Goeie nuus: Drie vas wat Limpopo-plase teister

Die gewonde verdagte wat Sondag aangekeer is. Foto: Die Spoorsnyers.

Die gewonde verdagte wat Sondag aangekeer is. Foto: Die Spoorsnyers.

Drie gesoekte vermeende misdadigers is oor die naweek in die Naboomspruit-omgewing in Limpopo aangekeer.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die polisie het Saterdag tydens patrollie drie verdagte mans langs die pad sien loop.

“Die beamptes het hulle herken as van die gebied se gesoekte huisbrekers wat glo deel is van ʼn bende,” het Otto gesê.

Die polisie het twee van die mans in hegtenis geneem en een kon daarin slaag om weg te hardloop.

Die verdagte het glo op ʼn plaaslike boer, Louis van der Westhuizen, se plaas gaan wegkruip, waar hy hom die volgende dag teen Van der Westhuizen, boere van die omgewing, die polisie en die Spoorsnyers, ʼn private veiligheidsmaatskappy, vasgeloop het.

Volgens Vossie Vosloo, woordvoerder van die Spoorsnyers, het die verdagte in ʼn gebou op die plaas weggekruip. Van der Westhuizen se huiswerker het dit agtergekom en hom Sondagoggend daarvan ingelig.

Van der Westhuizen het sy vuurwapen gekry, hulp ontbied en gaan ondersoek instel.

“By die gebou het die verdagte Van der Westhuizen oorval en ʼn gestoei het plaasgevind,” het Vosloo gesê. “In die proses het hy die vuurwapen verloor, maar dit teruggekry en ʼn skoot afgevuur. Die verdagte is gewond, het weggehardloop en is later deur boere van die omgewing aangekeer en aangehou.”

Volgens Vosloo kon die Spoorsnyers bepaal dat die verdagte een van ʼn bende is wat deur die polisie gesoek word. Die bende is aktief in die Naboomspruit- en Vaalwater-omgewing.

Otto het bevestig dat die verdagtes gesoekte huisbrekers van die omgewing is. Hulle sal na verwagting Dinsdag in die Naboomspruit-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jacques ·

Dankie vir die goeie nuus n slag net soos begin moed op gee oor poliesie dan gebeur dit.

Ria ·

Hulle sal seker ook borgtog kry en dan verdwyn. Kyk net na When Duty Calls en sien hoeveel smokkelaars wat op OR Tambo in hegtenis geneem word, kry borg en verdwyn dan.

anneline ·

Hulle dinsdag nag by ons plaas op Warmbad Noodhulp ingebreek. Dit lyk vir my die hele Limpopo het n groot problèem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.