Goedemoed-tronkbewaarder uit op borgtog

Argieffoto: ANA.

ʼn Tronkbewaarder van die Goedemoed-gevangenis in die Suid-Vrystaat wat vermoedelik ʼn gevangene aangesê het om twee van sy vrouekollegas te vermoor, is borgtog toegestaan.

Mojalefa Letele (49) het Dinsdag in die Rouxville-landdroshof verskyn waar hy op borgtog van R10 000 vrygelaat is.

Brig. Motantsi Sam Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die saak word nou na die Bloemfonteinse hooggeregshof oorgeplaas waar Letele na verwagting weer op 25 Maart sal verskyn.

Hy word van moord en die sameswering om moord te pleeg aangekla.

Dít volg ná ʼn voorval in Maart 2019 waartydens ʼn 35-jarige vrouetronkbewaarder, Nomsa Joyce Stuurman, en haar 33-jarige kollega (wie se naam nie bekendgemaak is nie) met ʼn mes gesteek is terwyl hulle aangehou is deur een van die gevangenes. Die kollega is ook verkrag.

Maroela Media het vroeër berig die gevangene, Jongikhaya Samsam, wat ten tyde van die voorval besig was om twee lewenslange vonnisse uit te dien, het Letele tydens die verhoor by die gebeure betrek.

Hy het aan die hof vertel hoe Letele hom aangesê het om die twee vroue te verkrag en te vermoor. Hy is op 31 Oktober deur die Bloemfonteinse hooggeregshof nóg twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moord, verkragting en aanhouding van die bewaarders.

Die ondersoek na Letele se betrokkenheid is toe voortgesit en hy is in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Wou Kollega laat vermoor. Uit op borg? Hoe gebeur dit behalwe as die Aanklaer weer nie sy/;haar werk geforn het nie. Kan iemand verduidelik hoe die stelsel werk asb. My brein is te klein.om te verstaan

antieke antie ·

Wou laat vermoor…..hulle is dood so hulle is vermoor….. en nog iemand wat eintlik nie moet los loop nie kan nog moorde reel?…. wanner gaan bevoegde mense in beheer wees wat sulke besluite moet neem….met die geskiedenis in die land dat baie kriminele op borgtog weer en weer moor …ai

Niklaas ·

Die berig is vaag en maak nie duidelik of beide vroue dood is of is daar een oorlewende nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.