Godsdiens in skole: Deeglike voorbereiding noodsaaklik vir toetssaak, sê Fedsas

Argieffoto Foto: http://myhoustonmajic.hellobeautiful.com

Argieffoto Foto: http://myhoustonmajic.hellobeautiful.com

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het gesê deeglike voorbereiding navorsing is nodig vir ʼn toetssaak oor skole se godsdiensbeleid en -beoefening.

Dit kom nadat vandeesweek berig is dat die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) beweer dat die ses skole wat in die hofaansoek genoem word “onnodig voete sleep” met die indien van hul hofstukke.

“Hierdie organisasie vra die hof om bevele wat die praktyke en gebruike in al die meer as 24 000 openbare skole in Suid-Afrika raak – dit gaan nie net oor ses skole nie,” het Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, in ʼn verklaring gesê. “Die ses skole se regspan het gevolglik uitgebreide navorsing laat doen en dit neem tyd. Die verwagting is dat die navorsing en die verslag wat daaruit sal voortspruit teen die middel van Maart vanjaar afgehandel sal wees.”

Intussen werk die regspan en die skole onverpoos om die verslae van ander kundiges voor te berei en in eedsverklarings te vervat wat voor die hof gelê moet word. “Die proses staan allermins stil en daar is van ’n gesloer hoegenaamd geen sprake nie,” het Colditz verduidelik.

Fedsas het verlede jaar versoek dat die grondwethof dit ongrondwetlik verklaar dat sekere godsdienspraktyke voorkeur geniet bó ander. Ses skole word in die aansoek genoem. Die beheerliggame van die ses skole is lede van Fedsas en Fedsas vorm deel van dié beheerliggame se regspan.

“Die applikant (Ogod) maak ernstige stellings in sy aansoek sonder dat dit deur deskundige verslae gesteun word. Die antwoord op die aansoek is omvattend en sal verskeie verslae deur deskundiges bevat om die hof by te staan om ’n besluit te neem. Hier word belangrike grondwetlike punte geopper en dit verg ’n deeglike antwoord,” het hy bygevoeg.

Fedsas is van mening dat dit onvanpas is om die skole se regspan daarvan te beskuldig dat vertragingstaktieke gebruik word. “Hierdie hofaansoek is beteken presies vyf jaar nadat hierdie organisasie die eerste geluide gemaak het oor hofsake teen skole oor godsdiensbeoefening. Tog verwag hierdie organisasie nou van die ses skole om binne ses maande te reageer.”

Volgens Colditz het talle organisasies boonop intussen aangedui dat hulle wil aansoek doen om as vriend van die hof (amicus curiae) tot die saak toegelaat te word. “Dit sal die proses natuurlik verder vertraag. Hierdie is egter nie ’n saak wat bloot so gou as moontlik afgehandel moet word nie. Dit is in die belang van die grondwetlike proses dat daar deeglik voorberei word deur al die betrokke partye.”

Fedsas wil dit ook beklemtoon dat dit hier om geregtigheid en die belange van kinders gaan. Oorhaastige optrede kan tot ondeurdagte besluite lei wat uiteindelik verreikende gevolge vir kinders kan inhou.

“Waar kinders se belange ter sprake is, moet kinders se stem gehoor word. Dit is in beginsel al herhaaldelik deur die grondwethof beklemtoon. Vir ’n toetssaak oor skole se godsdiensbeleid en -beoefening is deeglike en omvattende navorsing dus ’n prioriteit,” het Colditz gesê.

(FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 1800 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Shannon ·

“Waar kinders se belange ter sprake is, moet kinders se stem gehoor word”

Dis nou bv. soos in die geval waar die week oue babatjie reeds ‘in sonde gebore’ word en dan behartig die kerk die gevolglike doop.

In sommige gevalle waar die baba se mening ten volle ooreenkom met die van die kerk sal die kerk selfs as agent vir die minderjarige optree en die besnydenis behartig.

STOP OGOD ·

Só vra jy eers ‘n babatjie se opinie voordat jy hom/haar ‘n bepaalde taal en kultuur aanleer?

ladybug ·

Dis omdat GOD misken word in ons lewens, in ons land, in ons skole, dat dinge so sleg gaan!

Draai terug na GOD en ALLES sal in plek val.

Koekies ·

Die kommentaar op hierdie post sal bewys hoekom godsdiensbeoefening nie in skole hoort nie. Eensydige geloof in ‘n skool is diskriminerend en maar niks anders as wat Saudi se regering laat gebeur in Saudi skole nie.

STOP OGOD ·

Wat in Noord-Korea & China gebeur is ‘n goeie voorbeeld wanneer godsdiens nie in skole plaasvind nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.