Goeie nuus: 12-jarige red sussie van verdrinking

strand_sand_golwe_pixabay.jpg

Argieffoto: pixabay.com

ʼn 12-jarige meisie is in ʼn ernstige maar stabiele toestand nadat sy haar sesjarige sussie Saterdagoggend in Richardsbaai, KwaZulu-Natal, van verdrinking gered het.

“Die twee sussies was op ʼn sandbank naby Pelican-eiland en die twee kinders wou weer terugkeer na die strand,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, verduidelik. Hul pa was saam met hulle in die see en was besig om met sy branderplank te ry.

“Die kleiner sussie het onder die water verdwyn en die 12-jarige het dadelik reageer,” het hy bygevoeg. “Sy het haar sussie die heeltyd na die oppervlak gedruk en net self opgekom wanneer sy moes asemhaal.”

Die pa het gesien die twee sussies is in die moeilikheid en het homself dadelik na hulle gehaas. “Hy het die jongste sussie op die branderplank getrek, en toe hy die ouer sussie nader trek, het hy gesien sy haal nie meer asem nie,” het Botha bygevoeg.

Paramedici het ook dadelik na die pa en die twee dogters gehardloop, en dit was ʼn groot verligting toe die ouer sussie op die strand begin hoes en water uitgespoeg het. Sy het op haar eie begin asem haal.

“Netcare 911-paramedici het die meisie op die toneel behandel voor sy na ʼn plaaslike hospitaal geneem is vir verdere behandeling,” het hy gesê. “Sy is waarlik die held van die dag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

HEVW ·

En so herhaal die verhaal van Racheltjie de Beer hom weer. Baie dapper. Dit sal lewenslank onthou word.

DPJ ·

Mooi so sussie jy het jou knap van taak gekwyt. Hoop jy is sommer gou by die huis waar jy en jou sussie lekker kan speel.

Poppie ·

My seun (toe7) het jare gelede sy sussie (18maande) ook gered. En die beste van alles. Hy kon nie swem. En dit was in die diepkant. Amper altwee my kinders verloor.

Liewe heksie ·

Wat n wonderwerk so tussen al die lelike dinge wat in ons land gebeur Sussie jy gaan vir die res van jou lewe n paar mense en jou sussie se HELD wees xxx

Annamarie ·

Sulke goeie nuus maak mens se hart sommer bly. Mens is dankbaar dat die ousus so vinnig opgetree het en ek bid dat sy gou sal herstel. Sterkte en weet dat jy ‘n heldin in alle opsige is xxx

AmY ·

Baie dankie vir die goeie nuus storie. Ek hoop ousus word sommer gou beter. Sy is waarlik ñ heldin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.