hul oudste, Franco, was agter die stuurwiel van die een voertuig toe die fratsongeluk gebeur het.

In die Stapelberg-huishouding, met drie woelige seuns en ʼn meisiekind, is dinge gewoonlik bedrywig en effens deurmekaar. Pieter is ʼn bekende apteker en eienaar van twee apteke op Kathu in die Noord-Kaap, terwyl Magriet heeltyds ma was vir hul vier kinders: Franco (12), Chanté (11), Viljoen (9) en PG (wat in Oktober ses word). Ten spyte van dié bedrywigheid was gesinstyd nog altyd vir die gesin ʼn prioriteit. Hulle het elke oggend saam ontbyt geëet, waarna Pieter en Magriet saam die kinders by die skool afgelaai het. Smiddae is hy huis toe om saam met sy gesin middagete te eet. Die gesin het graag saam vakansie gehou en gereis, ook in die buiteland.

Die afgelope jaar het Pieter soms vir Franco na ʼn klein, leë parkeerterrein geneem en hom basiese bestuurstegnieke begin leer. “Ek was egter altyd in beheer en het hom leiding gegee; hy kan nog nie self bestuur nie,” sê Pieter.

Vir Magriet was haar huwelik en kinders die belangrikste dinge in haar lewe. Die bure was goed bekend met haar klein, wit motortjie waarin sy met die kinders heen en weer ry. “Terwyl ek aan die apteke aandag gegee het, het sy die ‘besigheid’ tuis bestuur,” vertel hy. “Ons het goed saamgewerk; elkeen het geweet wat hy moet doen. Ons huwelik was ʼn kameraderie. Grieta het ʼn diensbare hart gehad en altyd ander eerste gestel. Toe sy weg is, het ek besef ek weet nie eens waar om die koffiemasjien aan te sit nie.”

Vir die Stapelbergs was die afgelope paar maande egter ʼn bietjie meer chaoties as gewoonlik. “Ons het besluit om in die afsonderingstyd opknappingswerk aan ons huis te doen, omdat ons nie vanjaar met vakansie sou kon gaan nie. Alles is in bokse. Boonop is ek besig om een van my apteke na ʼn nuwe winkelsentrum te skuif. Daar is dus ʼn klomp goed wat gelyk in ons lewens gebeur.”

Pieter is Woensdag uit Kathu weg om Viljoen vir ʼn oogspesialis-afspraak in Pretoria te neem. Hulle het Woensdagaand by sy ouers in Centurion oorgeslaap, en ná Viljoen se afspraak Donderdagoggend het hulle die pad terug Kathu toe aangepak. Pieter het met Magriet se motor gery omdat dit ʼn kleiner voertuig is, en Magriet het vir die twee dae met sy bakkie gery.

“Grieta het siekerig gevoel, en daarom het sy my bakkie buite gelos toe sy tuis kom,” sê Pieter. “Ek het haar geskakel toe ek en Viljoen amper by die huis is. Omdat sy nie lekker gevoel het nie, het sy vir Franco gevra om my bakkie vorentoe te trek sodat ek kan inry as ek tuis kom. Terwyl Franco stadig vorentoe begin ry het, het sy voor die bakkie teen die Land Cruiser se spaarwiel gaan staan. En toe loop dinge skeef… Ons weet nie wat gebeur het nie; dalk het Franco se voet van die rem of die koppelaar af gegly. Die bakkie het vorentoe geruk en Grieta tussen die bakkie en die Land Cruiser se spaarwiel vasgepen. Sy was kort; die impak was vol op haar lyf…”

Magriet Stapelberg (38) en (van links) Franco (12), Chanté (11), Viljoen (9) en PG (3).

Toe ʼn buurvrou Pieter bel om te sê dat daar ʼn ongeluk by die huis was, het hy dadelik ʼn ambulans en hul huisdokter gebel, en daarna goeie vriende, Pieter en Erika Malan. Die dokter het by sy aankoms onmiddellik met hartmassering begin terwyl hul vriende die kinders in die huis in geneem het.

“Maar toe ek daar aankom en haar sien, het ek dadelik geweet daar is niks wat ons kan doen nie…”

Saam met hul huisdokter het Pieter die nuus met die kinders gaan deel. “Hy het so mooi met hulle gepraat,” onthou Pieter. “Ons het vir hulle verduidelik dat die vyand gekom het om te steel, te slag en te verwoes, maar dat God vir ons lewe in oorvloed gee. Toe het ons saam gebid.”

ʼn Pastoorvriend, Kobus Erasmus van die AGS El-Shammah-gemeente, was ook daar. “Hy het my en die kinders in die huis kom haal sodat hulle vir Mamma kon gaan groet.”

ʼn Week ná Magriet se afskeidsdiens is daar vir Pieter een waarheid wat onwrikbaar bly staan: God is goed, en Hy het ʼn plan met elke mens se lewe. “Die Here het nie vir Grieta kom haal nie,” sê Pieter met groot oortuiging. “Die vyand het haar kom steel. Ons is op aarde gesit om in heerskappy te lewe, nie in vrees nie, en daarom sal ons as gesin nie leef met die vrees dat ons ook kan sterf nie. Ons is hier om die Evangelie te verkondig. My hart is seer, maar ek is nie kwaad nie, want ek weet God se hart is net so seer vir my as wat my hart seer is oor Grieta.”

Ook in Franco se hart is ʼn nuwe, diep begrip van wie God is. “Franco is baie volwasse vir sy ouderdom,” sê Pieter. “Ons praat baie oor wat gebeur het. Vroeër hierdie week het hy vir my gesê: ‘Pappa, ek is orraait. Ek weet dit was ʼn ongeluk en daar is nie veroordeling by die Here nie.’ Ek vertrou dat die Here hom eendag sal gebruik om iemand anders by te staan wat deur ʼn soortgelyke krisis gaan.”

Pieter vertel hoe die gemeenskap van Kathu hulle toegevou het in liefde, en die reëlings vir die begrafnis asook die verantwoordelikhede vir die opening van die apteek heeltemal uit sy hande geneem het.

“Ons harte is bitter seer, maar ons sit nie verward rond nie – ons is gefokus,” vertel hy. “As ʼn gesin glo ons steeds in God se voorsiening en beskerming. Ek glo ons kinders het ʼn toekoms in hierdie land, ten spyte van wat hier aangaan. En Grieta is reg daar waar sy nou is.”

“Mense se lewe moet verander deur hierdie ding wat ons gesin getref het,” sê hy. “Mense wat nie weet dat God goed is nie, moet dit hierdeur weet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Mel84 ·

Dis so tragies. My hart bid vir hierdie kind – en gesin natuurlik. Maar mag God sy hart en verstand heelmaak en bewaar.

pieterweskaap ·

Geloof in die lewende God en sy seun Jesus Christus, gee perspektief, maar die seer sal bly.
Ons kan maar net bid vir die gesin!

Anel ·

So hartseer. Baie sterkte aan die gesin en aan oom Johan en tannie Isabelle Stapelberg en die res van die familie.

Faraway ·

Pieter . . . wat n merkwaardige manier om die verlies en seer te hanteer en GOD se Naam nogtans hierin te verheerlik!
Amen!

Estelle ·

My hart was so seer toe ek hoor van die ongeluk. Pieter was vir baie jare ons apteker in Kathu en hy is n wonderlike mens. Ek het soveel respek vir hom. Pieter die Here sal jul dra en toevou in Sy liefde. Hy sal hierdie slegte gebeurtenis omdraai dat daar tog iets goeds hieruit kom. Ek bid vir julle.

madels ·

Wat n kosbare getuienis. Mag die Here hierdie gesin bo hierdie tragedie laat uitstyg en hulle nog meer kragtig gebruik sal word vir Sy Koninkryk

MoederMamma ·

Kry die seun so bitterlik jammer. Dit klink of jou pa se kop reg aangeskroef is, so ek glo jy sal die berading kry wat jy baie nodig gaan hê.

Foefie ·

Ek voel bitter jammer vir die gesin, spesifiek vir Franco. Mag Jesus hom help om te besef dis nie sy skuld nie. Dit was ‘n ongeluk.

Hennie ·

Absolute tragedie. Maar dit is hoekom kinders nie agter die stuur van ‘n voertuig hoort nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.