Godsdienssaak: Skole dien hofstukke in

paul-colditz-fedsas

Argieffoto: Paul Colditz van Fedsas.

Die beëindiging van godsdienstige praktyke by skole sal ’n steriele, onnatuurlike skoolsamelewing skep, waar individue in hul spoor sal moet trap om nie spontaan aan godsdiensvryheid uiting te gee nie.

Dit is die kern van die hofstukke van ses skole wat in ’n aansoek genoem word waarin die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie vra dat die Grondwethof dit ongrondwetlik verklaar dat sekere godsdienspraktyke voorkeur geniet bó ander.

“Die organisasie se aansoek is ’n inherente skending van verskeie basiese menseregte soos vervat in die Handves van Regte,” het Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), in ʼn verklaring gesê. “Godsdiensvryheid sluit natuurlik die reg in om aan geen godsdienstige praktyke deel te neem nie, maar dit mag nie geskied ten koste van ander se reg op godsdiensvryheid en die reg op vryheid van uitdrukking nie. Die Grondwet maak dit baie duidelik dat geen reg absoluut is nie.”

Die beheerliggame van die ses skole is lede van Fedsas en Fedsas vorm deel van dié beheerliggame se regspan.

Die hofstukke beslaan byna 2 000 bladsye en bevat onder meer die bevindinge van ’n omvattende studie deur ’n psigiatriese forensiese maatskaplike werker, dr. Tanya Robinson. “Die navorsing is spesifiek aangevra omdat die ses respondente oortuig was daarvan dat die stem van die kinders gehoor moes word,” het Colditz gesê.

Leerders het die geleentheid aangegryp, met die oorweldigendste reaksie een van verontwaardiging dat die organisasie nie probeer het om met die leerders self te praat voordat die aansoek geloods is nie. Leerders was erg getraumatiseer oor die implikasies indien die aansoek suksesvol sou wees en godsdienstige praktyke afgeskaf word.

Colditz het gesê die skole se verwere is veelvlakkig. Hy het bygevoeg die belangrikste verweer is dat dit nie in die beste belang van leerders sal wees om met godsdienstige praktyke weg te doen nie, terwyl ’n verskerpte poging aangewend sal word om toenemend akkommoderend op te tree teenoor leerders wat nie wil deelneem aan hierdie praktyke nie.

“In Suid-Afrika plaas die Grondwet sekere beperkings op die beoefening van godsdienstige praktyke by instellings wat finansieel deur die staat ondersteun word, soos staatskole. Dit mag slegs geskied ooreenkomstig reëls wat vasgestel word deur ’n toepaslike owerheidsinstelling. In die geval van staatskole is die beheerliggaam hierdie instelling. Bywoning van godsdienstige praktyke moet vry en vrywillig wees en al ses skole het sodanige maatreëls wat vrywillige bywoning moontlik maak,” het Colditz gesê.

Die insigte wat bekom is uit die voorbereiding van die hofstukke word bykomend gebruik om verskerpte pogings aan te wend om minderheidsgroepe te akkommodeer. “Fedsas is in die proses om sy lidskole te adviseer oor die verfyning van bestaande beleid en reëls.”

Colditz het gesê in ’n land wat na eenheid in verskeidenheid streef, moet versigtig omgegaan word met fundamentele regte. “Godsdiensvryheid is verweef met ander fundamentele regte soos spraakvryheid, vryheid van assosiasie, gelykheid en die reg op basiese onderwys. Dit staan enige leerder en opvoeder dus vry om te eniger tyd en plek daardie regte uit te oefen, mits dit nie die waardigheid van ander aantas nie en dit op respekvolle wyse teenoor diegene wat anders dink of glo, gedoen word,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Max Berg ·

Ds. Stavast en Derik Frances het al 1400 km afgele van hul fietstoer om Afiforum se Hou God in Skole projek te ondersteun .

Tracey ·

Dis as gevolg van die sogenaamde menseregte van die “kenners”wat bo godsdiens gestel word dat die land in die gemors is waarin hy is. Ek lees die nuus en al wat ek sien is hoe mense mekaar leed aandoen. Moord, verkragting, diefstal, haat…onskuldige mense en kinders wat die pyn moet verduur, die lys gaan net aan. Die Here is my beskermer en geen niemand gaan my stop om dit aan my kind oor te dra nie

Gerhard ·

Ek stem saam. Ek werk by n Tronk in die Oos rand. En dis verbasend om te sien hoeveel honger siele daar is wat opgeneem word in die tronk. Wat ook baie kop uitsteek is mense wat betrokke word insluitend kinders by Satanisme. Daar staan in Spreuke dat as jy jou kind van kleins af leer van die wee van die Here sal hy nie daarvan afwyk as hy n volwassene is nie. Ons het God nodig in vandag se tyd.

Shannon ·

Na so 20 jaar van vervolging teenoor kinders wie se pa’s en ma’s godsdiens in ander kinders se kele af stop behoort die fariseërs en sadduseërs se pê geblus te wees.
Dan kan hulle hul godsdiens vat en saam met die Budha monnike, Hari Crash narre en ander kwaksalwers in oranje togas by lughawens gaan diens doen .. terwyl die soet kinnertjies op skool werk konsentreer.

Bid mense ! Bid. Bid harder dat die wêrld julle hoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.