Goeie nuus: Baba wat in lug gebore is, vlieg 21 jaar later self daarheen

Rainier Horak. Foto's verskaf.

Rainier Horak. Foto’s verskaf.

‘n Video en meer foto’s volg onderaan die berig.

Rainier Horak, ʼn student aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) en ʼn vlieënier, het Dinsdag as deel van sy verjaardagvieringe self na die plek gevlieg waar hy presies 21 jaar gelede op ʼn vlug van Tzaneen na Pretoria gebore is.

“Almal kan maklik die hospitaal gaan besoek waar hulle gebore is, maar vir my is dit ʼn ander storie. Dit was nog altyd my droom om die plek te besoek waar ek gebore is, maar ek wou self daarheen vlieg,” het Rainier Woensdag aan Maroela Media gesê.

Rainier se ouers, Carel en Ilze de Nysschen, het saam met hul seun dié belewenis meegemaak.

“Dit was ʼn baie unieke en besonderse oomblik. Dit was die eerste keer wat ek saam met hom gevlieg het en ek is baie trots op hom. Die vlug was beter as 21 jaar gelede,” het Ilze vertel.

Sy het verduidelik dat sy komplikasies met Rainier se swangerskap gehad het en destyds saam met Rainier se biologiese pa, Sieg Horak, en hul dogter, Izel, op Tzaneen in Limpopo gewoon het.

Op 9 Junie 1994 is Ilze vir ʼn noodkeisersnee in ʼn Pipper Arrow na Pretoria gevlieg omdat daar nie geriewe in Tzaneen was om ʼn vroeggebore baba te versorg nie.

“Ons was onderweg na die Wonderboom-lughawe vanwaar ek na ʼn hospitaal geneem sou word. Ons was skaars 20 minute in die lug toe hy besluit het hy wil op 32 weke uitkom.”

Ilze is gelukkig deur ʼn verpleegsuster, Maggie Pieters van Aswegen, vergesel. Dit was die suster se eerste vlug. Die vlieënier, Donald Bissett, het vinnig gedink en die spoed en koördinate van Rainier geboorteplek neergeskryf. Hy is op ʼn spoed van 256 km/h tussen Roedtan en Marble Hall in die lewe gebring.

Met die vier se aankoms by die Wonderboom-lughawe het ʼn ambulans vir Ilze en Rainier gewag en hulle na ʼn hospitaal gehaas. “Die Here was regtig goed vir my kind. Maggie het ons later vertel dat hy op sterwe was en dat sy vir die Here gebid het om hom vir ons te spaar,” het Ilze gesê. Rainier moes sowat ʼn week in die hospitaal se hoësorgeenheid behandel word tot hy sterk genoeg was om saam met sy ma ontslaan te word.

Die noodlot het 10 maande later aan die gesin se deur geklop toe Sieg in ʼn motorongeluk oorlede is. Ilze het ʼn paar jaar later vir Carel ontmoet en sy, Rainier en Izel het na Kempton Park in Gauteng verhuis.

Rainier het gesê hy wou nog altyd ʼn vlieënier word. “Toe ons klein was en gepraat het oor ons toekomsplanne, het ek gesê ek wil lugmag toe terwyl my maatjies gesê het hulle wil army toe gaan.” Dit was nog voor hy besef het hoe besonders sy geboorte was.

“Toe ek op laerskool begin besef waaroor dit alles gegaan het, wou niemand my glo nie. Nie eens my onderwysers nie. Hulle het my eers geglo toe ek vir hulle ʼn koerantuitknipsel daarvan wys wat my ma gebêre het,” vertel hy.

Rainier vlieg al van 2012 by ʼn vliegskool by die Wonderboom-lughawe. Hy het verlede jaar sy private vlieglisensie gekry en beplan om vroeg in 2016 sy kommersiële lisensie te kry.

“Ek vlieg nou net deeltyds, maar wanneer ek vanjaar met my studies klaarmaak, wil ek voltyds vlieg. Hulle sê ʼn vlieënier word nie so gebore nie, maar in my geval is dit so. Ek dink dit was vir my ʼn roeping.”

Rainier het gesê hy sou graag Dinsdag se vlug ook met ʼn Piper Arrow wou meemaak, maar dat dié soort vliegtuig tans maandelikse instandhoudingswerk ondergaan. Hulle het toe met ʼn Cessna 172 gevlieg.

Die drie het omstreeks 08:00 by Wonderboom-lughawe opgestyg en na die koördinate gevlieg waar Rainier foto’s daarvan op sy GPS en sommer ook ʼn selfie geneem het. Hulle het daarna terug gevlieg Pretoria toe.

“Dit was die beste 21ste geskenk ooit en ek is bly my ma kon dit darem dié keer pynloos beleef,” het hy geskerts.

Hier volg ‘n video van toe Rainier die plek bereik het waar hy gebore is:

[wpvideo P4MlAxF5]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eliza-beth ·

Wat ‘n oulike storie tussen al die “doom” en “gloom” en moord en doodslag in ander berigte! Baie geluk met jou verjaarsdag en dat jy jou 21e op so ‘n besonderse manier kon vier!

anet ·

Baie geluk met jou Verjaarsdag!. Hierdie is ‘n baie spesiale storie, en ek is so bly dat alles ten goede vir almal uitgewerk het.

Theresa ·

Dit is nou baie special. Baie, baie geluk en ek is bly dat jou mense dit ook met jou kon meemaak. Ek is seker jou biologiese pa het ook “gesmile” vir julle van daar bo af. Geniet dit en veilig vlieg. Maak jou drome waar……………!!!

Magzie ·

Gods rykste seën met die herdenking van hierdie spesiale mylpaal. Mag jy ‘n wonderlike dag geniet saam met almal wat vir jou lief en dierbaar is.

Launa Dreyer ·

Baie geluk met jou verjaarsdag Reinier. Donald Bissett is my pa. Hy het tot vandag toe daardie dag nog nooit vergeet nie.

Carel de Nysschen ·

Dankie vie al die goeie wense. Launa, ons het oor die naweek met jou Pa kon gesels oor sy ervaring, en hy kon nog ‘n wonderwerk met Rainier se oorlewing verduidelik! Dankie Here!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.