Goeie nuus: Brandoorlewende Sean kry ‘vyfdag-pas’

Sean Smith in die Milpark-hospitaal. Foto: Verskaf

Sean Smith in die Milpark-hospitaal. Foto: Verskaf

Die brandoorlewende Sean Smith se dokters het vir hom ʼn “vyfdag-pas” gegee sodat hy sy komende 17de verjaardag en Kersfees by sy ouerhuis in Pretoria kan deurbring.

Dit sal die eerste keer in twee maande wees wat hy weer by sy ouerhuis in Therespark in die noorde van Pretoria gaan wees sedert hy op 17 Oktober in Centurion erge brandwonde opgedoen het in ʼn fratsongeluk met petrol.

Hy was sedertdien vir lank onder verdowing met derdegraadse brandwonde aan sy hande, ken, nek en gedeeltes van sy rug, bors en arms.

Hy is aanvanklik na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem waar dié private hospitaal hom op hul onkoste behandel het voordat hy na die Dr. George Mukari-staatshospitaal oorgeplaas is toe daar ʼn plek oopgegaan het. Daar is egter nie ʼn brandsorgeenheid by dié hospitaal nie en geld is ingesamel om hom in Milpark-hospitaal in Johannesburg te laat opneem, waar hy sedert 30 Oktober gespesialiseerde behandeling ontvang.

Hy het sedertdien verskeie operasies ondergaan om sy wonde skoon te maak en van die gebrande weefsel ontslae te raak. Hy het ook tot dusver drie veloorplantings op sy bolyf in Milpark ondergaan.

Hy sou Dinsdag reeds ontslaan word, maar daar was infeksie in sy wonde en sy dokters het toe daarteen besluit.

“Ons het gister [Woensdag] die goeie nuus gekry dat hy vir vyf dae lank huis toe kan kom, waarna hy weer in Milpark opgeneem gaan word sodat sy behandeling kan voortgaan. Hy weet egter nog nie van die goeie nuus nie. Ons sal hom môre daarmee verras as ons hom gaan haal,” het Amoré Jooste, ’n gesinsvriendin en familiewoordvoerder, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Jooste het gesê Sean se jonger broer, Devon, verjaar Vrydag en die hele, hegte gesin kan nie wag om hul ouer boetie weer tuis te hê nie.

Sean se ma, Mé-Lissa, is veral opgewonde.

“Mé-Lissa wou eers vanjaar nie die Kersboom opslaan nie, omdat Sean nie tuis sou wees saam met hulle nie. Maar sy gaan nou inderhaas die boom opslaan. Ons beplan ʼn intieme samekoms vir sy verjaardag en die gesin sal Kersdag saam deurbring. Sean mag nie in die son kom nie en dus gaan hulle maar die meeste van die tyd by die huis deurbring. Mé-Lissa sal sorg dat hy in die vyf dae wondsorg ontvang en die nodige medikasie kry totdat hy weer Woensdag opgeneem word. Ons hoop dat dit sy gemoed bietjie sal lig en hom ʼn hupstoot sal gee.”

Maroela Media het Dinsdag berig Jooste het gesê Sean is emosioneel uitgeput en deesdae baie “af”.

“Hy is baie verveeld daar in die hospitaal. Hy het ook nog baie ongemak van die veloorplantings en raak geïrriteerd. Die hele beproewing het fisieke en emosionele letsels gelaat wat nog ʼn lang tyd gaan neem om te genees. Ons vra dus steeds vir al sy ondersteuners om hom in hul gedagtes en gebede te hou,” het Jooste vroeër gesê.

Lees vorige berigte oor Sean Smith op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

zahn ·

Sterkte ou grote, ek is so bly om te sien daar is vordering!

pieter ·

Sterkte seun so bly ja kan bietjie uitkom en saam met jou familie wees. Geniet die tydjie by die huis.En doen maar wat die dr se jy moet doen die rukkie wat jy uit is sterkte.

Janine ·

Wonderlike nuus vir hom en sy familie! Beste verjaarsdag- en kersgeskenk kon hulle seker nie voor vra nie. Geniet dit!

DPJ ·

Sien God sorg vir Sy kinders. Kry ‘n 5 dag pas om saam met sy familie en vriende deur te bring. Loof God daarvoor.

al ·

sterkte en geseende kersfees. God se genade is altyd groot selfs in die diepstedonkerste tye. Word gou gesond.

BIETJIE ·

GELUKKIGE VERJAARSDAG SEAN.GESEENDE KERSFEES VIR JUL FAMIELIE.STERKTE VIR JULLE.BID ALS SAL GOET GAAN.

Olga Robertson ·

Compliments of the season to my friend Sean and his family. I am absolutely delighted to hear that he received his pass for the festive season. Sean onthou God is getrou en hy sorg vir sy kinders. Mag sy genade jou en jou familie altyd dra en ek hoop van harte dat 2017 vir julle net Vrede, Vreudge en Voorspoed sal inhou. Jy moet sterk staan ou maat en baie geluk met jou Verjaarsdag , bly geseend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.