Goeie nuus: Boere kry hupstoot in stryd teen misdaad

Argieffoto

Argieffoto

Die boeregemeenskappe van Senekal in die Vrystaat en Steytlerville en Witkop naby Burgersdorp in die Oos-Kaap het hulp van die Agri Securitas Trustfonds ontvang vir die oprigting van kamerastelsels in hul stryd om misdaad pro-aktief te bekamp. Hulp is ook aan die veiligheidsafdeling van Vrystaat Landbou bewillig om hul dienste in die provinsie te ondersteun.

“Dit bly ʼn omvattende taak om die misdaadprobleem op te los en ons vertrou dat die geldelike hulp van die Trustfonds sal bydra tot ʼn veiliger omgewing vir die gemeenskappe,” het Japie Grobler, voorsitter van Agri Securitas Trustfonds, Maandag in ʼn verklaring gesê.

Grobler het gesê die trustfonds is hoofsaaklik gefokus op ʼn verbetering van die landelike veiligheidsituasie en die ondersteuning is in die vorm van toerusting aan boeregemeenskappe, ná evaluering van versoeke deur provinsiale organisasies en finale goedkeuring deur die raad van trustees. Met dié hulp bevorder die trustfonds paraatheid in die gebiede asook pro-aktiewe optrede met die bekamping van misdaad.

“Met kamerastelsels op strategiese toegangsroetes, word beweging gemonitor wat lei tot toepaslike optrede om kriminele elemente aan te keer. Weens die toename in plaasmisdaad in die Vrystaat en die bystand wat lede van Vrystaat Landbou verlang met die oplos van misdaadverwante klagtes, is daar toenemend druk op dié organisasie se veiligheidsafdeling om aan verwagtinge te voldoen. Die Trustfonds het in dié geval geld bewillig om die veiligheidsafdeling se werksaamhede te ondersteun,” het Grobler bygevoeg.

Grobler het gesê die trustfonds het die afgelope tyd ʼn toename in versoeke vir ondersteuning ontvang. “Terugvoer wys daarop dat toepaslike ondersteuning ʼn verskil aan gemeenskappe se veiligheid maak. Boere en plaaswerkers speel ʼn onmisbare rol as bydraers tot die ekonomie van die land en voldoende voedselvoorsiening. Daarom sal die Trustfonds voortgaan om gemeenskappe te ondersteun om ʼn veiliger omgewing te skep. “

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bruno Stef ·

Lees ek dit verkeerd of is dit net die Trustfonds wat help wat van die Provinsiale regerings se aandeel in so n inisiatief of is dit vir hulle n minder belangrike bysaak.

Peet Schabort ·

Kry ook vir jou: “Sakgids vir Beveiliging (van Individu, Woning, Hoewe en Plaas)” van Dr. Kriek van der Merwe. ISBN 0-620-20957-7
Ook “Plaasbeveiliging, ‘n handleiding vir die boer” van Maj. WM Leonard. ISBN 1 86819 051 X

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.