Goedhartige trio help straathonde op Villiersdorp

Ryan en Shané (foto: Verskaf)

Die straathonde van Villiersdorp in die Wes-Kaap se Overberg-streek kan snags ʼn bietjie rustiger slaap want daar is mense op dié dorp wat sorg dat hulle daagliks vars kos en skoon water kry.

Ryan van Wyk is die mede-eienaar van die Puma-vulstasie op Villiersdorp en een van die mense wat omsien na straathonde wat geen ander heenkome het nie.

Van Wyk, sy meisie, Shané Smith, en hul vriend Milan Cronje sien jare lank al om na straathonde op dié dorp – en die welwillendheid eindig ook nie by die kos en water nie.

Van Wyk vertel dat sy liefde vir straathonde begin het toe Cronje sowat drie jaar gelede ʼn inskrywing op Facebook gemaak het oor ʼn hond wat op die dorp aangerand is.

“Ek wou hoor hoe dit met die hond gaan en het later ook die hond se veeartsrekening betaal. Daarna het ek, Shané en Milan begin saamwerk om hierdie soort honde te rehabiliteer en nuwe huise vir hulle te kry,” sê hy.

Een van die honde, Vettel, voor die trio hom gehelp het (Foto: Verskaf)

Vandaar het Van Wyk, Smith en Cronje ook ander diere begin help wat hulp nodig het.

Hulle sal ʼn dier veearts toe neem, seker maak die hond kry al die inentings wat nodig is en word gesteriliseer, en hulle dan wend tot Facebook om vir die honde ʼn nuwe, veilige tuiste te vind.

Van Wyk sê die welstand van straathonde lê hom baie na aan die hart en daarom wil hy soveel diere moontlik help.

Vettle na die tyd (Foto: Verskaf)

“Al kan honde nie praat nie is daar ʼn innerlike konneksie tussen mense en honde. Mense kan hulle soveel liefde gee en hulle kan dit vir jou teruggee. Honde kan nie hulself help nie, maar mense kan. As ons dit nie doen nie, gaan dinge net al erger en erger raak,” sê Van Wyk.

By Van Wyk se petrolstasie weet sy werkers dat die water- en kosbakke elke dag gevul moet word. Hy ry ook selfs in die aande rond met hondekos en voer die honde wat nie kos het nie.

Vettel na die tyd (Foto: Verskaf)

“ʼn Hond wat beseer is of wat nie kos het nie, kan nie iets aan sy situasie doen nie – hy moet maar vat wat hy kry. Mense kan wel ʼn verskil maak en as ek as een mens ʼn verskil kan maak in daardie hond se lewe, is dit vir my die moeite werd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Sandra ·

Baie dankie! Julle maak van die wêreld ‘n beter plek. Daar is so baie diere wat wat hulp nodig het, en julle maak ‘n verskil.

Sarel ·

Msg julle geseén word. ‘n Dier se liefde is on oorwaardelik en al wat hulle verlang is om versorg te word

Elmarie ·

Respek vir julle. Dit sal 100voudig terugkom na julle op maniere wat jul nie kan voorsien nie. As ek nou ooit daarlangs sou ry sal ek beslis by julle volmaak. Ongelukkig dink ek nie ek sal ooit daar uitkom maar ek hoop ander lesers versprei die woord en dat mense verseker by julle sal stop. Daar is ‘n spesiale plek in die hemel vir ouens soos julle

KB ·

Mooi vir julle.

‘n Troeteldier is ‘n “commitment” (van liefde gee en omgee) vir 12 -15 jaar. As jy nie daardie verantwoordelikheid kan hou nie, bly sonder ‘n troeteldier!

Samuel ·

Baie dankie vir dit wat julle vir die honde doen. Julle stel ‘n positiewe voorbeeld vir menige mense, veral jongmense.

Strandloper ·

Honde is soos kinders en maak mens se lewe. Dankie vir julle goeie dade jul sal ryklik geseen word.

Hannes ·

Bravo! Ons is aan gestel om te sien na die diere wat die Skepper ons oor aangestel het om te heers. Wees geseënd!

FBS ·

Fantasties se berig. Dit is wat die wêreld moet hoor gewone mense wat omgee en doen vir diere. Nie soos die DBV wat bedel, kla en almal wil leer nie. En ’n gemors maak van hulle oorspronklike pligte. Voorbeeld ’n DBV amptenare besoek ’n abattoir, beveel eienaar om sy slag area so te verander dat een skaap nie sien as die ander geslag word nie. (Wonder hoekom is skaapvleis so duur.) Bravo vir die persone in die artikel dit is werklike omgee.

christo ·

‘n Goedvoel berig! Sterilisasie van troeteldiere is uiters belangrik. Ongelukkig is dit onbekostigbaar vir meeste. Gedurende die Covid-19 pandemie het fondsinsameling ook ‘n verskriklike knou gekry. Die DBV het ook fondse nodig om sekere dienste te kan bied.

Nico ·

Dit is ‘n skande dat mense diere aanhou maar nie kan versorg nie, as jy dan nie diere kan onderhou nie moet dan nie diere aanhou nie. Daar is soveel diere wat verwaarloos word. Dankie vir hulle die moeite doen om na hierdie diere te versorg.

Linda ·

Ek sal nooit weer deur Villiersdorp ry sonder om geld by jou motohawe te bestee nie! Jy is voorwaar ‘n Engel wat tussen ons mense rondbeweeg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.