Goeie nuus: Gesteelde motor na 22 jaar opgespoor

Die 1988-model Toyota Corolla 1.6 GL wat in 1993 gesteel is. Foto: Verskaf

Die 1988-model Toyota Corolla 1.6 GL wat in 1993 gesteel is. Foto: Verskaf

ʼn Sakeman van Pretoria was skoon uit die veld geslaan toe hy ʼn oproep van ʼn polisiebeampte kry wat hom inlig dat sy motor wat in 1993 gesteel is, opgespoor is.

Derick Goosen (44) was ʼn 23-jarige student toe sy pa vir hom die grys 1988-model Toyota Corolla 1.6 GL gekoop het. Die motor was nog op sy pa se naam toe dit een aand in 1993 by vriende se huis in die Pretoriase Moot gesteel is.

“Daar was nie versekering op die motor nie en dit was nog nie eers op my naam oorgedra nie. Ek het dit die volgende dag by die polisiekantoor gaan aanmeld, maar ek het nie gedink ek sal die motor ooit weer sien nie,” het hy gesê.

Drie weke gelede het hy onverwags ʼn oproep van ao. Kwakwa Ntokola van die Seshego-voertuigdiefstaleenheid gekry om te sê sy geliefde Toyota-karretjie is gevind en hy kan hom kom haal. “Ek kon dit nie glo nie! Ek het al heeltemal van daardie motor vergeet. En hier staan hy by die polisie se skutplek vir my en wag.”

Ntokola het aan Goosen vertel die motor is in November verlede jaar by ʼn padblokkade geskut omdat die enjinnommer afgekrap was. Die vrou wat die motor in daardie stadium “besit” het, was ʼn metropolisiebeampte wat met wettige dokumente kon bewys dat sy wel die motor regmatig gekoop het en sy was nie bewus die enjinnommer is afgekrap nie.

Derick Goosen (regs) saam met sy jarelange vriend, Raymond Oehley, wat ook die dag by was toe die motor gesteel is. Foto: Verskaf

Derick Goosen (regs) saam met sy jarelange vriend, Raymond Oehley, wat ook die dag by was toe die motor gesteel is. Foto: Verskaf

“Ongelukkig soos hierdie goed nou maar werk, moes die motor teruggaan na sy regmatige eienaar. So die vrou het eintlik baie verloor,” het Goosen gesê. Dit het Ntokola agt maande geneem om die eienaar van die motor op te spoor, maar hy kon uiteindelik vasstel dat die motor in 1993 in Pretoria as gesteel aangemeld is.

“Die polisie het spesiale tegnieke om nog steeds motors te kan identifiseer, al is die enjinnommer afgevyl,” het Goosen gesê. “Die ware lof kom Ntokola toe wat alles in sy vermoë gedoen het om die regmatige eienaar op te spoor. ʼn Mens hoor dikwels soveel negatiewe goed van die polisie, maar hier is ʼn voorbeeld van iemand wat die ekstra myl geloop het om sy werk te doen. As daar net meer ouens soos hy in die polisie was! Hy is waarlik iemand na wie die jonger polisiebeamptes kan opkyk.”

Goosen het gesê alhoewel hy nie juis iemand is wat sentimenteel raak oor goed nie, gaan hy beslis die motor hou. “Hy kort net ʼn goeie was, maar alles aan hom werk nog perfek. Hy het selfs nuwe bande op. Ek kan nou weer lekker met hom rondry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Toyota Ondersteuner ·

Kan ons nie daardie ondersoeker NET Toyotas laat soek nie? Ek soek ook nog na my Toyota wat gesteel is!!

Amanda ·

Baie geluk! Dalk moet ek die polisieman kontak – ‘n soortgelyke voertuig van ons is ook oor die 20 jaar gesteel maar het nog niks gehoor nie. Wel done Ntokola, daar is nog polisies wat omgee!

Jo-nilee ·

Ekt ook so Toyota gehad wat gesteel is, sal ek nou uit my vel spring as ek myne kan terug kry. Dankie aan polisiebeampte wat soveel gedoen het om die eiebaar op te spoor.Myne is al omtrent 16 jaar terug gesteel.

Willie ·

GIVE THAT POLICEMAN A BELLS!!!!!! A bottle BELLS!!!! Well done Ntokola!!!!

Winston ·

Puik werk. Wens daar was meer sulke beamptes in die polisie. Hy het vir seker die ekstra myle geloop. Knap gedaan!!

Wynand van Romburgh ·

Ek stem saam, goeie werk deur polisiebampte, stem okk saam met Piet: hoe is deur die toets en dan koop ‘n Metropolisiebeampte die voertuig. Wat weet hierdie bampte van motorvoertuie af. Is dit nie deel van hul pligte om voertuie se enjinnommers na te gaan nie?

Pendoring ·

R350-00 in die regte hand en jy kan ‘n lisensie kry vir enige voertuig. Al is hy ook ‘n wrak in ‘n skrootwerf.

magda ·

wil hy nie my toyota ook soek nie? presies dieselfde bpz 808gp

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.