Goeie nuus: Boer in ʼn japtrap uit ontvoerders se kloue gered

Philip Keet. Foto: Verskaf

Philip Keet. Foto: Verskaf

Philip Keet, ʼn boer van Mokopane in Limpopo, is Sondag etlike minute nadat hy op sy plaas deur ʼn groep mans oorval en ontvoer is, ongedeerd uit hul kloue gered.

Keet (39) het Maandag aan Maroela Media vertel hy was by sy plaashuis toe twee mans hom omstreeks 15:10 by die tuinhek geroep het en gesê het hulle wil beeste koop.

Hy is toe saam met hulle na ʼn tweede hek, sowat 40 meter van huis af, waar sowat 12 onbekende mans in twee voertuie, ʼn wit VW-bakkie en swart Toyota Corolla, hom skielik omsingel en begin rondstamp het.

“Een van die mans het sy vinger na my gewys. Hy het my daarvan beskuldig dat ek êrens saam met hom beeste gesteel het,” het Keet gesê. Sy vrou, Robyne, het van die huis af gesien wat gebeur het, hul vuurwapen gaan haal en twee waarskuwingskote in die lug in geskiet.

Die mans het Keet daarna “soos ʼn sak meel” agter op die bakkie gegooi en in albei voertuie van die plaas af weggejaag. Robyne het dadelik hulp ontbied.

Keet was intussen sowat 5km van sy plaas af toe hy ʼn aankomende voertuig sien. Hy het van die agterkant van die bakkie af vir die aankomende voertuig gewys hy het hulp nodig.

“Die bestuurder is ʼn boer van die gemeenskap en het my darem gesien en omgedraai. Hy het die bakkie ingehaal en van die pad af getrek, waarna ek afgespring het.”

Keet en die boer het met die groep mans begin praat, waarna die groep weereens vir Keet beskuldig het dat hy beeste gesteel het. Hulle het uiteindelik saamgestem om saam na die naaste polisiestasie toe te gaan sodat die polisie die saak kan hanteer.

“Ek het saam met die boer in sy bakkie na die polisiestasie gery. Ons was nog op pad daarheen toe die groep in hul twee voertuie weggedraai en in die rigting van die Zebediela-informele nedersetting verdwyn het,” het Keet bygevoeg.

Keet het ʼn saak van ontvoering by die polisie aanhangig gemaak.

Keet het nie ernstige beserings tydens die voorval opgedoen nie. Hy het almal bedank wat hom en sy vrou tydens en ná die voorval bygestaan en vir hulle gebid het. “ʼn Mens besef as jy deur so iets gaan hoeveel jou medemens vir jou omgee,” het hy gesê.

Robyne het na die voorval op Facebook geskryf: “Ons is so innig dankbaar vir vriende en familie. Binne twintig minute het ons lewens verander. Ons is so nederig vanaand. Dankie aan almal op die vlakte, die mense by die Vollies, my familie wat naby en ver is, ons vriende en onbekendes vir hul gebede, bystand en optrede. Heel meeste aan ons Hemelse Vader vir kalmte, en sy ongelooflike genade. Hy is so getrou.” [sic]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Drieks ·

Om net te dink wat Philip moes deurmaak, dit verskriklik.
En dit wag vir elke burger in hierdie land.
Anc moet ons vergoed vir hierdie oorlog sone wat ons in woon..

Petro Bezuidenhout ·

Ek is dankbaar vir die uitkoms en redding van onskuldige lewens.Mag die kwaadwilliges in hulle voetspore gestuit word!

Kerrie ·

Hoekom het hy nie n vuurwapen by hom nie..hy weet mos wat is die stand van sake as jy n boer in die land is..wit of swart..sonder God is ons niks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.