Goeie begin aan 2024 wink by vulstasies

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Voorspoedige nuwe jaar by die brandstofpompe wink vir verbruikers met die prys van brandstof wat na verwagting volgende maand aansienlik gaan daal.

ʼn Welkome daling in die prys van albei grade brandstof, diesel en paraffien sal druk op reeds gespanne verbruikers help verlig.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê op grond van ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds gaan die prys van 93-oktaan-brandstof na verwagting met naastenby 68 c/liter daal, terwyl 95-oktaan-brandstof na verwagting 82c/liter goedkoper gaan word.

Die prys van diesel gaan na verwagting met R1,50/liter daal en die prys van paraffien met nagenoeg R1,42.

“Die verwagte daling in die groothandelprys van diesel gaan die koste van dié brandstof in die binneland op nagenoeg R20,32 te staan bring. Dit is laer as dieselfde tyd verlede jaar,” sê die AA in ʼn verklaring.

Die verwagte daling word hoofsaaklik toegeskryf aan heelwat laer internasionale produkpryse. Hoewel die rand vroeër nie te waffers teenoor die dollar gevaar het nie, wys data dat internasionale produkpryse die noemenswaardigste rol in die voorspelde dalings speel.

“Die dalings gaan baie help om die druk wat brandstofpryse vir miljoene Suid-Afrikaners veroorsaak – en die uitwerking daarvan op talle ander pryse – te verlig.

“Vir baie reisigers wat met vakansie gaan, is dit ook goeie nuus en dit gaan ongetwyfeld die reis huis toe goedkoper maak,” sê die AA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ekweetniks ·

mmm hopelik verbeter dit nog meer soos ons maandeinde se kant toe staan

Chriszelle ·

En kom einde Januarie dan gaan dit dubbeld weer op wanneer di mense ni meer geld het ni…

Jaco ·

Gewoonlik styg die petrolprys net voor al die “ryk, rassistiese” wit mense met hulle “wit monopolie kapitaal” moet terugry vanaf vakansie. Dié daling in Januarie is seker ‘n verkiesingsfoefie vir 2024 se verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.