‘God het ʼn plan met my,’ sê vrou ná Chapmanspiek-ongeluk

Lucy Thomas (25). (Foto: Verskaf)

“Dit is ʼn wonderwerk dat ek nog lewe en ek glo dat God ʼn plan met my het. Dáárom is ek nog steeds hier.”

Só het Lucy Thomas (25), aan Maroela Media gesê, nadat ʼn ernstige motorongeluk haar verlam gelaat het.

Thomas word al die afgelope twee weke in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad behandel nadat haar Volkswagen Polo op 17 Februarie naastenby 75 m ver by Chapmanspiek tussen Houtbaai en Noordhoek afgetuimel het. Sowat 50 reddingswerkers en vrywilligers het die betrokke dag gehelp om Thomas uit die wrak te bevry, voor die motor aan die brand geslaan het.

Sy het onder meer ernstige beserings aan haar ruggraat en -werwels opgedoen en het onlangs ʼn sewe uur lange rugoperasie ondergaan.

Thomas sê dié operasie het goed afgeloop en dat haar ruggraat nou “behoorlik in lyn gebring is”. Die moontlikheid bestaan egter dat sy nooit weer sal kan loop nie.

Hoewel sy soms terneergedruk oor haar lot voel, sê Thomas dat sy positief oor die pad vorentoe is.

“Ek gaan sterk bly en na my geestelike en fisieke gesondheid omsien.”

Thomas het ook groot dankbaarheid en waardering teenoor die mense wat haar ná die ongeluk gehelp het, uitgespreek. Sy kan egter steeds nie alles oor die gebeure onthou nie.

“Die reddingsoperasie was puik. Al wat ek kan onthou, is dat iemand gekom het om my te red, asook die reuk van rook. Ek het geweet ʼn gedeelte van my kar en die omliggende bos is aan die brand.”

Sy sê dit was ʼn wonderlike gevoel om deur ʼn “hele span helde” gered en na veiligheid gedra te word.

“Om in die arms van ʼn reddingswerker te wees was die beste gevoel in die wêreld. Hulle het ongelooflike werk gedoen en ek is só dankbaar dat niemand anders in die proses seergekry het nie.”

Thomas sal na verwagting deur die loop van die week uit die intensiewesorgeenheid van die hospitaal ontslaan word en sal oor ongeveer drie weke met rehabilitasie begin.

Haar pa, David, het intussen ʼn geldinsamelingsinisiatief op Back-a-Buddy van stapel gestuur om sy dogter met haar mediese uitgawes te help. David wil met dié inisiatief ook verseker dat sy die bes moontlike nasorg en toerusting ontvang sodat sy ʼn volwaardige lewe kan lei.

Hy het vroeër gesê dat Thomas, ʼn kranige fotograaf, se kameratoerusting ook in die ongeluk vernietig is en dat hy dit graag vir haar wil vervang.  Sowat R62 500 is die afgelope week reeds vir Thomas ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

007 ·

Bly positief en jy sal deur God Geseën word vir die res van jou lewe. Jy sal ander mense kan inspireer en baie vir hulle beteken. Baie sterkte met jou pad vorentoe en ek bid dat jy 100% sal genees.

SlinkseKoljander ·

Dit is ongelukkig al wat meeste mense in haar posisie kan se om hoop te behou, sterkte.

Androclus ·

God het ‘n doel met jou lewe alles is net genade van Bo en glo vas jy sal weer kan loop,niks is by God ontmoontlik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.