Godi oorweeg mosie van wantroue oor Sassa-debakel

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling (Foto: ANA)

Die voorsitter van Scopa (die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement) oorweeg ʼn mosie van wantroue in die minister van maatskaplike ontwikkeling indien daar nie enige vordering gemaak word wat betref die betaling van welsynstoelaes nie.

“Dit sal ʼn praktiese teken wees dat ons, as verteenwoordigers van die mense, nie tevrede is nie, het Themba Godi gesê. “Die parlement kan nie net sy hande vou wanneer die welsyn van 17 miljoen Suid-Afrikaners in gedrang is nie.”

Hy oorweeg die mosie van wantroue indien minister Bathabile Dlamini nie enige vordering maak om ʼn kontrak te onderteken met die Suid-Afrikaanse Poskantoor om die betaling van die welsynstoelaes te behartig nie. Die Poskantoor het aangedui dat hy teen volgende jaar April die betalings sou kon oorneem, indien ʼn kontrak reeds in Desember 2017 onderteken word. Godi het gewaarsku daar is dus slegs twee maande oor om dié ooreenkoms aan te gaan.

Dlamini het vandeesweek weer versuim om ʼn Scopa-vergadering by te woon in gesprekke tussen die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en die Poskantoor sodat laasgenoemde die betalingsfunksie van Cash Paymaster Services (CPS) kan oorneem.

Uit die vergadering het dit geblyk dat daar onmin tussen Sassa en Sapo is, aangesien die poskantoor se bestuur volhou dat hy kapasiteit het om bankkaarte uit te reik aan die ontvangers van die toelaes, terwyl die welsynsagentskap aanvoer hy sal dié funksie moet uitkontrakteer. Sassa en die departement beweer die Poskantoor is nie in staat om sleutelfunksies uit te voer nie en dat dit dus na ander, onbekende diensverskaffers uitgekontrakteer sal moet word. LP’s is van mening dat dit ʼn doelbewuste poging is om ʼn gladde oordrag na die Poskantoor te ondermyn.

“Indien daar nie enige vordering gemaak word nie, sal die departement van maatskaplike onderneming suksesvol ʼn situasie geskep het waar niemand anders die betalingstelsel kan oorneem nie,” het Godi Vrydag gesê.

Die konstitusionele hof het vroeër vanjaar opdrag gegee dat CPS nog vir ʼn jaar lank met die betalings kan voortgaan terwyl ʼn kontrak met ʼn ander entiteit aangegaan word, totdat Sassa kan bewys dat hy self die betalings kan hanteer.

Scopa sal na verwagting Dinsdag weer met Sassa en die departement vergader. Godi het gesê die komitee verwag van Dlamini en haar eweknie by die departement van pos en telekommunikasie, minister Siyabonga Cwele, om in daardie stadium aan te kondig dat hulle “een of ander ooreenkoms bereik het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.