Goeie nuus: Elizma Theron sing ʼn noot vir nood

Elizma Theron.

Elizma Theron.

Die sangeres Elizma Theron, wat November as haar welwillendheidsmaand aangekondig het, bied binnekort ʼn groot vertoning aan saam met Kurt Darren, Nicholis Louw en Pieter Koen vir liefdadigheid.

Elizma het vroeër vanjaar sosiale media gebruik om haar welwillendheidsprojek af te skop. Sy het gemeenskappe en persone op haar Facebook-blad genooi om haar te vertel van ʼn persoon of ʼn instansie se nood. “Ek het byna 2 000 e-posse gelees,” het sy gesê. “Dit was een van die moeilikste goed wat ek nog moes doen, want ek kon uiteindelik net ses kies.”

Elizma het Woensdag aan Maroela Media gesê: “Die doel agter welwillendheidsmaand is om al die geld wat deur  ʼn vertoning ingesamel word, aan ʼn spesifieke persoon of instansie te skenk.”

Sy het reeds ses vertonings aangebied en die geld onder andere aan ʼn ouetehuis, ʼn blinde seuntjie en twee kinders met kanker geskenk.

Nadat sy ook baie e-posse oor die nood in informele nedersettings ontvang het, het sy besluit om ʼn groot sewende vertoning aan te bied. Sangers soos Kurt Darren, Nicholis Louw, Pieter Koen, Pieter Smith, Willem Botha en Manie Jackson gaan saam met haar optree om mense se nood in plakkerskampe te verlig.

“Almal was so bereid en het met ʼn glimlag dadelik ingestem. Ek dink almal het ʼn behoefte om terug te gee. Ek is so dankbaar vir elkeen se bydrae,” het Elizma bygevoeg.

Die sewende vertoning vind Woensdag, 26 November op Hoërskool Wilgers se sportgronde in Pretoria plaas. Toegang beloop R50 per persoon.

Die gehoor word versoek om ook blikkieskos, komberse en klere na die vertoning te bring. Alles wat ingesamel word sal deur die nie-winsgewende organisasie, Doulos Gemeenskapsprojek, versprei word.

“Elke blikkie kos is ʼn vol magie en elke kombers is ʼn kind wat warm gaan slaap,” het sy gesê.

Die toegangsgelde sal aan Doulos Gemeenskapsprojek en Pretoria-Noord se Gracia Kinderhuis geskenk word.

Elizma beplan om welwillendheidsmaand ʼn jaarlikse instelling te maak.

Besoek Elizma se Facebook-blad vir meer inligting oor die projek, die instansies en persone wat deur die welwillendheidsmaand geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andries ·

Ek raak nou so gatvol vir hierdie afrikaanse sangers dat ek iets kan oorkom. As jy na n atvertensie kyk televisie aansit plakate kyk dan pronk hulle daar, en wie se skuld is dit, vervelige mense wat niks anders het om te doen as om hulle te bewonder. En verder lag al hierdie sangers al die pad bank toe.

Jan ·

Andries Volgens die berig is hierdie kunstenaar en andere bereid om hulle talente beskikbaar te stel ten bate van mense wat swaar kry. Kom ons loof hulle eerder daarvoor..

catryn ·

Is goed om advertensies van die sangers en akteurs te sien, hulle blink uit daarmee, en dis beter as die ander gemors wat soms uitgesaai word wat niks sin maak of ‘n verskil vir Afrikaans maak. Ten minste is dit advertensies in Afrikaans, deur Afrikaners en op ‘n Afrikaanse kanaal. Wees trots Afrikaans.

alet ·

Daar is niks lekkerder as om na afrikaanse musiek te luister nie die wat verveeld is daarmee luister nie daarna hulle forseer jou nie jy is net baie jaloers omdat jy dit nie kan doen nie.Andries luister na hiphop dis deker jou musiek

Helena ·

Soos ek verstaan het elke sent nog na die instansie of persoon gegaan wat Elizma gekies het! So…Andries…..wees dankbaar dat iemand iets probeer om ander te help. Jy het regtig Nie nodig om na afrikaanse musiek te luister nie! Ek dink jy moet maar liewer jou kommentaar vir jouself hou!

Madelein ·

Klink asof Andries met die verkeerde voet uit die bed geklim het of anders het hy die artikel met ‘n donker bril gelees. Baie mense gaan baat uit Elizma se goeie hart.

catryn ·

Dankie Elizma, en die ander sangers vir wat julle kinders beteken, julle maak ‘n verskil. God Bless.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.