Soms kan selfstudie jou net so ver neem en dan is dit nodig dat uitstekende onderwysers intree om konsepte, veral in Ekonomie, verstaanbaar te maak, meen ʼn matriekleerder. Matriekleerlinge het Dinsdag landwyd hul tweede vraestel in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen afgelê.
Hoewel die gemiddelde leerder vrae in die Ekonomie-vraestel goed kon beantwoord, sê ʼn leerder aan Hoërskool DF Malan dat sy onderwyser hom en die res van sy klas deeglik voorberei het om die eindeksamenvraestel behoorlik baas te raak.
“Die vraestel was taamlik maklik,” sê matriekleerder Liam Theron.
“Ons insig is in sekere vrae getoets, maar ons Ekonomie-onderwyser het ons goed voorberei om ekonomiese konsepte te verstaan, eerder as om dit net te memoriseer.”
Die vraestel het uit 150 punte bestaan wat in drie afdelings – kortvrae, dataresponsvrae en langvrae – verdeel is.
ʼn Onderwyser van Pretoria, wat by ʼn skool werksaam is wat aan die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) verbonde is, sê die kortvrae was oor die algemeen maklik en het grotendeels gefokus om leerders se kennis te toets.
Afdeling B het grafieke, ʼn tabel, ʼn spotprent en ʼn leesstuk bevat.
“Hierdie afdeling was goed gestruktureerd en het duidelike instruksies aan leerders gegee,” sê die onderwyser.
“Die langvrae in die laaste afdeling was billik, insluitend die addisionele deel.”
Liam sê die opvolg op die langvraag het sy redeneringsvermoë getoets, maar “weereens het ons Ekonomie-onderwyser ons hiervoor voorberei”.
Die onderwyser sê die vraestel is juis so opgestel om leerders se kennis te toets eerder as om hulle vas te vra. “Daar was ʼn paar moeiliker agtpuntvrae, maar oor die algemeen dink ek leerders sou die vraestel met gemak kon beantwoord.”
Vir Liam was daar niks in die vraestel wat hom verras het nie, aangesien die samestelling daarvan soortgelyk was as dié van vorige jare.
“Daar is ook groot klem gelê op onderwerpe wat op die ekonomiese omgewing van Suid-Afrika van toepassing is,” sê hy.
Nie eens die tydsduur, twee ure – het Liam gepla nie. Volgens die Pretoriase onderwyser was daar net genoeg tyd om die vraestel te voltooi, daarom moes tydsbestuur goed wees.
“Andersins was daar geen ander verrassings of uitdagings voor leerders gestel nie,” sê die onderwyser.