Derick Goosen (44) was ʼn 23-jarige student toe sy pa vir hom die grys 1988-model Toyota Corolla 1.6 GL gekoop het. Die motor was nog op sy pa se naam toe dit een aand in 1993 by vriende se huis in die Pretoriase Moot gesteel is.
“Daar was nie versekering op die motor nie en dit was nog nie eers op my naam oorgedra nie. Ek het dit die volgende dag by die polisiekantoor gaan aanmeld, maar ek het nie gedink ek sal die motor ooit weer sien nie,” het hy gesê.
Drie weke gelede het hy onverwags ʼn oproep van ao. Kwakwa Ntokola van die Seshego-voertuigdiefstaleenheid gekry om te sê sy geliefde Toyota-karretjie is gevind en hy kan hom kom haal. “Ek kon dit nie glo nie! Ek het al heeltemal van daardie motor vergeet. En hier staan hy by die polisie se skutplek vir my en wag.”
Ntokola het aan Goosen vertel die motor is in November verlede jaar by ʼn padblokkade geskut omdat die enjinnommer afgekrap was. Die vrou wat die motor in daardie stadium “besit” het, was ʼn metropolisiebeampte wat met wettige dokumente kon bewys dat sy wel die motor regmatig gekoop het en sy was nie bewus die enjinnommer is afgekrap nie.

Derick Goosen (regs) saam met sy jarelange vriend, Raymond Oehley, wat ook die dag by was toe die motor gesteel is. Foto: Verskaf
“Die polisie het spesiale tegnieke om nog steeds motors te kan identifiseer, al is die enjinnommer afgevyl,” het Goosen gesê. “Die ware lof kom Ntokola toe wat alles in sy vermoë gedoen het om die regmatige eienaar op te spoor. ʼn Mens hoor dikwels soveel negatiewe goed van die polisie, maar hier is ʼn voorbeeld van iemand wat die ekstra myl geloop het om sy werk te doen. As daar net meer ouens soos hy in die polisie was! Hy is waarlik iemand na wie die jonger polisiebeamptes kan opkyk.”
Goosen het gesê alhoewel hy nie juis iemand is wat sentimenteel raak oor goed nie, gaan hy beslis die motor hou. “Hy kort net ʼn goeie was, maar alles aan hom werk nog perfek. Hy het selfs nuwe bande op. Ek kan nou weer lekker met hom rondry.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Kan ons nie daardie ondersoeker NET Toyotas laat soek nie? Ek soek ook nog na my Toyota wat gesteel is!!
Baie geluk! Dalk moet ek die polisieman kontak – ‘n soortgelyke voertuig van ons is ook oor die 20 jaar gesteel maar het nog niks gehoor nie. Wel done Ntokola, daar is nog polisies wat omgee!
GIVE THAT POLICEMAN A BELLS!!!!!! A bottle BELLS!!!! Well done Ntokola!!!!
Puik werk. Wens daar was meer sulke beamptes in die polisie. Hy het vir seker die ekstra myle geloop. Knap gedaan!!
Hoe is hy deur die toets met n afgeskuurde engine no