Godsdiensuitsprake is aanstootlik, sê CDP

John Block Foto: TimesLive

John Block Foto: TimesLive

Die Christen-Demokratiese Party gaan ʼn saak by die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe indien ná ʼn uitlating deur die voorsitter van die ANC in die Noord-Kaap.

“Die volgehoue uitsprake van ANC-kaders, met pres. Jacob Zuma aan die voorpunt, wat Christene aanstoot gee, kry net nie end nie, ten spyte van al die mooi versoeke, teregwysigings en selfs baie ernstige kritiek soos dat dit op godslastering neerkom,” sê ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP).

John Block, omstrede voorsitter van die ANC in die Noord-Kaap, het, na berig word, gesê om saam met Zuma, wat hy as priester voorgehou het, te wandel, is soos om saam met God te wandel.

“Ons verwelkom dit dat die ANC dié keer beswaar gemaak het deur aan te voer dat Block buite konteks aangehaal word, maar dit verander niks aan die feit dat die ANC volhou om God as politieke werktuig te misbruik nie, boonop om optredes en beleid strydig met Bybelse moraliteit te probeer regverdig nie,” het Botha gesê. “Dit is ook in die teenwoordigheid van Zuma self gedoen, wat so ver ons kennis strek, ook nie Block tereggewys het nie.”

Botha sê dit laat die CDP met geen ander opsie nie as om die saak onverwyld met die kommissie op te neem. “Ons sal ook vasstel of dié optrede om Christen-kiesers aanstoot te gee nie op ‘n skending van die verkiesingskode neerkom nie.”

Lees ook:
ANC betwis godslasterlike artikel
“Om saam met Zuma te loop, is soos om saam met God te loop”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Veronica Deacon ·

Wanneer daar ookal probleme opduik wat die ANC aanbetref, ongeag of dit nou Zuma is of nie, is die alewige verskoning dat die “onskuldige” altyd buite konteks aangehaal is. Dis verblydend om te sien daar word opgetree.

Johan Kitshoff ·

Dis sekerlik die rede agter die hangende hofsake teen John Block se vergrype aan korupsie ..
Hy loop saam met sy aardse godtjie die selfde pad van ongeregtigheid en korupsie . Sterkte CPD met jul saak . Waar is die ander partye ?

Alida Engelbrecht ·

Dankie CDP dat daar uiteindelik iemand is wat iets probeer doen aan die volgehoue Godslastering waaraan die ANC hul skuldig maak.” Hulle sal regeer tot Jesus kom; Om in die hemel te kom het jy n ANC lidmaatskap nodig; Jesus self is geklee in die kleure van die ANC.” Dit is van die uitlatings wat hulle al gemaak het. Die jongste uitlating : “Om saam met Zuma te stap is soos om saam met God te stap” Dit is soos dolke in my hart, maar dit help nie ek kla nie. Ek hoop daar sal nou n einde aan kom. Die Bybel belowe :” Wie My naam ydelik gebruik sal nie ongestraf bly nie” Is dit miskien hoekom die ANC nou so baie probleme het ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.