Goeie nuus: Brandslagoffer Sean na gewone saal oorgeplaas

Sean Smith

Sean Smith

Sean Smith, die tienerseun van Pretoria wat verlede maand erg gebrand het in ʼn fratsongeluk met petrol, is uit die brandwaakeenheid van die Milpark-hospitaal in Johannesburg ontslaan en sterk nou in ʼn gewone saal aan.

Amoré Jooste, ’n gesinsvriendin en familiewoordvoerder, het gesê Sean herstel goed. Nadat hy ʼn maand lank onder verdowing was, kan hy nou al eet, praat en loop.

Hy is egter steeds besig om terugflitse, vrese en nagmerries van sy beproewing te verwerk.

Annerie du Plooy, direkteur van die Hero Burn Foundation, het oor die naweek lank met Sean gesels om hom die nagmerrie-ervaring te help verwerk. “Sy is self ʼn brandoorlewende en hy kan dus by haar aanklank vind. Ek dink dit was goed vir hom om met iemand te praat wat ook al in die brandsorgeenheid gelê het, weet wat in sy kop aangaan en sy gedagtes, vrese, terugflitse, drome en nagmerries verstaan,” het Jooste gesê.

Sy het bygevoeg dat Sean nou baie vrae vra om die verloop van gebeure en die dae wat hy “gemis” het toe hy onder verdowing was vas te stel. Volgens Jooste is die familie besig om vir hom ʼn plakboek saam te stel om hom daarmee te help.

Maroela Media het vroeër berig Sean, ʼn leerder en inwoner van Theresapark in die noorde van Pretoria, het op 17 Oktober derdegraadse brandwonde aan sy hande, ken en nek en gedeeltes van sy rug, bors en arms opgedoen toe sy hemp aan sy lyf aan die brand geslaan het in ʼn fratsongeluk met petrol. Hy het ook inwendige brandwonde opgedoen toe hy vlamme ingeasem het.

Hy is na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem waar die hospitaal hom op hul onkoste behandel het voordat hy na die Dr. George Mukari-hospitaal oorgeplaas is toe daar ʼn plek oopgegaan het. Daar is egter nie ʼn brandsorgeenheid by dié hospitaal nie en geld is ingesamel om hom na ʼn private hospitaal oor te plaas. Hy is later na die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.

Lees vorige berigte oor Sean Smith op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jean ·

Fantasties, nou tree vir tree vorentoe totdat jy heeltemal herstel het. So bly jy het hierdie aaklige gebeurtenis oorleef. Sterkte aan Sean en sy familie.

Pop ·

Absolute wonderwerk. Maar ook dankie aan Unitas hospitaal wat die jong man gratis behandel het tot daar plek was in n ander hospitaal. Die eerste paar uur is van kardinale belang.

Boetman ·

Jammer dat Unitas Netcare hom summier na ‘n staatshospitaal gestuur toe daar nie geld was nie – ten spyte van sy kritieke toestand – en toe ope arms ontvang by Milpark Netcare toe daar weer geld beskikbaar was. Nie juis menslik hierdie Netcare besigheid nie.

Elmarie ·

Boetman, Unitas het hom nie dadelik oor geplaas nie. Hulle het hom GRATIS behandel totdat daar ‘n bed by die staatshospitaal oop gegaan het.

hykie ·

Jy is ook onmenslik. As ek by jou besigheid instap en ‘n mandjie gratis begin inpak want ek kan nie kos koop nie, gaan dit werk? Gaan jy dit kan toelaat? ‘n Hospitaal is ‘n besigheid. Niks anders nie. En jou feite is nog krom ook! Hulle het hom ‘n hele ruk daar gehou – gratis.

Mariana ·

Ons dank Ons Hemelse Vader vir Sy genade en dat Hy almal se gebede gehoor het. Amen

Elsabe Augoustides ·

Ek ondersteun “Boetman” ten volle. Goor om ‘n krities-beseerde oor te plaas na ‘n Staatshospitaal, wetende dat hul brandeenheid nie eens funksioneer nie! Skande! Dankie aan almal wat fondse geskenk het. Fantastiese reaksie deur die gemeenskap. So moet ons bly saamstaan. Lekker gevoel om so ‘n verskil te maak. Mooi dag vir u almal. ENA

MH ·

Ek is bly dit gaan beter met hom, maar wil steeds graag weet hoekom hy nie in die skool was nie…

hykie. ·

MH – maar dit het mos net mooi boggerol met my of jou te doen nie of wat praat ek alles. Ons neuse is altyd in ander se sake. Daarom lyk dit nou al sood strandsmabrele. A nee a. Wonder jy maar lekker – dit het op die einde van die dag – net mooi nike met jou, die ander ou of sy vrou te doen nie. Bly die mannetjie herstel.

jaco ·

Skoolstandaarde is deesdae so laag dat dit ok is om n dag of 2 te mis. Almal slaag tog end vd jaar. Ek dink druip word net vir graad 9 en graad 12 toegelaat. Andersins is druip blykbaar ‘n “violation of human rights”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.