Goeie nuus: Charlie weer terug by die huis

Charlie Duvenhage. Foto: Verskaf

Charlie Duvenhage. Foto: Verskaf

ʼn Dankbare ma van Witbank in Mpumalanga is Donderdag, byna twee maande sedert haar 25-jarige seun in die Kameeldrift-omgewing oos van Pretoria verdwyn het, weer met hom herenig.

“Dit was twee maande van hel en onsekerheid. Ek het naderhand die ergste verwag. Ek kon nie behoorlik eet of slaap nie. Ek het gisteraand vir die eerste keer ordentlik geslaap,” het Amanda Duvenhage Vrydag aan Maroela Media gesê nadat Charles Nicolaas “Charlie” Duvenhage self by sy ouerhuis opgedaag het.

“Ek was histeries toe ek hom sien. Ek kon dit nie glo nie en het erg begin huil uit dankbaarheid. Hy was vuil, gehawend, maer en het nog dieselfde klere aangehad waarin hy die laaste keer gesien is.”

Sy het gesê sy het Charlie dadelik laat bad terwyl sy vir hom kos gemaak het. “Hy het gister meestal geslaap en is vandag baie beter,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Charlie woon saam met sy ouers op Witbank in Mpumalanga. Hy het ’n tweelingbroer en vier ander broers en susters.

Hy het op 7 Oktober saam met sy ouers van Witbank na Pretoria gery om sy suster se kinders terug te neem, nadat die kinders tydens die skoolvakansie by hulle gekuier het. Die suster woon op ʼn kleinhoewe in die Paardefontein-omgewing. Amanda se motor het onklaar geraak en hulle het die aand by Charlie se suster oornag.

Charlie het hom vermoedelik op 8 Oktober vir iemand vererg en wou moontlik om 17:30 van sy suster se kleinhoewe na Witbank ryloop. Hy het geen geld, beursie, identiteitsdokument, selfoon of ander besittings by hom gehad toe hy die laaste keer gesien is nie.

ʼn Vermistepersone-saak is by die Kameeldrift-polisie aanhangig gemaak, nadat hy nooit by die huis opgedaag het nie.

Bewerings word ondersoek dat Charlie die aand wat hy vermis geraak het, wel probeer het om na sy ouerhuis te ryloop. “Hy het gesê dat hy op die grondpaaie in die gebied verdwaal het. Hy ken nie die omgewing nie en dit was donker. Hy het op een of ander manier by ʼn hoofpad uitgekom en is daar glo deur die polisie in hegtenis geneem omdat hy op ʼn hoofpad geryloop het.”

Hy beweer hy is na ʼn polisiekantoor van ʼn informele nedersetting geneem en is daar aangehou. Hy het ná sy vrylating met landelike paaie probeer terugkeer na Witbank omdat hy nie weer op ʼn hoofpad wou ryloop nie.

“Hy is nog baie verward, maar ek het ʼn vriendin in die polisie wat my gaan help om vas te stel of dit waar is.”

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het Vrydag aan Maroela Media gesê Charlie se bewerings sal ondersoek word en is kommerwekkend as dit waar is.

“Ons sal agter die kap van die byl kom en daarvolgens optree. Al wat nou saak maak is dat hy veilig terug is by die huis. Sy ma was baie emosioneel toe sy hom gesien het en het ons dadelik in kennis gestel toe hy daar opgedaag het. Ons is saam met haar bly,” het sy gesê.

Rechner het almal bedank wat gehelp het om na hom te soek, selfs mense wat inligting oor hom op sosiale media gedeel het om bewusmaking te skep.

Maroela Media het die polisie vir kommentaar genader en wag vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Eish! ·

Iets se vir my die mannetjie praat die waarheid. Van die SAP verwag ek enigiets. Natuurlik weereens magsbeheptheid wat deesdae hooggety onder die ander in die land hooggety vier.

Eish! ·

Iets waaroor ek wonder. Hul se altyd tweelinge kan aanvoel as die ander iets oorkom, ens. Wonder of het sy broer iets gevoel. Sommer nou net gewonder. Het al baie interessante stories oor die konneksie tussen meerlinge gehoor.

Liesbet ·

Klink maar vir my soos die verlore seun wat tot sy sinne gekom het.

SNEL ·

Baie bly hy is veilig by die huis. Daai vreugdesvure kan seker ver gesien word. Ek kan dink dat sy ma hom nou lekker gaan bederf. Baie bly saam met die familie dat hy nou weer by die huis is.

Inge ·

Ek sou hom eers ‘n paar warm klappe gegee het! Vandag se dae doen jy nie so iets nie man, die arme ma. Moenie vir my se dat hy nie ‘n oproep kon maak van die polisie kantoor af nie, iets stink. Ek is bly hy is terug, maar hy moet mooi verstaan wat dit aan sy ma-hulle gedoen het en dat dit onaanvaarbaar is. Klein wetter.

My-se ·

Sjoe…as dit 2 weke verdwyn was, sou ek nog verstaan het, maar wie vat 2 maande om terug te kom in Witbank? Waarvan het hy gelewe? Ook nogsteeds bly hy is terug, maar iewers maak iets nie sin nie…

Griki ·

Ek sluk swaar aan hierdie storie. Hy’t hom “vermoedelik vir iemand vererg” – en vir twee maande weggeraak. Dan het hy ‘n groot probleem en kort hulp. Hy wou natuurlik die familie skrikmaak – erge manipulasie. En in 2 maande kon hy op geen manier met sy familie kontak maak nie – wie glo dit? Hoe dit ookal sy – hy het sielkundige hulp nodig en gou ook.

MM ·

Indien dit waar is dat die SAPD hom toe gesluit het omdat hy op die snelweg loop . . . . . . . . daar loop hordes mens daagliks op die snelweg! O ja maar ek het vergeet dit was mos ‘n blanke!

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Maroela kan julle vir ons lesers asb op hoogte hou wat die waarheid is agter hierdie storie ek self is baie niskirig . Hier is mense wat nou weer hulle uie storie opmaak . En as dit wel die geval was hoop ek daar is baie groot moeilikheid vir die SAP

Gideon ·

Ek glo die storie nie!! Die polisie sou beslis geweet het daar word gesoek na die man. Dit lyk vir my of die meeste nou misdade pleeg of wat ook al en dan skuil agter ons land se swak polisie diens of die vele moorde!! Hoop hy kry ‘n vreeslike boete of straf, vir dit wat hy sy familie deurgesit het!! Die mense moet ophou wolf-wolf skree, want nou gebeur dit dat ons later niks meer wil glo nie!!

MartieMaer ·

Ummmmmmm, iets is nie reg nie. Hoe verdwyn mens só lank? Die arme ma wat deur hel en terug is.

marianne ·

Welkom tuis Charlie!!!
Was jy my boetie het ek jou ‘n paar warm klappe gegee. Waarvan het jy gelewe? Waar het jy geslaap? Jy moet verskriklik stink en verwaardeloos wees…. Jou storie maak nie sin nie. Daar is BAIE boere in die omgewing. Waarom het jy nie vir hulp gaan aan klop nie… wat steek jy weg? Of wou jy jou familie laat lei? Kan jy so ongevoelig wees???? EK DANK GOD JY LEWE.

Akram ·

Genugtig. Mens loop 2 maande rond opsoek na die pad na Witbank? Wel ek is bly hy is lewend terug by die huis. Dit is egter skrikwekkend dat niemand hom gehelp het sedert hy vrygelaat is nie. Waar het ht geslaap en kos gekry? Moet se die storie klink darm dik vir n daaler, maar nouja, die waarheid sal seker uitkom. sterkte.

Gesiggie ·

Kan dit nie GLO…. Net gister wonder ek oor die Charlie, want nog niks weer gehoor van wat van hom geword het??? en nou vanoggend lees ek die berig…. Charlie is gevind…. So baie bly dat jy ok is?? Ek kan dink dat jou arm Ma so moes huil?? sy het deur Hel gegaan…. met die wete dat Lewe jy of nie??? Die vraag is?? Waar was jy al die tyd??? hoe kon jy jou Ma deur al die stres sit??? Ek stem saam sommigge mense… jy kort eintlik n goeie pakslae”’ Ek hoop van harte dat jy n les geleer het?? n mens VERDWYN?? nie net vir 2 maande?? As jy n probleem het… praat daaroor…. moet nie net die pad vat??? Welkom tuis””’

Anny Penny ·

Hoekom skryf mense so in hoofletters en klomp vraagtekens waar dit totaal nie sin maak nie. En daai busfark se spelling…!

jannie ·

Daar is ‘n slang in die gras. Loop weg omdat hy hom vererg het! Iets anders het gebeur???

Lindy ·

Hy is nou nog deurmekaar? Nee wat, dis dwelms se werk daai! Mamma, hou op hom hom te bad en vir hom kos te kook nadat hy jou so manipuleer, solank jy dit doen sal hy nooit regkom nie, eintlik klink dit al klaar vir my te laat. Ek hoop nie Charlie trou sommer vinnig nie, want daai arme vrou en kinders gaan swaarkry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.