Goeie data-nuus vir verbruikers

entrepreneur-onderneming-rekenaar-selfoon-skootrekenaar-skryf-notas

Foto: Pixabay/Pexels.com

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) het sy besluit bekend gemaak om van sy regulasies oor selfoondienste te verander.

Die veranderinge bevat belangrike bepalings oor onder meer data wat verval en buitebondeltariewe. Verbruikers maak al lankal hul stemme dik daaroor omdat data vir slegs so ’n kort tydjie gebruik kan word voordat dit verval. Boonop meen kenners dat die Wet op Verbruikersbeskerming oortree word omdat data so gou verval. Ina Opperman verduidelik wat die veranderinge behels.

Nuwe regulasies

Okosa het sy eindgebruiker- en intekenaarsregulasies hersien nadat baie verbruikers gekla het oor wanneer data verval, en oor die reëls oor buitebondeldata, wat veral arm verbruikers se sakke raak. Die regulasies reguleer egter nie die pryse van data direk of indirek nie, maar is gerig daarop om minimumstandaarde in te stel vir die verskaffing van data, SMS’e en stemdienste in ooreenstemming met die Wet op Elektroniese Kommunikasie.

Konsepregulasies is op 7 Augustus verlede jaar gepubliseer om verbruikers die opsie te gee om ongebruikte data oor te dra, nuwe tydperke in te stel waarbinne databondels geldig moet bly, te sorg dat kennisgewings uitgestuur word oor hoeveel data gebruik is, dat verbruikers die geleentheid moet hê om te kies of hulle buitebondeltariewe wil betaal as hulle nog data wil koop en dat verbruikers ongebruikte data kan oordra na iemand anders op dieselfde netwerk.

Die finale regulasies word binne die volgende paar dae in die Staatskoerant gepubliseer.

selfoon2_vuurvreters.jpg

Foto: pixabay.com

Die veranderinge bepaal:

  • Diensverskaffers moet verbruikers die geleentheid gee om ongebruikte data oor te dra na die volgende maand sodat hulle nie ongebruikte data verloor nie. In die konsepregulasies is voorgestel dat data van tussen 1MB en 50 MB vir ten minste tien dae geldig bly, terwyl bondels van meer as 20GB vir 24 maande moet geldig bly. Verbruikers sal eers meer duidelikheid hieroor kry wanneer die regulasies gepubliseer word.
  • Netwerkverskaffers moet verbruikers in kennis stel hoeveel data gebruik is. Dit moet gedoen word wanneer 50%, 80% and 100% van stem- en teksdienste gebruik is.
  • Verbruikers moet kan kies of hulle buitebondeltariewe wil betaal vir data, teks en SMS’e en -stemdienste. Volgens die konsepregulasies moet diensverskaffers ’n meganisme verskaf wat verbruikers in staat stel om te kies of hulle bondelheffings wil betaal wanneer hul data opgebruik is. Verbruikers moet die keuse kry om nog data te koop en mag nie outomaties vir buitebondeldata betaal wanneer hulle nog data wil koop nie.
  • Verbruikers moet die opsie hê om ongebruikte data oor te dra na iemand anders wat dieselfde netwerk gebruik.

Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 63, wat handel oor voorafbetaalde sertifikate, krediete en bewyse, bepaal dat dit nie mag verval nie voor a) die datum waarop die volle waarde daarvan afgelos is in ruil vir goedere of dienste of toekomstige toegang tot dienste nie of b) binne drie jaar na die datum waarop dit uitgereik is nie. Dit is belangrik om te sien of die nuwe regulasies artikel 63 gaan nakom, aangesien dit deel was van die konsepregulasies, maar ook baie voorleggings tot gevolg gehad het van netwerke wat nie tevrede was daarmee nie.

Die Nasionale Verbruikerskommissie

selfoon-pexels

Foto: Pexels.com

Die Nasionale Verbruikerskommissie het gesê die kommissie sal wag vir die publikasie van die finale regulasies voordat hy kommentaar gaan lewer.

Die woordvoerder van die Nasionale Verbruikerskommissie, Trevor Hattingh, het vroeër gesê die kommissie glo dat ongebruikte data vir drie jaar geldig moet wees voordat dit verval. “Indien dit onmoontlik is om data vir so lank te hou, moet die netwerk dan ’n billike aanbod doen en verbruikers die geldwaarde van  ongebruikte data terug betaal.

“Die kommissie glo ook dat kontrakdata geldig moet wees vir die duur van die verbruiker se kontrak en dat die netwerk die verbruiker moet uitbetaal vir ongebruikte data teen die vervaldatum van die kontrak of wanneer die verbruiker dit kanselleer.”

Waarom pas die kommissie dan nie die wet toe in die geval van data nie? “Die kommissie het met die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) ooreengekom dat Okosa die telekommuniaksiesektor hanteer, en daarom het Okosa die konsepregulasies hanteer oor die koste en tydsduur van data. As reguleerder hanteer Okosa dit dus en nie die kommissie nie,” het Hattingh verduidelik.

Die kwessie kan egter ondersoek word en indien daar bevind word dat die netwerkverskaffer nie voldoen aan die bepalings van die wet nie, kan dit verwys word na die Nasionale Verbruikerstribunaal om daaroor te beslis en ’n bevel uit te reik waaraan die netwerk moet voldoen.

Die kommissie het ’n voorlegging aan Okosa gedoen waarin verduidelik word wat die wet vereis van netwerkverskaffers en dit is ingesluit in die tweede stel konsepregulasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Tokkie ·

Dit is hoog tyd dat die selfoon reuse vasgevat word – ons almal het ons al vasgeloop in data wat opraak en dan buitesporige rekeninge ontvang – die regering doen vir een keer iets reg vir n verandering

Riaan ·

Al wat nou gaan gebeur is dat hulle die prys van data gaan verhoog om op te maak vir die data oordrag petalje……

CWS ·

Data hopeloos te duur veral vir pensioenarisse….hoekom kon blackberry vir baie jare net R59 vir 30dae gevra het?….

Regtig? Blackberry?? ·

…. hahaha. En nou is Blackberry waar?

Soos die petrolprys verhoog gaan ons nou maar meer kan sms en bel en WhatsApp en FB….

Elmarie ·

Ons ervaar die afwesigheid van vorige vinnige en maklike sein deur Vodacom ‘n groot frustrasie en probleem. Ons sukkel selfs deesdae om in ons huis sein te kry. Soms neem dit etlike minute om in te teken op facevook, iemand te skakel of op ander toeps aan te teken…is dit ‘n doelbewuste set om jou date op te vreet sodat jy vinniger uit date loop en meer gereeld moet aankoop? Ek ruik ‘n rot.

LMJvR ·

My Vodacom sein het ook uiters swak geraak. Na vele onsuksesvolle navrae, het ek oorgeskakel na MTN. Dit was baie beter, ——– vir ‘n rukkie. Nou is MTN ook net so swak, kry sms’e en WA eers volgende dag. Hul gekontak, so 4 weke later kry ek nogal ‘n oproep van hul tegnikus wat my meedeel dat hul so pas ‘n nuwe toring met sterker sein hier in Vredenburg opgerig het wat sterker sein uitstuur.
My hoera was van korte duur, DIE SEIN IS SWAKKER. Almal hier rond kla oor die swakker sein, en kry MTN nou nie meer gekontak nie.
Eish.

LB S ·

Die probleem is hulle opvang atennas. Daar is eenvoudig te veel verbruikers vir die torings.

Marinda ·

Ek wonder of dit regtig enigsins ñ verskil gaan maak. Kry ñ sms van mtn so om en by die 10 April om my in te lig dit kos my nou R2.60 per minute op mtn zone vir ñ oproep. Het nie eers geweet eks nou op die zone nie, ieg, wag nog steeds vir die email om ander opsies te oorweeg. Om na die mtn hier te gaan is ñ nagmerrie. Een sit jy ure voor iemand jou help, ander een se besigheid doen so goed, hulle doen nie eers moeite om te vra of hulle jou kan help nie.

Chris. ·

Ek wonder of die skrywer van die artikel praat van Okosa of Okasa? Want altwee word ‘n paar keer in die artikel gebruik. En ek wonder of hierdie brief van my deur Maroela Media geplaas gaan word, want ‘n hele paar van my vorige briewe was nie geplaas nie. Wat help dit ‘n mens probeer jou mening hier verwoord en dit word maar net deur iemand wat daar in Maroela Media se kantore sit verwerp. Gaan dit nou eintlik oor my mening of Maroela Media se mening?

Mariné Lourens ·

Dagsê Chris

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Chris Ws ·

Die selfoon netwerke is oorlaai darom sukkel mens so met opvangs.Was 15 jaar by Cell C en eendag – doef!Weg is hul sein.Het gekla en is gebel om te vra wats fout en, en ,en, maar niks het gebeur nie.Toe oor na MTN toe.Vodacom ook te swak in ons kontrei.Nou werk dinge weer.
Dis hoog tyd dat data oorgedra kan word na die volgende maand toe.Die’ dat ongebruikte data sommer verval het na 30 dae is of wat ook al ,is openlike diefstal.Jy’t immers BETAAL vir soveel data en nou vat hulle ‘n deel terug?Die selfoon netwerke moes jare gelede al hieroor vasgevat gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.