Goeie nuus: Facebook-skets bring dalk liefde

Die potloodskets van Jozanne Maritz wat Pieter van der Merwe op Facebook geplaas het. Foto: Facebook

Die potloodskets van Jozanne Maritz wat Pieter van der Merwe op Facebook geplaas het. Foto: Facebook

Pieter van der Merwe (25), ʼn industriële ontwerper van Somerset-Wes, sal binnekort die meisie van sy drome op ʼn afspraak kan neem danksy ʼn potloodskets wat hy op sosiale media geplaas het.

Van der Merwe het ʼn ruk gelede op Jozanne Maritz (21) se aanlynprofiel afgekom deur die foto-deel toepassing Instagram. “Sy het ʼn paar van my foto’s gelike en dis hoe ek haar profiel gesien het,” het hy aan Maroela Media gesê. “Ek het op haar profiel ingegaan en na haar foto’s gekyk en my reaksie was dadelik ‘Wow! Hierdie meisie is pragtig!’”

Van der Merwe het ʼn boodskap aan Maritz, glo ’n derdejaarstudent in grafiese ontwerp, op Facebook gestuur, maar sy het nie terug geantwoord nie. “Toe besluit ek dat ek nou iets sal moet doen om hierdie meisie se aandag te trek,” het hy gesê.

Pieter van der Merwe. Foto: Facebook

Pieter van der Merwe. Foto: Facebook

Hy het ʼn potloodskets van Maritz geteken en dit Woensdag op Facebook gedeel met die woorde: “Ek hou van hierdie meisie. Baie. Maar sy weet nie dat ek van haar hou nie… Inteendeel, sy weet nie eers regtig wie ek is nie. So…ek het hierdie potloodskets vir haar geteken. Die rede waarom ek hierdie skets geteken het, is omdat ek hoop dat ek die geleentheid sal kry om dit vir haar as geskenk te gee en dalk, net dalk, die geleentheid sal kry om hierdie pragtige meisie op ʼn afspraak te neem.”

Meer as 1 300 mense het Van der Merwe se skets gedeel en dit was nie lank voor Maritz hom deur Facebook gekontak het nie. “Sy het net gesê die is skets regtig mooi en dat dit ʼn baie spesiale gebaar was,” het Van der Merwe gesê. “Daar is planne vir ʼn afspraak, dalk om ʼn koffie te gaan drink. Sy het klas in die middae, so ons sal kyk wanneer daar ʼn tydjie is. Maar ons gesels darem nou!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Bobbejaan agter die berg ·

En hier het ek nog altyd gedink dat sulke romantiese dinge net in die flieks gebeur!

Righard ·

Dit is regtig goed geteken. N romantiese ding om te doen. Was alles die moeite werd ou maat. Vat haar vir daai koffie, seker sy sal hou van jou.

pop ·

Pieter jy het talent met die potlood. Alles van die beste en ons wag in spanning vir die volgende hoofstuk.

Wally ·

Die potloodskets is mooi, maar ek dink die “regte” meisie sal “mooier as mooi wees!!”

Benito Odendal ·

Komaan girl gaan kry vir jou daai stukkie Vd Merwe daar annerkant die blou berge…..!!!

si ·

Dit is mos die tipe berigte wat ‘n glimlag op jou mond sit …. en glo my ‘ons almal’ kan doen met iets positiefs! Ek hoop regtig dat dinge sal uitwerk vir die tweetjies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.