Goeie nuus:  Akteur trap ver vir honger magies

Ivan Zimmermann op sy bergfiets.

Ivan Zimmermann op sy bergfiets.

Die akteur, Ivan Zimmermann, gaan binnekort ʼn fietstoer van Kaapstad na Kaïro in Egipte onderneem om kos vir honger kinders in te samel.

“Dit was nog altyd my droom om deur Afrika te reis vir ‘n goeie doel,” het Zimmermann gesê. As deel van die avontuur, beplan hy om 12 000 blikkies kos vir die Can-a-Kilo inisiatief in te samel. “Ek is van plan om vir elke kilometer wat getrap word, een blikkie kos in te samel.” Die kos sal versprei word deur die Hanna Charity and Empowerment Foundationin Suid-Afrika. Besoek sy webwerf, www.ivanzimmermann.com vir meer besonderhede oor verspreidingspunts van die blikkieskos.

Zimmerman, wat bekendheid verwerf het vir sy rolle in die sepies Egoli en 7de Laan, sal op 9 Januarie 2015 uit Kaapstad vertrek, en beplan om 9 Mei 2015 in Kaïro aan te kom as deel van die Tour d’Afrique 2015-avontuurtoer. Tour d’Afrique is ʼn Kanadese groep wat bekend is vir hul strawwe bergfietstoere deur Afrika. Zimmermann, die enigste Suid-Afrikaner in die groep, neem aan die 13de Tour d’Afrique deel en die groep sal vanaf Suid-Afrika na Egipte deur Namibië, Botswana, Zambië, Malawi, Tanzanië, Kenia, Ethiopië en Soedan ry.

“Ek moet my eie tent opslaan en self my fiets moet onderhou, maar daar is gelukkig is ook ʼn ondersteuningspan wat sal kan help,” het hy bygevoeg. “Dit is ʼn geleentheid wat mens maar eenkeer in jou lewe kan beleef; ʼn droom wat ʼn werklikheid geword het. ʼn Droom wat my sal toets tot die uiterste, maar ʼn droom wat die wêreld sal wys dat leiers nooit tou opgooi nie.”

Ivan was ook in rolprente soos Platteland, Verraaiers, die Egoli Movie en Spook van Uniondale te sien. Hy is volgende jaar tussen Januarie en Maart 2015 ook in Villa Rosa en in Vlug na Egipte tussen Januarie en April 2015 te sien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.