Godsdiens in skole: Beheerliggame gaan nie appelleer

godsdiens-bybel-gebed-unsplash-pexels

Foto: Unsplash/Pexels.com

Die ses skole wat by die onlangse hofsaak oor godsdiens in skole betrokke was, het besluit om nié teen die hof se bevinding te appelleer nie.

“Die hofbeslissing was in wese in die guns van die skole met slegs twee van die 77 bevele teen die skole wat uiteindelik deur die hof toegestaan is. Die skole beskou die hofbevel as regverdig en billik en wil graag daaraan voldoen,” het Paul Colditz, uitvoerende hoof die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), gesê.

In Junie vanjaar het regter Willem van der Linde in sy uitspraak in die hooggeregshof in Johannesburg bevind dat godsdiens wél by skole beoefen mag word, maar binne ’n bepaalde raamwerk, insluitend die Grondwet en die Skolewet. Die kern hiervan is dat ’n bepaalde geloof nie voorgestaan mag word tot uitsluiting van ander nie.

Die saak tussen Laerskool Randhart, Laerskool Baanbreker, Laerskool Garsfontein, Hoërskool Linden, Hoërskool Oudtshoorn en Oudtshoorn Gimnasium, en die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie (OGOD) wat in Mei en Junie in die hooggeregshof aangehoor is, het gevolg nadat dié skole aan die einde van 2014 deur dié ateïstiese organisasie weens hulle godsdienstige etos voor die hof gedaag is.

Fedsas het die skole bygestaan en die burgerregte-organisasie AfriForum het die regskostes gedek. Die ses skole het tot Vrydag kans gehad om teen die uitspraak te appelleer, maar teen daarteen besluit.

Colditz sê slegs geringe aanpassings aan die betrokke beheerliggame se beleid, reëls en praktyke is nodig om wel aan die bevel te voldoen. Fedsas het ook reeds inligting aan sy lede beskikbaar gestel ten einde die hofbevel korrek te interpreteer en by skole te implementeer.

“Die beheerliggame van die ses skole staan positiewe en konstruktiewe Suid-Afrikaanse burgerskap voor, met die Grondwet as die belangrikste riglyn in die uitvoering hiervan. Van der Linde het in sy uitspraak genoem dat diversiteit in Suid-Afrika gevier moet word eerder as dat dit bloot verdra moet word. Dit is ʼn benadering wat in alle aktiwiteite van die skoolgemeenskap gevolg moet word en is van toepassing op meer as net godsdiens,” het Colditz gesê.

Hans Pietersen, voorsitter van OGOD, het vroeër aan Maroela Media gesê hy sou ʼn appèl teen die hofuitspraak verwelkom het en was gereed om die saak tot by die konstitusionele hof te dryf.

“Die skole se besluit is nou tot ons voordeel, ons gaan met erns die bul by die horings pak en sorg dat wetgewing afgedwing word. Regspleging het met die hofuitspraak geskied, so daar is geen wegkomkans vir skole wat steeds wette oortree nie,” het Pietersen gesê.

Pietersen het ook bevestig dat die organisasie tot en met Woensdag briewe aan 28 skole gestuur het waarin die skole versoek is om hul “onwettige godsdienspraktyke” te staak.

Volgens Pietersen reageer die organisasie net op klagtes wat hulle op skole ontvang, maar teiken nie spesifiek Christelike Afrikaanse skole nie: “Dit gaan nie oor die aard van die spesifieke skool nie. Ons het geen veldtog nie, maar reageer net op die versoeke van ouers, leerlinge en leerkragte wie se grondwetlike regte geskend word. Indien ons klagtes van enige openbare skool sou ontvang wat enige ander geloof as die Christendom bevorder, sal ons natuurlik op dieselfde wyse daarop reageer.”

Pietersen sê hulle het nog sodanige klagtes ontvang nie. “Ons het selfs mense begin aanspoor om dit te doen deur ʼn kompetisie met prysgeld van R100 uit te loof, wat ons verlede week geplaas het. Ons het tot dusver nog geen aanspraak op die prysgeld gehad nie, al is die boodskap al deur duisende mense gelees,” het Pietersen gesê.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die organisasie egter in wese misluk in die regshulp wat hulle aangevra het, insluitend dat godsdiensoptredes ongrondwetlike verklaar word, nasionale beleid tot wetgewende status verhef word en 71 interdikte teen die skole ingestel word.

“Die regsproses het die organisasie se onverdraagsaamheid teenoor enige ander geloofstandpunte ontmasker. Die hofuitspraak het daarteenoor bevestig dat godsdiensbeoefening nie ongrondwetlik is nie, maar nie uitsluitend mag wees nie. Dit is dan ook ’n riglyn vir enige skool wat in die toekoms deur hierdie onverdraagsame groep geteister mag word,” het sy bygevoeg.

Chris Kloppers, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse onderwysersunie (SAOU), het aan Maroela Media gesê die hofuitspraak het geen rol of status aan OGOD gegee nie.

“As ouers gegrief voel deur skole se godsdienspraktyke moet hulle dit met die beheerliggaam van die betrokke skool opneem. Individuele onderwysers se regte om hulle geloof ten volle uit te druk word deur die Grondwet beskerm. Die beoefening van geloof by openbare skole mag net nie diskrimineer of leerlinge uitsluit nie,” het Kloppers gesê. Volgens hom sal die SAOU hulle lede met regshulp bystaan indien daar teen ʼn lid se reg tot godsdiensvryheid en die beoefening daarvan inbraak gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Magda ·

Hans Pietersen– moenie met mooi woorde die feit dat julle Christenskole teiken, prober verdoesel nie! Maak nie saak wat julle doen om die Christene te onderdruk nie- satan sal altyd verloor!!

Veritas ·

Magda die OGOD spannetjie besef nie met Wie hulle speel nie. God sal hulle laat begaan en, in sy barmhartigheid, nog ‘n kans gee, maar daar is ‘n uitdagendheid in hul optrede wat God nie lank gaan duld nie. Ons sal binnekort sien hoe God hulle gaan gebruik om Sy Naam te verheerlik.

Bert ·

Darem maar ‘sad’ dat OGOD met soveel haat en onverdraagsaamheid deur die lewe moet gaan.

Flintstone ·

As niemand jou goddelose uitkyk op die lewe wil aanhang dan probeer hulle maar met “wetgewing”die harmonie versteur.Diegene wat hierdie nuwerwetse vervolging voorstaan,besit geen innerlike vrede in hulle huise,en probeer dan op bg.wyse onmin,ongelukkigheid en tweedrag in ander se huise bewerkstellig.Voorwaar agente van die onderwereld.God sê as jy nie vir My is nie,dan is jy teen My.

SL ·

Jesus het gesê, laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle NIE. Duidelik het hierdie meneer Pietersen nog nie self met Jesus ontmoet nie, nou wil hy die arme kinders ook verhinder wat selfs nie by hul huise van Hom hoor nie. En dit sodat ander godsdienste bevorde kan word. Ons het nuus vir u meneer, Jesus is DIE ENIGESTE WEG TOT DIE VADER en jy sal hierdie kinders se bloed op jou hande dra.

Frikkie ·

““Maar as enigiemand een van hierdie kleintjies wat in My glo, in sy geloof laat struikel, sal dit vir daardie persoon beter wees om in die see gegooi te word met ’n swaar meulsteen vasgemaak om sy nek.”
‭‭MARKUS‬ ‭9:42‬ ‭NLV‬‬
http://bible.com/117/mrk.9.42.nlv

fred ·

Ek weet nie wie presies Hans Pietersen verteenwoordig nie maar ek het onlangs op die radio na ‘n bespreking ivm godsdiens by skole geluister waaraan hy deelgeneem het. Hy is ‘n arrogante, aggresiewe persoon wat ander minag en dink net hy is reg!

jaco ·

Gelukkig doen skole nou hulle eie ding. Ek onthou die Broederbond, die Nasionale Party en die NG Kerk (dié 3 was mos maar eintlik een) se monopolie op wit Afrikaanse skole in die ou SA. Die arme Doppers moes maar saam die NG-gesange sing, die happy clappy AGS kinders moes maar wurg deur die 16de eeuse wysies v.d. Psalms, die Baptiste moes hoor NET babadoop is reg en die arme Rooms-Katolieke het bitter min van dit alles verstaan. Verder is apartheid ook in die godsdiensklas opgehemel as die ideale wil van God.

Awareness hart ·

Hy moet net na die getuienis van Bill Wiese gaan luister op YouTube, dan kan Hy kan Sien en weet Wat op hom wag as Hy aanhou met sy oningeligte besluite.

Frans ·

As almal tog maar hul gesonde verstand gebruik en besef daar kan nie ń klomp gelowe wees, en almal is reg nie. Net een is die waarheid. Watter een? Die een wat voordat dinge gebeur het, neergepen is en dit net so gebeur het as wat opgeteken was. Dus kan daar net een waarheid wees waarvan ek bewus is. Die Bybel. Al die ander is satan se leuns. Daar is niemand anders as Jesus Christus deur wie ons gered kan word nie. Kry gereed want Sy koms is naby.

Disselboom ·

Mense word aangeraai om liewer self die uitspraak te lees en nie op ander mense se interpretasie staat te maak nie. Daar is ‘n goeie rede hoekom daar nie geappelleer word nie, naamlik dat in terme van die grondwet en die wet, die aansoeker reg is.

As ons Christelike skole wil hê, gaan ons dit self moet doen, buite die staatskole. Ons het die grondwet aanvaar, ons neem deel aan die wetgewende proses, en kan nie nou waar die gevolge daarvan ons nie pas nie, vir staatskole ‘n uitsondering vra op die menseregte en gelykheid wat God se enigheid nie erken nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.