Goedkoper meter om krag aan Kaapstad terug te verkoop

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad by die bekendstelling van dié nuwe elektrisiteitsmeter (Foto: Verskaf)

Die Kaapstad-metro het ʼn goedkoper elektrisiteitsmeter vir inwoners en ondernemings bekendgestel om hul oortollige krag aan die metro te verkoop.

Die nuwe meter, vir enkelfase-kraggebruikers, is nou beskikbaar en is sowat 40% goedkoper as die driefase-opsie. Die nuwe meter kos R6 043, BTW ingesluit, vergeleke met R10 508 vir die vorige meter.

Volgens Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, is hierdie inisiatief ter ondersteuning van die metro se breër doelwit om mettertyd beurtkrag in Kaapstad te beëindig.

Kaapstad is die eerste metro om oortollige sonkrag van kleinskaalse kragopwekkers te koop in ruil vir munisipale rekeningkrediete en kontant. Ondernemings en huishoudings het reeds meer as R30,8 miljoen verdien, grootliks in munisipale rekeningkrediete, sedert die begin van die 2022-’23-boekjaar tot 1 April vanjaar.

Ondernemings kan sedert Junie verlede jaar kontant verdien vir krag, met hierdie opsie wat ook nou vir huishoudings beskikbaar is.

Teen 1 April vanjaar was daar 1 537 verkopers wat voordeel uit hul oortollige opwekking getrek het. Van hierdie verkopers is 910 huishoudings en 627 ondernemings.

“Die metro sal soveel sonkrag koop as wat huishoudings en ondernemings aan ons kan verkoop ingevolge die ‘Cash for Power’-program. Nie net voeg ons belangrike kilowatts tot ons netwerk nie, ons sit ook geld terug in die sakke van Kapenaars,” sê Hill-Lewis.

Die proses om aansoek te doen vir ʼn nuwe enkelfase-AMI-meter is outomaties indien jy reeds ʼn SSEG-aansoek ingedien het. Indien nie, kan jy die diensverbindingsproses volg om vir ʼn nuwe meter aansoek te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

B-Man ·

Slim van Kaapstad: Spandeer eers ‘n paar duisend voor jy kan begin geld verdien. Jy begin dan eintlik eers geld in jou sak steek sodra die meter afbetaal is. Nogsteeds beter as enige ander ANC-munisipaliteit se plan. Of hoe Rupibliepyn in die Weskaap?

Jaco ·

Net soos met beurt krag waar Kaapstad ‘n vlak agter Eskom is bevoordeel dit net die mense wat direk van Kaapstad krag kry, die ander wat kraan Eskom direk kry kan nie deel neem en Stad Kaapstad het nie die wil om dit oor te neem nie. Maar in tradisionele politiekery sal die DA nie die geheel beeld skets nie, net wat hulle wil hê die mense moet sien.

Manie ·

Die Stad Kaapstad is ook baie voorskriftelik oor welke sonkrag toebehore jy mag installeer. Daar is net sekere goedgekeurde produkte op hulle lys van toebehore en die stelsel moet ook by hulle geregistreer word alvorens jy dit mag installeer. Indien dit oor ‘n spesifieke kwaliteit gaan, kan ek dit nog insien, maar ek betwyfel of dit die werklike rede is en of jy nie later daarop belas gaan word nie, want as jy eers geregistreer is, het hulle jou nommer, rang en naam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.