Goed, beter, Bokke!

Die Springbokke vier Cheslin Kolbe se briljante drie. (Foto: APA)

Die Springbokke het hul beste wedstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan vir laaste gelos ná hulle vandag vir Engeland in die eindstryd verrinneweer het.

Siya Kolisi het die derde kaptein in Springbok-geskiedenis geword om die William Webb Ellis-trofee omhoog te hou, ná die Bokke 32 – 12 met die Engelse Rose in Jokohama klaargespeel het.

En as jy gedink het die Engelse het verlede naweek die All Blacks geboelie; die Bokke se voorspelers was vandag soos skoolboelies op groeihormone en hulle het die stomme Rose behoorlik pap gedruk.

Owen Farrell-hulle was so te sê permanent in trurat in die skrumsituasie, terwyl Duane Vermeulen waarskynlik die Springbok-wedstryd van sy lewe gespeel het.

Handré Pollard was suksesvol met ‘n rits stelskoppe tydens die Wêreldbeker. (Foto: ANA)

Vergeet van dáárdie aangee na Fourie du Preez in die 2015-kwarteindstryd op Twickenham, vandag was hy briljant onder die hoë bal, terwyl hy vreesloos onder die Engelse ingeklim het. Hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

So van hoë balle (en dan ook skoppe) gepraat: Willie le Roux hét raakgevang en Faf de Klerk het aansienklik minder as in vorige wedstryde geskop.

Trouens, die Bokke het ’n haas uit die hoed gepluk en glad nie hul “vervelige” rugby van vroeër gespeel nie. Hulle was avontuurlustig, aanvallend en vandag net pleinweg uitstekend. Hulle het twee bobaas-drieë gedruk, terwyl Engeland op Farrell se skopvoet vir punte moes staatmaak.

Die verstandhouding tussen Makazole Mapimpi en Lukhanyo Am vir die Bokke se eerste drie was iets wat huweliksberaders voortaan in spanwerk-voorbeelde kan gebruik, terwyl Cheslin Kolbe weer met sy voetwerk getoor het om die verdedigers te flous.

Siya Kolisi ontvang se wennersmedalje. (AP/Eugene Hoshiko)

Trouens, as Kolbe nie in die binnebaan is om Wêreldrugby se speler van die jaar te wees nie, moet die uiteindelike wenner van dié toekenning dan werklik goed wees.

En indien daar nog diegene is wat mor dat Nieu-Seeland die beste span by die toernooi was: Die Bokke sou waarskynlik vandag ook vir die All Blacks ’n ding of twee gewys het.

Dra dus jou Springbok-trui met trots en braai tot laat vanaand. Want in Japan brand die Springbok-vreugdevure tans baie hoog.

  • Dit is die derde keer wat die Springbokke die William Webb Ellis-trofee omhoog hou. In 1995 was dit Francois Pienaar, in 2007 was dit John Smit en in 2019 was dit Siya Kolisi.
  • Puntemakers:

Suid-Afrika: Drieë: Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafskoppe: Pollard (6).

Engeland: Strafskoppe: Owen Farrell (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Daan ·

Die Bokke was vreesaanjaend vandag. Dit het nooit gelyk of Suid-Afrika die een gaan verloor nie. Die 2 driee was ekstra lekkerte. Veels geluk aan die spelers. Dan het Rassie Erasmus seker vandag sy kritici se monde vir altys gesnoer. Hy is ‘n buitengewoon begaafde afrigter.

Penellope Jones ·

My senuwees was totaal op!
Maar darem toe die moeite werd gewees!
Geluk Bokke!

Swartwolf ·

Bokke was briljant. Voorspelers was brutal en engelse het geen antwoord in die vaste 5 gehad nie. Duane man of the match no better choice. Die eintlike leier van die pak. Ordentlike pakslae vir die engelse. Geluk bokke !!

andre ·

Ek moet erken dat ek die kwotaspan nie ‘n kans gegee het nie. Ek is aangenaam verras!

Rassie en sy span het ‘n ‘wonderwerk’ verrig!

BAIE GELUK!

Linda ·

Congratulations, Rassie and Springbok team, you made us once again proud !!!!

Wiehan ·

En daar vang Rassie alweer die rugby wêreld met ‘n slap riem . Hy bly ‘n fantastiese strateeg. En ja, Baie van ons het gemoan oor sy styl en span keuses. Briljant Rassie en die hele BOKSPAN.
Ek hoor gister die volgende op radio wat ‘n vrou vir RSG ge-SMS het:
In 1995 wen die Cheetahs die Curriebeker. In 1995 wen BOKKE Ellis Web beker.
12 Jaar later in 2007 wen Cheetahs weer Curriebeker. In 2007 wen BOKKE weer Ellis Web beker.
12 Jaar later in 2019 wen Cheetahs weer Curriebeker. Toe sê sy ons gaan weer Ellis Web beker wen.
So waar. Hoop net nie ons wag weer 12 Jaar nie. 4 Jaar sal genoeg wees

Boy van die Suburbs ·

Julle 12 jaar geneem, maar toemaar! Nietemin, wel gedaan Bokke! Geniet julle trofee! Oor 4 jaar is hy weer die AB’s sin!

JohanR ·

Dink Rassie het altyd geweet ons gaan die Beker wen. Net jammer hy bly nie aan nie. Se maar….what a Team, and what a Coach!!

Rassie was reg. ·

Skrum op sy beste!!! Beast jou doring! Tweede keer wat hy ‘n Engelsman skrum dat sy oor bloei. Die eerste een was Vickery.
Rose was pap gespeel voor. Bokke het opgedaag, uitgehaal en gewys . Job well done! Was mooi om te aanskou. Brexit happened! Finally.

Essa ·

Hier is mense wat vir my in vreemde tale praat. Ek wil net geniet dit wat oor S A se rugby oorwinning gepraat word en deel in die vreugde. . Baie geluk aan die Springbokspan – spelers, afrigters, bestuur, alle rolspelers. Dis ‘n moewiese lekkerte vir ons land en mense. Kom ons geniet dit saam.

F ·

Praat ek nou nonsens of is dit nie ook die 1ste keer dat die wenner van die beker nie hul afdeling gewen het nie?

Adri ·

Tog interessant dat die skeidsregter hierdie keer skynbaar geen foute begaan het nie! So werk dit mos maar. Gee vir hom ook ‘n goue medalje (indien Engeland saamstem).

Karlahari ·

Wen die Cheetahs die Currie beker wen die Bokke die wêreld beker.
Rassie se plan was dat Willie en Faf swak rugby moes speel tot vandag ……
Dit was mooi. Suidelike halfrond wen die Noorde.

Dienkie ·

Ag toe Kolskoot, waarom so negatief wees, wees eerder trots op die Bokspan want hulle het immers die Wereldbeker gewen.

Kolskoot ·

Lag nou lekker gewag dat iemand die aas gaan vat
Bokke Bo

De Villiers ·

Skitterend!!! Voorlangs het ons gedomineer en strafskoppe afgedwing, die verdediging, soos regdeur die toernooi, was rotsvas, die eerste helfte het ons hulle saggemaak en die tweede helfte die krane oopgedraai.

Ons was nie die gunstelinge nie, wat ons dus gevaarlik gemaak het. Ek is bly vir dié oorwinning, want kan jy jouself indink hoe arrogant die Engelse sou wees as hulle in dieselfde jaar beide die Wêreldkrieket- en -Rugbybeker moes wen. Mooi so Bokke, ons is soooooo trots op julle. Dis net jammer dat Rassie uittree.

Piet ·

Om af te dwaal van blydskap – die spanpoging, van afrigter tot plaasvervangers wys ons presies in watter doolhof die Proteas is.

Annetjie ·

En daar se hulle weer die All Blacks was die beste span by die wereld beker ??

Huh as hulle was hoekom het Engeland hulle gewen?? Go Bokke !!!! Go Fafster !!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.