Foto’s: Goeie nuus: ‘Graffie’ kry haar dag

Nala, oftewel Graffie, saam met haar nuwe 'ma' Nicola Stander. Foto: verskaf

Nala, oftewel Graffie, saam met haar nuwe ‘ma’ Nicola Stander. Foto: verskaf

Meer foto’s volg onderaan die berig.

Elke hond kry sy ‘goeie’ dag. Dít is ook die geval vir Graffie, die rondloperbrak wie se werpsel kleintjies verlede week uit ʼn vervalle graf in Standerton in Mpumalanga gered is.

Graffie, wat nou Nala heet, is oor die naweek na haar nuwe huis in Johannesburg geneem en word beskryf as ʼn “bondeltjie vreugde”.

Nala se nuwe eienaars is Louis (77) en Nicola (69) Stander van Linden.

“My pa se staffordshire-terriër is onlangs op 15 dood en ek het vir hulle ʼn goeie waghond gesoek toe ek Graffie se storie op Maroela Media gelees het,” het die egpaar se dogter, Cornel, Woensdag gesê.

Sy het gesê Graffie is na Nala, die wyfieleeukarater in die rolprent The Lion King, vernoem omdat sy sulke “sagte bruin oë” het.

“Nala het Saterdag die heel pad van Standerton na Johannesburg op my ma se skoot gesit. Sy het dadelik my ma aangeneem en is baie beskermend teenoor haar. Haar stertjie kon nie ophou swaai nie toe sy by haar nuwe huis aangekom het en haar ander dieremaatjies ontmoet het. Sy het dadelik aangepas.”

Die egpaar het Nala veearts toe gevat vir al haar inspuitings en die veearts is baie tevrede met haar toestand.

“Sy is regtig baie dierbaar, slim en luister as ʼn mens met haar praat. Nala het letterlik van graf tot “Grafin” gegaan tussen Dinsdag en Saterdag laas week, want in my ouerhuis word die honde soos koninklikes behandel. Daar is altyd ʼn skoot om op te sit, hulle kry elke middag biltong en word toegegooi in die nag.”

Cornel is seker dat Nala bedoel was om by haar ouers uit te kom. “Dit is baie interessant. Ons van is Stander en Nala het die graf langs Adrian Hendrik Stander, na wie Standerton vernoem is, gekies om haar kleintjies in te kry,” het sy verduidelik.

Maroela Media het verlede Donderdag berig Elsie Foley, ʼn diereliefhebber van Standerton, het verlede Dinsdag self moue opgerol om Nala se kroos te red nadat sy haar werpsel in ʼn ingevalle graf in die dorp se Boere-oorlog-begraafplaas gekry het. Die werpsel het vinnig huise gekry en ʼn nuwe huis is vir Nala gesoek.

Lees die vorige stories oor die ‘Grafsteenbrakkies’ op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Eileen ·

Aai, hoe swem my oë nou. Wat ‘n pragtige storie! As al die ander weggooi honde kinders ook almal sulke goeie huise kan kry

Leonie ·

aaahhh dis so oulik. So bly sy het so goeie huis gekry. Maak mens se hart so bly!!

Elsie Foley ·

Dankie dat julle vir “Nala” Graffie-Stander aangeneem het en al die pad van Johannesburg gery het om haar te kom haal. Sy lyk so gelukkig! Dit was uit en uit die moeite werd om op die grafte te gaan grou om haar en haar pups ‘n beter lewe te kon gee. Dankie Maroela vir goeie nuus!!

Louis Stander ·

Sy leer baie vinnig. Met die eerste biltongsessie was sy nie seker wat dit was nie – nou staan sy al regop vir haar deel. Sy gaan volgende Vrydag vir haar “groot operasie”. Staan ook haar plek vol tussen die ander honde en pappegaaie, waarvoor sy baie versigtig is.

Eliza-beth ·

Respek vir alle mense wat vir diere omgee. Sy gaan julle tonne plesier verskaf – wag maar!

Griki ·

Julle, dis die mooiste storie! Baie dankie, Elsie, dat jy haar en haar babas gered het. Baie dankie, Louis en Nicola dat julle haar ‘n nuwe en wonderlike lewe bied. God seën julle almal!

Theresa ·

Dis darem nou bitter lekker om so storie te lees. Mag julle geseën word met jare se liefde vir en van Nala. Sy verdien hierdie groot bederf en emmers vol liefde deur en deur.

Juan ·

Dankie aan Elsie en AB vir wat julle vir die gemeenskap en Standerton se naam beteken – goeie mense bestaan nog!

VerVanRyn ·

Dis ‘n pragtige storie om op so ‘n koue oggend te lees, dit maak die hart sommer warm.

Johan ·

Pragtig, Pragtig, PRAGTIG. Julle sal geseën word met haar in julle huis, sy SAL julle terugbetaal eendag .

Blaffie ·

Is so dankbaar…….. Nala het regtig waar sulke sagte ogies. Baie dankie almal wat betrokke was en is.

Kobus Nieman ·

Gee vir Louis en Nicola ‘n Bells. Baie dankie dat julle hierdie hondjie aangeneem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.