Goeie daad lei glo daartoe dat motor oor seun rol

Argieffoto

Die pa van die sesjarige seuntjie wat Saterdag ernstige beserings opgedoen het toe ʼn motor agteruit oor hom geloop het, sê sy kind se poging om ʼn goeie daad te verrig het tot die traumatiese voorval gelei.

Die pa, wat versoek het om anoniem te bly, het aan Maroela Media gesê hy en sy vrou is seergemaak oor die aannames en uitsprake wat sedertdien op sosiale media gemaak word. “Baie mense sê dat my seun in die motor gespeel het of dat daar drank betrokke was toe die ongeluk gebeur het. Dit is vir ons bitter sleg om hierdie goed te lees, want dit is mense wat aannames maak, maar nie self daar was om te sien wat gebeur het nie,” het hy gesê.

Hy verduidelik dat hy, sy vrou en hul seun die middag by vriende in Germiston in Gauteng gaan kuier het. Hulle was buite in die tuin waar hulle gehelp het om doringdraad bo-op die heining aan te bring. Toe dit skemer word, is almal die huis in om die kinders te bad en aandete te gee.

“Dit was toe dat my seun besluit het hy gaan ʼn goeie daad doen en vir Pappa help deur die hek toe te maak. My motor het in die oprit teen ʼn helling gestaan. Ek het vroeër ʼn plank agter een van die wiele gesit om seker te maak dat die motor nie agteruit rol nie,” verduidelik die pa.

“My seuntjie het die motor gestoot omdat hy gedink het hy gaan hom vorentoe stoot sodat hy die hek kan toemaak. Die motor het hom omgestamp teen die grond en die wiel het oor sy beentjie gerol.” Volgens die pa het die motor tot teen die hek gerol en veroorsaak dat die hek omval voordat die motor tot in die straat geloop het.

“Toe die motor my seun stamp en hy skree, was ons klaar daar. Ons was onmiddellik by hom. Sy een tand was gebreek en sy lippie het gebloei. Ons het hom opgetel en op die gras neergesit en ʼn mediese suster wat in die huis langsaan woon het dadelik na hom gekyk.”

Die pa het gesê hulle het die ambulans gebel en terwyl hulle gewag het, het ʼn polisievoertuig voor die huis verbygery. Hulle het die voertuig tot stilstand gebring en die polisiebeamptes het die paramedici oor die tweerigting-radio ontbied. ʼn Helikopter is ontbied om die kind na ʼn hospitaal te neem omdat paramedici gevrees het dat hy moontlik inwendige beserings opgedoen het.

Volgens die pa was die seun deurentyd by sy volle bewussyn terwyl paramedici hom behandel het. “By die hospitaal het hulle X-strale geneem en dit het getoon dat sy femur in een van sy bene gekraak is. Sy heup het uit sy potjie uitgeskuif en sy sleutelbeen is gekraak. Hy het egter geen inwendige beserings opgedoen nie en die dokter het gesê sy hartjie, sy longe, sy lewer, alles is oukei.”

Die seuntjie het gips oor die grootste deel van sy lyf gekry wat oor ses weke weer verwyder sal word. Hy is Maandag uit die hospitaal ontslaan.

“Die dokter het vir ons gesê ons seun het eintlik lig daarvan afgekom. Ons is baie dankbaar dat hy nie erger seergekry het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

PetroD ·

Baie dankbaar saam met julle dat die kleinman nie te ernstig beseer is nie. Hulle is so vindingryk en probeer grootmense dinge doen. Hy gaan nog ‘n yster word – en moenie julle aan al die ou natbroeke steur nie. Dit was ‘n ongeluk.

Pikkie ·

So iets gebeur vinnig. Na alles … betreklike goeie einde .. sterkte vir almal

Celeste ·

Die slimste mense is gewoonlik die wat nie op die toneel was nie maar tog iets wil kweitraak, maak nie saak of hulle twak praat nie. Ongelukke gebeur elke dag. Baie sterkte. Moenie te hard wees op julleself nie.

Carel 2 ·

“oor sy beentjie” grol? Hoekom is meeste van sy lyf dn in gips? Die stories klink nie so reg nie????

Jakoba ·

Carel gaan lees weer dan sal jy dalk vertaan hokom sy lyfie in gips is: By die hospitaal het hulle X-strale geneem en dit het getoon dat sy femur in een van sy bene gekraak is. Sy heup het uit sy potjie uitgeskuif en sy sleutelbeen is gekraak – verstaan jy nou?

Erika ·

Baie sterkte! Jou seun gaan tenvolle herstel en jou weer help…

Skerp Spioen ·

Ek hoop julle seun herstel volkome. Dit is werklik hartseer om te sien hoe die mensdom besig is om te verander in ‘n wrede, ongenaakbare plek sonder omgee. Maar gelukkig nog nie almal nie. Fokus op die positiewe en sterkte vir julle.

LS ·

Sterkte!!!
Hopenlik lees almal wat ‘n eier te le gehad het hierdie berig en hou op skinder!!!
Hoop hy sterk gou aan shame, ‘n ongeluk gebeur TE VINNIG !!!

Helien ·

Stem saam jou. Altyd n geskinder. Wil ook altyd by las. Is beter om stil te bly as jy daar was kan jy iets se as jy sou wou. Bly die kind is ok. Ongelukke gebeur veral by kinders en vinnig ook

Sjoe ·

Ek sê net sjoe, dat die kleinman wou help is verseker, alle kindertjies doen dit. Ek sal eerder glo handrem as om die kar te stoot…. Dit is regtig bietjie vergesog dat ‘n 6 jarige ‘n kar kan stoot en aan die rol kry bo oor ‘n plank en ek glo nog in rat ook. Die ongelukke gebeur en mens is net dankbaar as dit nie noodlottig is nie.

Alet ·

Ongeluk gebeur so vinnig. Bly hy is okay. Sterkte met die Klein man se herstel.

Swannie ·

`n Plank is agter die motor feplaas omdat dit teen `n skuinste gestaan het !!
Geen melding word gemaak dat die handrem aan was of nie,
MAAR nogtans word beweer `n 6, ja SESjarige seuntjie stoot die motor (opdraend), voordat dit terugloop.

Ek laat my nie daai strooi vertel nie. Ek is ouer as ses en glo nie meer aan Superman nie.

LB S ·

Ai Swannie, ek kan nie help om met jou saam te stem nie. Ek het dit weer gaan lees omdat dit vir my ook nie sin maak nie.

Toppie ·

Storie klink nie lekker nie , bomenslike krag van die kind om motor opdraend te stoot en terselfde tyd moontlik plank te verwyder, klink of handrem ook nie gewerk het nie. Watse motor was dit

Se net ·

Toppie, Swannie, Sjoe en al jul ander se negatiewe reaksie spreek boekdele. Jul is al so ingeprop van al die gemors wat deesdae gebeur dat jul geensins meer opbouende goed kan se nie. Ek verstaan want sien jul ken nog nie Jesus se liefde nie. Jul was veronderstel om die ouers sterkte toe te wens en vir die seuntjie te bid. Maar nee, ons volkie bewys elke keer wat tussen die twee ore sit. Die tong, die dierbare tong waarvan die Here se woord praat. Tweesnyende swaard. Toemaar ouers gelukkig is dit nie almal wat veroordeel nie. Sterkte bid en dink aan julle gesin.

Nicoleen ·

In 1993 het ons motor ook op “n helling in my malle sê erf gestaan. Ek het verby die eetkamer se venster oppad kombuis toe geloop toe my oog iets uit die regteroog vang. Dit was ons motor wat agteruit teen die helling af gehadloop het. Onverklaarbaar. Gelukkig niemand seer gekry want almal was in die huis. Sterkte vir julle en mag hy tenvolle herstel.

E Spice ·

Ons dank ons ABBA Vader dat my peet kind ok is en God het sy hand van beskerming oor hom ge hou.

Ons stuur ons nie aan die mense wat wil slegte dinge se nie. Daar was die waarheid gepraat oor wat gebeur het.

Ons dank ons ABBA Vader dat my peet kind nog lewe en dat God sy hand van beskerming oor hom gehou het.
Ons stuur ons nie aan al die mense wat slegte dinge wil se nie die waarheid van die ongeluk is gese wat gebeur het.

My mening ·

Daar sal altyd die wees wat gaan oordeel en klippe gooi. Ek weet sommer dat die kleinding n baie gelukkige seuntjie moet wees wat in n positiewe en liefdevolle omgewing grootword. Ek mag verkeerd wees, maar dit klink of sy pappa iemand is wat gereed staan om enigiets vir enigiemand te doen, so kan iemand die kind blameer om iets vir pappa ook te doen? Monkey see, monkey do.

Wat maak dit saak of daar n plank was agter die wiel? Wat maak dit saak watter voertuig dit is? Die antwoord maak nie saak nie, mense! Of hy nou n Ford of opel ry, of dit n stukkie pressed wood of emboya agter die wiel was, dit maak nie saak nie. Wees eerder dankbaar saam die ouers en familie en hou op vinniger wys

Jakoba ·

God sal almal wat so veroordeel met dieselfde maat veroordeel. Onthou mooi jy sal met dieselfde maat verdoordeel word deur God waarmee jy oordeel

SARIE VAN HEERDEN ·

LES VIR DIE PA. Mens moet noe nodig he om ‘n plank agter/voor jou motorwiel te sit om te keer dat hy beweeg nie. Daarvoor het die motor ‘n remstelsel.

Blue ·

Party mense is darem maar vetraag. Sal altyd kritiseer. Ek het al ongelukke sien gebeur en dinge sien gebeur wat nie moes gebeur het nie, maar dit het gebeur, soos ook hierdie geval. Kom ons wees saam met die ouers bly oor hulle kind ok sal wees.

Mariska Botha ·

Ons se baie dankie vir al die simpatie en goeie kommentare. Ons se ook nogmaals dankie vir al die gebede. Dit was net deur die genade van ons hemelse pappa Vader dat my seuntjie geen ernstige beserings opgedoen het nie. En vir die wat ons kritiseer en oordeel of n storie soek wat daar nie is nie……..bid asb dat n ongeluk nooit met julle sal gebeur nie. Ons harte was en is stukkend en sukkel nogsteeds om die tragedie te verwerk. Dit is iets wat ek vir niemand toe wens nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.