Goeie nuus: Duitse toeriste kry beursie vinnig terug

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

ʼn 74-jarige toeris van Duitsland was verras toe sy beursie die volgende dag, nadat hy dit in Kaapstad in ʼn taxi verloor het, aan hom terugbesorg is.

Rudolf Lieberum, sy vrou en nog ʼn egpaar van Duitsland het Tafelberg besoek, en sy beursie het op pad terug na die hotel vermoedelik uit sy sak geval. Hy het dadelik al sy kredietkaarte gekanselleer toe hy ontdek hy het die beursie verloor, aangesien hy nie gedink het hy sou dit ooit weer sien nie.

Die taxibestuurder het egter onverwags op 31 Desember by die hotel opgedaag en die beursie aan Lieberum se vriend se vrou oorhandig.

Lieberum se vriend, dr. Thomas Noecker, het deur middel van ʼn tolk aan ANA gesê die taxibestuurder het tydens ontbyt opgedaag. “Hy het my vrou herken,” het Noecker gesê. “Ons het van al die misdaad in Suid-Afrika gehoor en nooit verwag om ons geld terug te kry nie.”

Lieberum het die R80 kontant, wat onaangeraak in die beursie gelaat is, aan die taxibestuurder oorhandig, en hy sou glo meer wou gee, “maar dit het alles so vinnig gebeur”.

Die twee egpare het op 27 Desember in Suid-Afrika aangeland en vertrek vandag [Sondag] op ʼn passasiersboot na Mauritius.

Noecker het gesê dit is die eerste keer in die land en hulle is verstom oor die skoonheid van Suid-Afrika. Hulle het Saterdagoggend tee gedrink by die Mount Nelson-hotel en dit was glo ʼn “fantastiese ervaring”.

Karin Muecke, van Ocean View Tours, het die goeie nuus op ʼn Facebook-blad vir toergidse, “Guides Unite”, gepubliseer. Sy het aan ANA gesê sy het saam met die twee paartjies deur die stad gereis en hulle die wynlande en Kaappunt gewys. Sy het gesê sy het al vantevore soortgelyke stories gehoor. “Daar is nog steeds goeie mense. Daar is nog steeds goeie Samaritane”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peet Schabort ·

Werklik ‘n ligpuntjie in donker afrika. Mag dit tot voordeel vir toerisme gebruik word.

Simon van Helvoirt ·

In november was ons op die tafelberg. Ons vriend het haar cellphone laat lig op die sink van die toilet daar.
Ons was al ver van die tafelberg weg toen ons die cellphone mis en besluit om terug te ry. Ons had min kanse om die duur iphone terug te kry. Mar daar was eerlijke mense wat die iphone het ingeleverd bij die receptie van die tafelberg.
Baie dankie vir die eerlijke vrouw wat dit gedoen het.
Baie dankie Suid Afrika dat julle ons elk keer so gastvry ontvang.
Ons hou van Suid Afrikaanse mense maak nie saak nie mar 99% van die mense is goede burgers, blank en swart
Groete Simon van Helvoirt

Giel ·

DIS hoe ons die RSA graag altyd wil sien!!

Dit sal darem lekker wees.

sarie van Heerden ·

Wonderlike nuus om te hoor van beursies wt teruggevind word maar dis ongelukkig nie die norm in Suid Afrika nie. SA inwoners is gewoond aan die GEWONE. Hulle besteel ons sonder enige gewetenswroeging en ek gaan beslis nie gerusgestel word deur een beursie wat teruggevind is nie. Hierdie is nie Japan of Ysland nie.

Ben ·

Mooi gedaan aan hierdie twee ordentlike mense! Maar wat van die oorblywende 49’000’998 oorblywendes? Sou hulle dieselfde gedoen het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.